Visrivier-canyon werklik asemrowend

Die Visrivier-canyon is die tweede grootste canyon in die wêreld. MARISSA BAARD het dit saam met ’n groep toeriste gaan verken.

Een van die hoogtepunte van ons besoek vroeër vanjaar aan Namibië was ’n uitstappie na die Visrivier-canyon. Dit is die tweede grootste canyon ter wêreld. Algeheel is dit ongeveer 160 km lank. Die Visrivier is ook die langste rivier in dié land.

Ons pak die uitstappie aan in ’n Land Cruiser, wat my kollega terstond die “safari-trokkie” doop. Ook in die geselskap is drie Duitse toeriste wat in Namibië kom jag het. Hulle sê hulle wil veral graag vandag koedoes sien.

Die roete na die canyon is lank – ons ry ongeveer twee ure oor verskillende plase. Op pad is springbokke, steenbokkies, volstruise, voëls en akkedisse te sien. Tot die Duitsers se spyt sien ons net een keer doer in die verte ’n koedoe draf. Danksy die reën wat die afgelope tyd in die streek geval het, is daar heelwat plantjies te sien, onder meer die melkbos. ’n Besonderse (en glo ook skaars) gesig is die hoodia-plant wat met donkerpienk blomme pryk. Hierdie plant word tradisioneel vir medisinale gebruik aangewend, onder meer as eetlusdemper. Kokerbome kom ook in hierdie gebied voor.

By ’n hooggeleë uitkykpunt hou ons stil en kyk af na die canyon. Dit mag dalk afgesaag klink, maar woorde ontbreek ’n mens werklik wanneer jy met hierdie ontsagwekkende toneel gekonfronteer word – ’n mens is letterlik stomgeslaan. Die Visrivier loop ook sterk danksy die reën.

Hierna pak ons ’n paadjie aan wat ons tot heel onder in die can­yon sal neem. Dit is maar steil en klipperig, en toe ons ná ’n paar benoude oomblikke onder stilhou, roep een van die Duitse toeriste grappenderwys uit: “Dankie tog ons leef!”. Vir iemand wat nog nooit voorheen met ’n viertrekvoertuig in die veld gery het nie, was dit beslis ’n ervaring.

Op pad terug na die gastehuis lyk die reën in die verte soos breë blou strepe wat van die wolke na die horison loop. Amper weer by die gastehuis sak ’n reënbui op ons uit – met die druppels wat naaldskerp op die vel voel. Dit is nog een van die vele dinge wat ek van die dag sal onthou, en iets wat ek gedink het ek beslis nie in Namibië sal beleef nie. 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association