Pin It
print

Bou ‘n laaistelsel vir ‘n Prado


DO39_WR21_DIY_1

Bou ‘n laaistelsel vir ‘n Prado

DO39 WR21 DIY 3 Bou n laaistelsel vir n Prado

Terwyl hy beplan het aan ’n reis na die noorde van Uganda, het Richard Chapman agtergekom hy het ’n laaistelsel nodig vir sy Toyota Prado. Toe besluit hy om ‘n laaistelsel vir ‘n Prado van hout te bou en spaar toe sommer R9 000 in die proses. Ná 17 000 km – van Gauteng na Murchison in Uganda en terug – werk sy laaistelsel nog klopdisselboom.

Waaruit bestaan die stelsel?
Dit het ’n raamwerk met ’n sluitbare laai wat in die middel verdeel word en twee sykompartemente. Ek het Superwood gebruik en dis sowat 1 m lank, 1,5 m breed en 30 cm hoog.

Hoe is die stelsel aanmekaar gesit?
Die laai gly op sterk Furnlock-glyspore. Die sykompartemente se deksels maak boontoe oop met skarniere om meer bêreplek te benut. As die agterste sitplekke platgeslaan is, is dit een groot, plat ruimte waarop jy ’n klomp goed kan pak.

Hoeveel het dit gekos om te bou en hoe lank het dit gevat?
Die materiaal het sowat R1 500 gekos, en dit het ’n week geneem om te bou.

Het jy die metings metodies gedoen of het jy dit uit die vuis uit begin maak?
Ek het met ’n maatband begin meet en toe stukke van die raam begin sny soos ek gewerk het. Agterna beskou, sou ek baie vinniger gewerk het as ek dit meer metodies ontwerp en gemeet het. Ek moes ’n paar keer na die hardewarewinkel ry.

Wat het jy nodig vir die projek?
Superwood-panele (2 cm dik), Furnlock-glyspore, mat, matgom, houtskroewe, boute, wassers, moere, staal-L-steunarms, plastieklaaihandvatsels, ’n laaislot en Velcro-kussinkies.

Watter gereedskap het jy gebruik?
’n Maatband, elektriese saag, boor, hamer, skroewedraaier, verstelbare moersleutel, metaalliniaal, gomverspreider, kartonsnyer, ’n paar skroefklampe en ’n potlood.

Hoe het jy dit gemaak?
Nadat ek die afmetings geneem het, het ek die raam en laai laat uitsny en self aanmekaar gesit. Toe het ek die glyspore aan die raam vasgebout en die hele stelsel met mat bedek. Laastens het ek die raam in die voertuig vasgesit en die laai op die glystawe vasgebout.

DO39 WR21 DIY 1 Bou n laaistelsel vir n Prado

Hoe het jy dit in die laairuimte vasgemaak?
Ek het Velcro-stroke op die vloer van die raam gesit sodat dit aan die Prado se matvloer kan vassit. Ons het die raam ook met kabelstroppe (cable ties) aan die metaalvloerboute vasgetrek. Dit het sedertdien nog nie ’n millimeter geskuif nie.

Het jy wenke oor hoe die proses vereenvoudig kan word?
Ontwerp en meet alles vooraf klaar. Sodoende spaar jy tyd en jy sal ook nie soveel keer na die hardewarewinkel hoef te ry nie.

Jy sê in party opsigte is jou laaistelsel beter as van die kommersiële produkte. Hoe het jy daarop verbeter?
Kommersiële laaistelsels is uitstekend, maar as jy jou eie stelsel bou, kan jy die ontwerp presies aanpas by jou voertuig se afmetings en al die hoekies en gaatjies behoorlik benut.
Jy’t ook meer keuses van materiaal as met ’n generiese produk, wat gewoonlik bestaan uit ’n metaalraam met aluminium. Superwood is byvoorbeeld sterk en veerkragtig, en is baie ligter as metaal.
Die stelsel is pasgemaak vir my Prado en die besparing van R9 000 is natuurlik glad nie te versmaai nie.

DO39 WR21 DIY 2 Bou n laaistelsel vir n Prado

Is jy ’n gesoute selfdoen-man?
Om die waarheid te sê, ek is nie veel werd nie. Ek het heelwat uit die proses geleer, maar op ’n vaardigheidskaal van 1-10 is ek waarskynlik ’n 2.

Wat dink jou vriende hiervan?
’n Paar ou hande was al beïndruk met dié laaie. Hulle het selfs al gevra vir bewyse dat ek dit self gemaak het.