Knysnabos | Die bos se binnekamer


Picture31

Wou jy nog altyd die skim-olifante, reuse-geelhoutbome en geil mosse en varings van die Knysnabos van naderby bekyk, maar jy hou nie van bergfietsry of stap nie? Vir die eerste keer kan jy nou dié Dalene Matthee-wêreld met jou 4×4 verken. Barnie Louw het gaan kyk.

Nes jy het ek al baie deur die Knysnabos gery. Of liewer, so het ek gedink … al daai bome weerskante van die N2-snelweg tussen Knysna en Plettenbergbaai is mos “die Bos”, of hoe? Toe nie.

Elke keer dat ek op die snel-weg deurgejaag het, het ek gewonder hoe dit moet voel om binne-in daai geilgroen ondeurdringbaarheid weerskante van die pad te wees. Is dit stil daar binne? En koel? Hoe ruik dit? Sal ek weer daar uitkom as ek dit op my eie daar waag?

Toe bel die ouens van Bhejane 4×4 Adventures en sê Sanparke het hulle toestemming gegee om begeleide dagtoere deur die allerheiligste van dié mistieke reënwoudwêreld aan te bied, en wil ek saamgaan?

Wat ’n vraag! Hier was my kans om die inheemse woud eerstehands te ervaar, ’n geleentheid om die leefwêreld van die karakters in Kringe in ’n bos, Fiela se kind en Moerbeibos in te dring.

Nou sou ek kon sien hoe lyk die voetpaaie en sleeppaaie waar die grootvoete die houtkappers voorgelê het; ek sou kon staan op die Bos-eilande waar die houtkappers gewoon het. Ek sou die Bos kon sien, hoor, ruik én vóél, nes hulle dit langer as twee eeue gedoen het.

Hier was ook my kans om te probeer sin maak uit die oënskynlike chaos van diversiteit van hierdie inheemse ekologiese wonderwêreld van reusegeelhoute, stinkhoute, varings, blouduikers, bosbokke en loeries.

Maar eintlik wou ek net gaan omdat dit lekker geklink het (en omdat ek dalk ’n Knysna-olifant sou kon sien). Wil jy nie ook nie?

Ry kringe deur die bos

Ja, ek weet daar’s mense wat vir hulle vriende vertel hulle is “deur die Bos” nadat hulle Kom-se-Pad (tussen Knysna en die Diepwalle-bosboustasie) of die Knysna-Uniondale-pad (R339) gery het. Maar dis ’n afskeep-ervaring – amper soos om jou kleinniggie te soen.

Of jy kan altyd die kinders na die Tuin van Eden neem, vir ’n uur of wat daar langs die N2 ronddwaal en jou dan verbeel jy was in die Bos. Maar dis soos om diere in ’n dieretuin te gaan kyk; dis die Bos lite. (Boonop is die agtergrond-musiek tot dié tweedehandse boservaring lorries en karre wat op die N2 verbysjoesj.)

Nee, jy wil die ware Jakob ervaar: jy wil in stilte luister na die geroep van voëls, die geklik van paddas, die geskarrel van knaagdiere, die sagte voetval van kleinwild, die gekabbel van stroompies.

Jy wil jou kop in verwondering agteroor gooi en opkyk na waar net die hoogste bome se toppe in die sonlig is, terwyl die jongeres mekaar jaag om ook daar uit te kom. Jy wil afkyk na die dik, veelkleurige blaretapyt onder jou voete, die delikate groen en oranje mos in elke skaduwee.

Dít kan jy ongelukkig net doen as jy in die Bos se binnekamer toegelaat word, soos hier in die Diepwalle-bos naby die Tuin van Eden, waarin ons so pas afgedraai het.

In teorie klink ons roete deur die Bos nie juis eksoties nie. Dis immers dieselfde 24 km lange Petrus-se-Brand-bosboupad tussen die Tuin van Eden en die Diepwalle-bosboustasie wat bergfietsryers al jare lank trap.

Maar dié roete, wat deur honderde vierkante kilometer inheemse woud en verby en deur plekke met name soos Sanddriffies, Kruisfonteinbos, Stinkhoutdraai, Kan se Rug, Hoenderspoor en Langvleibos kronkel, is nou die eerste keer vir die 4×4-publiek oop. Die enigste ander “verkeer” wat jy moontlik hier kan teëkom, is ’n bosbouvoertuig en ’n bergfiets of twee.

Namate ons dieper die Bos ingery het, het ek begin besef: vergeet van “eksoties”, dis ’n voorreg om die Bos op hierdie manier te leer ken.

Die eerste paar kilometer van die roete is wat jy ook op Kom-se-Pad of die R339 kan verwag: ’n gewone openbare grondpad deur die woud.

In die verbygaan is jou eerste kennismaking met ’n vertikale tapyt van inheemse bome: geelhout, stinkhout, kalandergeelhout, witels, ysterhout, boekenhout, essenhout, bosvlier, kershout …

Maar dan kom jy by ’n paadjie wat wegswenk, dieper die Bos in. ’n Hek sorg dat voertuie nie hier kan in nie, maar Frank Carlisle, Bhejane se eienaar, het ’n sleutel vir die groot slotte wat die dik ketting om die hekpaal sluit.

Skielik weet jy sommer: nou’s jy in die dikbos. Welkom in die sprokieswêreld van kinderboeke, die plek waar feëtjies en elfies net agter die varings se groot blare speel, van trolle, hekse en towenaars wat jou uit die onderbos dophou. Die plek waar broodkrummels jou nie veel gaan help nie.

Bl 2: Harry Potter se …

Harry Potter se blyplek?

Op pad deur die Kleineiland-vallei na die Kleineilandrivier raak die Bos geleidelik al digter, die paadjie al nouer. Plek-plek staan die bome so ruig dat selfs ’n supermodel sal sukkel om dwarsgedraai tussen hulle deur te loop. Oral tussen die bome staan die geilste varings.

As jy jou arm by die venster uitsteek, kan jy amper aan bome soos die Kaapse swarthout, klipels, vaderlandsrooihout, keurboom, kwar en witstinkhout raak.

Onder in die vallei, op ’n laagwaterbruggie, is ons eerste bene-rek-plek.

Stroomop is daar lekker swemgate waar jy in die amper onnatuurlik helder water kan afkoel (dis so helder omdat die rivier in die Bos ontstaan en nie in fynbosdele wat baie Kaapse strome sy kenmerkende swart kleur gee nie).

Proe gerus van die neutvars water in die stroompie – vergeet van bottelwater, dís mos hoe water moet proe.

As jy jou verbeelding ’n bietjie gebruik, kan jy sien hoe jy hier iewers langs die stroom ’n houthut bou en jou dae in vrede slyt. As Harry Potter Suid-Afrikaans was, sou die Hogwarts-skool hier naby gewees het.

Hier in die stilte langs die stroompie is ook die eerste keer dat jy werklik van die sowat 40 spesies van die tipiese bosvoëls hoor: die piet-my-vrou se eiesoortige roep, die duif se gekoer, en die loerie se kok-kok-kok.

Omdat die Bos so dig is, sukkel jy om voëls te sien, maar glo my, hulle is daar: Knysna-loeries, bosloeries, vleiloeries, olyflysters, lawaaimakerjanfrederiks … noem maar op.

Diere het ons nog niks gesien nie, maar Frank verduidelik dat die meeste van die Bos se viervoetige inwoners maar skugter is: ystervark, rooikat, blouduiker, bosbok, bosvark, luiperd, en natuurlik olifante.

Miskien is dit al Dalene Matthee se stories wat my kop gevat het, want skielik begin verwag ek ook om ’n grootvoet om elke draai te sien. Helaas nie.

Ná ’n kort, steil klim anderkant die stroompie knip-knip ek my oë, want skielik is ons uit die koel skemerwêreld van die diep Bos en op sonnige Kleineiland, ’n oopte tussen die boomwêreld wat met fynbos begroei is. (Kleineiland is een van sowat 30 sulke “eilande” wat oor die Knysnabos versprei is.)

Hier stop ons en kyk rond: die Bos en die kusplato lê voor ons oop na die suide, Plettenbergbaai lê daar ver oos, die Outeniqua- en Tsitsikammaberge na die noorde, en doer ver in die noordooste kan ons net-net ’n stukkie van die Prins Alfred-pas uitmaak.

“http://driveout.co.za/sites/default/files/user11/DO22_WR4_Knysna%20Forest%20%288%29.jpg” width=”465″ height=”696″ class=”mceItem” />

Het iemand dit gehoor?

Maar dit was nie die uitsig wat die Bos se bekende houtkappers, wat oor twee eeue heen groot gate uit die woud gekap het, op dié eilande laat wortel skiet het nie.

Frank vertel hulle was vrekbang dat die olifante hulle op die smal bospaadjies sou trap, en tweedens was dit darem veel droër op die eilande as in die klam, donker woud.

Dit was ’n harde lewe: Van die eilande af het die houtkappers die Bos ingevaar om die een woud-aristokraat na die ander te laat kantel. En as die ou grotes eers gelê het, moes dit in kleiner, hanteerbare stukke gekap en gesaag word voor dit verder tot wavragte vol hout verwerk is.

Dan moes die hout weer uit die Bos na die houtkopers in Knysna gekry word: eers met sleeppaaie uit die Bos, en dan met die hardepad dorp toe.

Die energie vir dié kromrug-handearbeid het hulle gekry uit ’n dieet van hoofsaaklik kleinwild wat hulle in strikke gevang het, veral bloubokkies (blouduiker), pampoen, patat, brood en koffie. Op feesdae het “karrie” (heuningbier) darem vir ’n bietjie plesier gesorg.

Behalwe karrie af en toe was die plesierige tye maar skaars: die meeste houtkappers was ongeletterd, die klammigheid het siektes aangehelp (tot 1 200 mm reën val jaarliks in die natter bergdele), die olifante het hulle en hul groentetuine verniel, die houtkopers het hulle ingeloop, en af en toe het hulle kinders in die Bos weggeraak.

Die laaste sowat 260 houtkappers is in 1939 uit die Bos verwyder. (Toe ’n wet hulle in 1913 verplig het om hulle te laat registreer, is 1 260 houtkappers aangeteken.)

Van Kleineiland af raak die paadjie deur die Bos nog smaller, nog meer kronkelend, en die varings wil-wil die pad toegroei. Bobbejaantoue en grysbaard-ligene hang van die hoogste geelhoute.

Wie weet, miskien is dit hier waar die filosofiese vraag “As ’n boom in die bos val en niemand hoor dit nie, het dit ’n geluid gemaak?” sy oorsprong het.

As jy so om jou kyk, is dit maklik om die stories te glo van zombies wat glo in die Bos ronddwaal, reuse-witleeus wat in die middel van die Bos bly en hekse wat glo dan en wan in die Bos saamtrek.

Uiteindelik begin verstaan ek wat Dalene Matthee bedoel het met: “… deur diep ravyne nader aan die berge tot by onaangeraakte woud waar die bylval nooit gehoor is nie en waar die skemerte jou omhul, selfs in daglig. Hier trap jy versigtig en praat jy met ’n gedempte stem.”

Bl 3: Jy weet nie wat…

Jy weet nie wat die bos sê nie

Onder by die Piet Brandrivier stop ons weer, en klim uit in die effense opening in die dikbos.

Dis ’n wêreld wat ruik na modder en ou blare. Hier verwag jy dat Adam en Eva enige oomblik agter ’n bosvaring sal uitstap, al kouend aan ’n appel.

Hier verwag jy as jy lank genoeg stilsit, sal ’n jong bos-bokkie of blouduiker uit die kreupelhout verskyn, sy nat neus teen jou arm druk, en omrol sodat jy sy maag kan krap.

Maar alles in die Bos is nie idillies nie. Net ’n entjie anderkant die stroompie loop ’n sleeppad die bosse in. Aan die einde van dié pad het boswerkers verlede jaar ’n Bell JetRanger-helikopter en sy insittendes gekry wat sewe jaar gelede verdwyn het.

Ian McFarlane, ’n sakeman van Pretoria, sy vrou, Frances, en sy pa, Boyd, het in 1999 op ’n vlug tussen Plettenbergbaai en Wildernis verdwyn toe hulle hier oor die Bos gevlieg het.

Destyds het ’n weke lange lugsoektog niks opgelewer nie. Dit was asof die Bos hulle in-gesluk het. Hulle vertel die Bos is so dig dat as die werkers wat die helikopter gevind het, vyf meter weerskante daarvan verbygestap het, sou hulle dit nie gesien het nie …

Dit laat ’n mens ook onwille-keurig dink die ander bekende Bos-verdwyning, die student Rosalind Ballingall, wat in 1969 verdwyn het uit ’n huis wat sy met vriende gedeel het naby die Tuin van Eden, ’n dag nadat sy daar aangekom het.

Geen teken van haar is nog gevind nie.

Daar is ook geen teken oor dat hier, net sowat ’n kilometer of wat verder, eens op ’n tyd ’n treinspoor was nie. Maar hier waar ons nou ry, het die Koffiepot, die Bos se bekende smal-spoortrein, tussen 1907 tot 1949 geloop om hout van Ysterhoutbrug tot in Knysna (35 km verder) te kry.

Kort hierna is ons op die R339-hardepad, en nog voor ons oë aan die helder sonlig gewoond is, sit ons op Diepwalle vir middagete aan in die teekamer daar.

Op pad terug Knysna toe, via Kom-se-Pad, stop ons op Gouna, die agtergrond vir Moerbeibos. Hier in die Gounabos is ’n paar Italiaanse families in 1881 afgelaai om ’n sybedryf te begin, maar dinge het nie lekker uitgewerk nie.

Hulle moerbeibome wou nie lekker groei nie, en die strawwe boswinter, reën en koorssiekte het gou sy tol geëis. Al wat nog oor is van dié Italiaanse hoekie van die Bos is ’n kerkie in ’n oopte en herinneringe. Ja, die Bos gee, en die Bos neem.

En toe, skielik, is alles verby. Op die snelweg op pad huis toe maal Dalene Matthee se beskrywing van die Bos deur my kop: “Die bos is soos iemand wat jy kan hoor praat, maar wie se taal jy nie verstaan nie. Jy hoor hom, jy sien hom, jy raak hom aan, maar jy weet nie wat hy sê nie …” Sela.


Die grootvoete

Die Bos is net so bekend vir sy olifante as vir sy bome. Hier’s ’n kort geskiedenisles:

  • 1782 Die Franse naturalis François le Valliant skiet ’n olifant op sy reis deur die gebied en sy kneg berei vir hom ’n olifantpoot. Dis glo baie lekker.
  • 1867 Koningin Victoria se seun prins Alfred skiet ’n olifant tydens sy besoek aan Knysna. (Die Prins Alfredpas is later na hom genoem.)
  • 1876 Na raming is daar nog net sowat 500 olifante in die Bos oor.
  • 1908 Die Kaapse regering plaas ’n verbod op die skiet van Knysna-olifante.
  • 1920 Majoor PJ Pretorius, ’n professionele jagter, kry toestemming om een Knysnaolifantbul te skiet vir die Suid-Afrikaanse Museum. Hy skiet toe sommer vyf olifante, waarvan twee bulle was. Kort tevore het hy 120 olifante naby Addo geskiet.
  • 1969 ’n Olifantsensus kry net tien Knysna-olifante.
  • 1981 ’n Olifantwerkgroep word gestig om die afname in olifantgetalle te ondersoek.
  • 1994 Drie olifante van die Krugerwildtuin word in die Knysnabos vrygelaat. Een vrek weens ’n stresverwante siekte, en drie jaar later word die ander twee na ’n wild-reservaat verplaas.
  • 2000 Ná baie jare wat daar gedink is daar is net een Knysna-olifant oor, word ’n tweede een gesien.
  • 2001 ’n Derde Knysna-olifant word gesien.

 


Bl 4: Vinnige feite

Ek wil ook gaan!

Het ek ’n 4×4 nodig?
Nee – die Secrets of the Knysna Forest-toer is ’n maklike, nie-tegniese 4×4-roete, dus sal jy in jou 4×2-bakkie ook die reis kan voltooi. Maar as jy met jou Ford Granada opdaag, sal jy saam met Bhejane se gidsvoertuig moet ry.

Waar begin die toer?
Die Tuin van Eden langs die N2 (sowat 10 km vanaf Knysna en sowat 12 km vanaf Plettenbergbaai)

<
strong>Hoe lank is dit?
Die toer begin vroeg-oggend by die Tuin van Eden en eindig die middag by die historiese kerkmuseum op Gouna, net bokant Knysna.

Wat kos dit?
As jy jou eie voertuig het: R350 p.p. (kinders onder 16 betaal halfprys); as jy saam met die gidsvoertuig ry: R400 p.p. (kinders onder 16 betaal halfprys). Die prys sluit in: toegangsgeld tot die Tuin van Eden, park-toegangsgeld, gids en gidsvoertuig, middagete en roetegeld.

Kontak:
Tel 044 535 9257;
Webwww.bhejane.com;
E-pos info@bhejane.com

Waar kan ek bly?

  • In die Tree-Top Forest Chalet in die Harkervillebos (tussen Knysna en Plettenbergbaai) kan tot ses mense bly in twee en suite-dubbelkamers.
    Koste: Tussen R725 en R945 (afhangende van die seisoen) vir die eerste twee mense per nag, en daarna tussen R150 en R180 p.p.
    Kontak: Sanparke se streekkantoor by 044 302 5606
  • In die Diepwalle Gastehuis kan tot vyf mense bly.
    Koste: Tussen R200 en R300 (afhangende van die seisoen) vir die eerste twee mense per nag, en daarna tussen R50 en R75 p.p.
    Kontak: Sanparke se streekkantoor by 044 302 5606,
    of die Diepwalle-bosboustasie by 044 382 9762/3
  • Die tien nuwe Diepwalle-kampeerdekke kan tot vier mense elk akkommodeer.
    Koste: R100 per dek (tente of matrasse kan gehuur word vir R150)
    Kontak: Sanparke se streekkantoor by 044 302 5606,
    of die Diepwalle-bosboustasie by 044 382 9762/3

* Bronne: The Knysna and Tsitsikamma Forests: Their history, ecology and management deur Izak van der Merwe, Hoofdirektoraat: Bosbou, Departement van Waterwese en Bosbou, 2002. Fiela se kind (Tafelberg, 1984), Kringe in ’n bos (Tafelberg, 1985), Moerbeibos (Tafelberg, 1987) deur Dalene Matthee.


WR_KNYSNABOS.pdf 870.7 KB