1988 Land Rover Defender 110


DO45_WR27_Langafstandklub-1

1988 Land Rover Defender 110 3.5 V8

As ‘n voertuig al dubbel soveel kilometers as die afsnypunt vir die Langafstandklub afgelê het, hoort hy eintlik in ‘n afsonderlike hoekie van kanniedoods.

Sean de Nobrega se 1988 Land Rover Defender 110 3.5 V8

Op die afstandmeter?
264 620 km

Hoeveel eienaars?
Ek is die vyfde of sesde eienaar. Ek het die voertuig sedert 2000, en het meer as die helfte van die kilometers opgesit.

Wat het dit gekos?
R42 500 (’n weggeeprys!)

Hoekom ’n Land Rover?
My Nissan Hardbody het vir die soveelste keer in die sand in Bainskloof vasgesit. ’n Gawe ou van KwaZulu-Natal het my in sy Series 3 Landie uitgetrek. Dit was al wat nodig was om my te oortuig.

Het dit ’n bynaam?

Ingwelandy, omdat dit oral kan gaan.

Waar was jy al daarmee?

Die Sederberge, Kgalagadi, Krugerwildtuin, Botswana, Baviaanskloof, Addo, Golden Gate, die Bergkwagga Nasionale Park, Karoo, Knysna, Plettenbergbaai, die Bontebok-natuurreservaat…

Jou droombestemming?

Om die migrasie van die wild in Kenia/Tanzanië te sien, of Etosha, wat ’n bietjie nader aan die huis is.

Herstelwerk?
Die aansitter en ratkas is in 2000 vervang. In 2007 het ek ’n fratsongeluk gehad en die voertuig gerol. Dit het toe van ’n beige driedeur-hardtop verander in ’n groen vyfdeurstasiewa.

Modifikasies?
Dit het ’n R380-ratkas (’n Land Rover-ratkas met verbeterde hoofaslaer-rangskikkings), snorkel, yskas, laaistelsel, langafstandtenks (vir brandstof en water), ’n dubbelbatterystelsel, dakrak, daktent, hoogligdomkrag, bosafweerkabels, omsetter, CD-speler met USB- en iPod-punte, 27 en 29 MHz-radio’s, wenas op die bosbreker, ses kolligte, afdak en ’n werklig. Die deurrame en brandskot (fire wall) is gegalvaniseer. Ek het elkeen van die modifikasies goed deurdink – elkeen is nodig vir ons behoeftes en elkeen werk uitstekend.

Waarvan hou jy?
Ek kon dit aanpas na die behoeftes van ons gesin en nou is dit ideaal vir ons. Dan praat ek nie eens van wat die Land Rover-gemeenskap vir ons beteken nie.

En waarvan nie?
Sy’s ’n bietjie dors.

Wat sal jy wil verander?
Ek sal die 3,5 liter-V8 met die nuwe drukbuis- 2,4 liter-Puma-diesel vervang.

Beste herinnering?
Elke trip is ’n avontuur, en as ek net begin praat daarvan dat ons weggaan, is my twee kinders buite hulleself van opgewondenheid.

Sal jy deur Afrika ry?
Jy vra nog.

Wat pak jy vir ’n lang tog?
Kameratoerusting. Die res is reeds gepak.

As dit ’n bekende was?
Merlin die towenaar (die Landie kan toertjies doen).

Met R10 000…
Sal ek petrol ingooi vir die reis na Kenia en Tanzanië.