Troopie vs Landie


Picture53

Troopie vs Landie

Dr. Livingstone se lorrie, I presume?

Op soek na die ideale wa waarin jy Afrika kan platry? Een wat meer tuis lyk in die Serengeti as tussen Sandton se glaspaleise? Jaco Kirsten het die nuwe Land Cruiser Wagon (die Troopie) gaan vergelyk met die ikoniese Land Rover Defender.

WegRy is die eerste plaaslike publikasie om die 78-reeks Toyota Wagon, of Troop Carrier soos die Aussies hom noem, deur sy passies te sit. Wel, dis nie asof daar ’n stormloop van tydskrifte by Toyota se hoofkantoor was om ’n toetsmodel in die hande te kry nie, want dis ’n doelgerigte ekspedisievoertuig dié. Een wat nie sommer ’n skoonheidskompetisie sal wen nie.

Laat ons eerlik wees: Min van sy waarskynlike eienaars gaan daarin belangstel om hom met 35 duim-wiele te pimp en ’n neonkleur te verf om bo-oor duine te bokspring. Nee, sy modifikasies gaan praktiese goed soos ’n bosbreker, laaistelsel, dubbelbattery- of sonkragstelsel en dalk ’n yskas en herwinningstoerusting wees.

Maar hoe goed gaan hy hom van sy taak kwyt? Daar was net een manier om vas te stel. Ons moes hom meet teen die ander doelgerige ekspedisievoertuig in die mark, die Land Rover Defender Puma.

Streng gesproke moes ons die 110 Hardtop-stasiewa gebruik het, maar ons kon nêrens een in die hande kry nie. Die 110-stasiewa is meganies identies, daarom sou ’n vergelyking nie heeltemal onsinnig wees nie. Die ander opsie was om die Mercedes-Benz G300 CDI deel van die toets te maak, maar omdat daar geen toetsmodelle beskikbaar was nie, kon ons hom net tydens sy bekendstelling ry.

Wat is die resep?

Die Troopie is meganies basies identies aan die 76-reeks-stasiewa en gebruik dieselfde 1HZ-dieselenjin. Al wat eintlik anders is, is dat hy ’n langer wielbasis het, ’n hoër dak het en net twee deure. Om agterin te klim, moet een voorsitplek vorentoe geskuif word.

Troopie vs Landie

’n Mens vermoed dis ’n uitstekende opsie vir ’n egpaar wie se kinders al uit die huis is, wat die agterste bank wil uithaal om ’n groot laairuim te ontsluit, maar dit gaan lol as jy ’n klein rugbyspannetjie deur die voordeure moet in- en uitlaai.

In ander markte maak dié uitleg sin, want daar is daar twee banke aan weerskante van die laairuim waarop ’n hele paar mense kan sit – vandaar die naam “Troop Carrier”. Dis egter soortgelyk aan die Defender 110 Hardtop se tweedeur-uitleg en maak dus sin vir sekere aanwendings.

Troopie vs Landie

Wat is onder die enjinkap?

Die Troopie se normaal-geaspireerde 4,2 liter-dieselenjin is dieselfde 1HZ-eenheid wat in die 76-stasiewa en 79-bakkie gebruik word en ontwikkel ’n middelmatige 96 kW en 285 Nm. Sommige sal vra of dit nie ’n bietjie min is nie. Ons het die Troopie twee dae in Gauteng in spitsverkeer en op die snelweë bestuur en dit het nooit gevoel of jy ’n mobiele verkeerseiland is nie.

Toegegee, die enjin is op sy gelukkigste teen 110 km/h, maar jy kan redelik maklik teen 120 km/h ry. Die enjin se geraas laat jou net soms wonder hoekom hy nie ’n sesde rat het nie. En niemand sal natuurlik kla as Toyota die 4.5 liter-V8-turbodiesel wat in Australië gebruik word, as opsie beskikbaar stel nie.

Die Defender gebruik ’n 2,4 liter-turbodiesel wat oorspronklik uit die Ford Transit-paneelwa kom en is seker so betroubaar as wat ’n kommersiële turbodiesel moontlik kan wees. Hy ontwikkel weliswaar net 90 kW, maar sy wringkrag van 360 Nm vergoed hiervoor, veral op Gauteng se hoogte bo seespieël waar ’n turbo-aangejaagde enjin minder krag verloor as ’n gewone enjin.

Die Defender se sesgang-ratkas is ’n pluspunt gemeet aan die Cruiser se vyf, hoewel die Defender se ratskakelings baie stadiger en meer berekend gedoen moet word. In die Defender het jy gevoel jy ry in ’n “trok”. Defender-eienaars sal jou sommer gou vertel dis nie noodwendig ’n slegte gevoel nie – dis net anders.

Hoe vergelyk die binneruime?

Die Troopie is nogal Spartaans. En dis ligtelik gestel. Aldri van Jaarsveld, wat saam met my die voertuie getoets het, het verbaas opgemerk: “Hei, dit lyk of hulle vergeet het om ’n cup holder in te sit en dit agterna vinnig iewers vasgeskroef het!”

Troopie vs Landie

As jy die Troopie as funksioneel beskryf, gaan jy nogal ekonomies met die waarheid om. Hy’s kaalgestroop, met nie eens ’n radio nie. Die metaalsparre aan die dak se binnekant is oop en bloot en jy voel of jy in ’n bakkie uit die vroeë 90’s sit. Totdat jy onthou dat die 70-reeks inderdaad so oud is.

Jy moet nog die ruit met ’n handslinger afdraai, in plaas van om net ’n knoppie te druk. Is dit ter wille van betroubaarheid? Wel, hoe baie hoor jy van elektriese ruite wat nie meer werk nie?

Selfs die plastiekmat agterin die Cruiser is grys en goedkoop. In ’n ryding wat R450 800 kos?

Aan die ander kant is die afwerking van die Defender nogal luuks. Genugtig, ek het nooit gedink dat ek dit van ’n Defender sou sê nie. Die Defender het darem ook elektriese ruite – en ’n radio/CD-speler (al sou jy vir R1000 beter klank by Casoojee’s kan optel). En dít teen ’n prys van R406 995.

Troopie vs Landie

Die enigste ding waarmee die Troopie die Defender binnelangs klop, is ergonomie. Jy sal nooit regtig gemaklik agter die stuur van ’n Defender kan sit nie. Wel, ék kan nie. Defender-eienaars sweer hoog en laag dis nie so erg nie, maar om in die Troopie te sit, verg geen aanpassing van jou kant af nie. Behalwe natuurlik aan die dikte van jou beursie.

Hoe verskil hulle 4×4-vermoëns?

Albei voertuie het vaste aste voor en agter, sowel as hoë- en laestrekratte. Maar dis waar die ooreenkomste ophou. Die Toyota het kronkelvere voor en bladvere agter. Die Landie het kronkelvere voor én agter en dit gee hom beter wielartikulasie en die vermoë om klipperige terrein redelik maklik kaf te draf.

Die Toyota – wat deeltydse vierwielaandrywing het – het meganiese ewenaarslotte voor en agter en dit bly die beste stelsel vir ernstige veldrytoestande. Veral as jy bladvere agter het, wat beteken dat een wiel soms in die lug hang as jy oor rowwe terrein ry.

Troopie vs Landie

Die Landie het heeltydse vierwielaandrywing en in die veld kan jy die middelste ewenaar sluit. Hierna neem elektroniese vastrapbeheer oor om te keer dat die wiele tol en seker te maak dat krag ook na die wiele gaan wat wel greep het.

Ek is nie ’n groot aanhanger van elektroniese vastrapstelsels nie, want dit veroorsaak te veel wieltol. Maar die Defender se kronkelvere beteken dat hy baie goeie wielartikulasie het en dit dus min gebeur dat sy wiele in die lug hang en die elektronika hoef in te gryp.

Die Defender se elektronika beteken ook dat jy oor tegniese terrein die versneller kan los en die voertuig dan vanself die toere hoog genoeg sal hou dat die voertuig nie vrek nie. Dit stel hom in staat om in laestrek oor uitdagende hindernisse te luier sodat jy nie heeltyd hoef te konsentreer om hom nie te laat vrek nie.

Die Cruiser het nie so iets nie, maar li
nks van die stuurkolom is daar ’n smoorklep wat as handversneller gebruik kan word sodat jy ook die toere hoog genoeg kan hou om oor klippe te luier.

As jy hindernisse met die Cruiser teëkom, sluit jy eenvoudig die ewenaars en laat waai. Met die Landie hoef jy dit nie eers te doen nie, want as ’n wiel greep verloor, neem die elektronika oor.

Albei stelsels het voor en nadele. Meganiese ewenaarslotte is myns insiens die beste stelsel en die meeste ernstige veldryvoertuie volg hierdie resep. Die voordeel is dat die beste vastrap gee met die minste wieltol en dat foutiewe sensors of elektronika nooit ’n probleem kan veroorsaak nie. Die nadeel is dat jy dit moet aan- en afskakel. Probeer om met ’n gesluite voorste ewenaar te draai en kyk wat gebeur.

Die Defender se stelsel beteken noodwendig meer wieltol (min in die praktyk weens sy uitstekende wielartikulasie) en ’n verandering in jou rystyl as jy nog nie aan elektroniese vastrapbeheer gewoond is nie: Jy moet die versneller egalig hou en wanneer wieltol bespeur word, moet jy nie die versneller los soos met ’n gewone 4×4 nie, aangesien dit sy blikbrein se berekeninge deurmekaar gooi. Met ’n konstante versneller gebeur die dinge vanself. Dit vat ’n klein kopskuif, maar dit werk uitstekend.

Troopie vs Landie

Hoe ry hulle?

Op die teer was die Cruiser verbasend goed. Onthou, ons praat nie van ’n BMW M3 hier nie. Maar teen 120 km/h op die snelweg het jy nooit gevoel of jy besig is om in ’n sterk wind op ’n kabel tussen twee wolkekrabbers te loop nie. Die Defender, daarenteen, het redelike bakwieg bó 100km/h. Die sagte kronkelvere (goed in die veld, nie so goed op die snelweg nie) is hiervoor te blameer.

Troopie vs Landie

In die stad was die Troopie baie makliker om te bestuur, deels danksy sy gemaklike ergonomie en deels omdat die bak minder wieg. As jy na die statistieke kyk, is die Defender sowat 150 kg ligter as die Troopie, maar dit het nooit so gevoel nie. Nou nie dat ons een van hulle as rats sou beskryf nie. Parkeerterreine was ’n uitdaging en ’n driepuntdraai het maklik in ’n vyfpuntdraai ontaard.

As jy die langpad vat, het die Cruiser ’n troefkaart in die vorm van twee 90 liter-brandstoftenks, teenoor die Defender se enkele 75 liter-tenk. Dit beteken dat die Toyota 105 liter méér diesel kan saamdra en in afgeleë plekke maak dit ’n reusagtige verskil.

As jy my wil dwing om een van dié twee rygoed te kies om ’n dag lank teerpad te ry, sal die Troopie my eerste keuse wees. Op grondpaaie ook. Dis egter wanneer jy rówwe plekke wil ry, dat ek plek-plek die Defender sal verkies, veral waar die klippe so groot is dat die bobbejane kieries nodig het.

Troopie vs Landie

Nog ’n mening

Aldri van Jaarsveld is ’n Defender-eienaar wat daarvan hou om Suider-Afrika plat te ry. Hy’s ’n Kapenaar wat in die reklamebedryf in Gauteng werk.

Troopie vs Landie

Troopie: Die Troopie lyk in die stad so koddig soos ’n koelboks in ’n vrieskas. Hy’t géén fieterjasies nie. Die Troopie gaan geen landspoedrekord oortref nie, maar jy voel jy gaan uitkom waarheen jy ook al besluit om te reis. Hy’s solied, rof en ’n tawwe Tienie. Die bladvere agter is maar hard, maar dit beteken dat baanwisselings met min bakrol gedoen kan word. Die Troopie versnel maar stadig, maar as hy eers aan die gang gekom het, byt hy vas.

Ek hou van die ekstra brandstoftenk, die meganiese ewenaarslotte en die “Pure-plaas”-gevoel. Dis egter moeilik om by die agtersitplekke uit te kom en ek wonder oor die standaard-Mariebeskuitjie-wiele en sy stywe prys…

Defender: Die Landie se kenmerkende profiel is legendaries en prakties. In die stad was die Puma ’n plesier om te bestuur, veral noudat hy ’n sesspoed-ratkas het. Die Landie het lekker gewieg tydens baanwisselings – danksy sy kronkelveer-suspensie. Hy’t genoeg krag en wringkrag onder sy enjinkap en kom tot sy reg in ruwe terrein. Die res van die tyd is die rit relatief gemaklik.

Ek het gehou van die ABS-remme, die nuwe binneruim, die verbeterde ventilasiestelsel, sesspoed-ratkas en genoeg woema teen alle enjinsnelhede. Maar jy kan steeds die pad sien deur gapings in die deurpanele en ek is nie mal oor sy elektroniese vastrapbeheer nie – meganiese ewenaarslotte voor en agter sou beter gewees het.

Gevolgtrekking:

Die Troopie is meganies ’n puik langafstandtoervoertuig. Maar ek wonder of die R470 600 (dis R20 000 ekstra) van die 76-stasiewa nie meer sin maak nie, veral omdat jy twee ekstra deure saamkry en die res van sy meganika identies aan die Troopie s’n is. Dan kyk jy na die Defender 110 Stasiewa se R406 995 en jy wonder of die Cruiser (76 of 78) régtig R63 605 beter is as die Defender.

Sleutelsyfers:

Troopie vs Landie

WegRy sê:

Die Troopie is gemik op diegene wat regtig wil wegvlug van alles – maar dis te betwyfel of hy dit beter kan doen as die 76-reeks-stasiewa.

Troopie vs Landie