Selfdoen | Bou ’n netjiese boswa

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Op die bladvere van ’n Mini en met Toyota-vellings het Ben Swart sy eie boswaentjie begin bou. Min mense kan glo die Bush Pillow 2008, soos hy hom noem, is sy eie handewerk.  

Jare lank het Ben en Mariette Swart van Brackenfell met ’n daktent gery en gekamp waar hulle ook al wou. Maar toe ’n pienkvoet haar opwagting maak, het hulle meer pakplek nodig gehad.

Ben het al die beskikbare boswaentjies goed bekyk en uiteindelik besluit nie een het alles wat hulle nodig het nie. Boonop was hulle te duur.

Hierdie polisieman is heel behendig met staalwerk en het self die bul by die horings gepak. Toe hy eers ’n plan geteken en aan die werk gespring het, was daar geen keer nie.

Die boks van die sleepwa is 900 mm hoog, en dis op die vloer van 2mm dik staalplaat vasgesweis. Die bokant van die boks is versterk sodat ’n daktent daarop aangebring kon word.

Aan die een kant van die waentjie is ’n kombuis, pakplek en plek vir ’n yskas op ’n glyraam, en aan die ander kant is ’n groot pakruimte, met onder meer plek vir ligte groenterakke wat as klererakke dien as hulle toer.

Agterin die waentjie is ’n laai met vier kompartemente. Aanvanklik sou die Swart-gesin vier ammokiste daarin gepak het, maar mettertyd het hulle besef die kompartemente werk goed sonder die kiste, sonder die moeite met die kiste se deksels.

Ben en Mariette is albei baie tevrede met die boswaentjie en trots daarop, en wil niks verander nie. Dit het met die tent ingesluit R25 000 gekos.

Waaruit bestaan die waentjie?

Die onderstel en raam is van staal. Die waentjie rus op bladvere, soos dié wat die nuwe Mini’s gebruik, wat ek van Burnco gekry het. Die vellings is van ’n Hilux. Ek het ’n spanwiel (jockey wheel) met ’n opblaasband gebruik.

KMG Stainless Steel het die geriffelde aluminiumplaat vir die deure gebuig. Die deurknippe en ligte is van MacNoltons in Parow. Die laai wat agterin is, het R&D Offroad gemaak. Bo-op die waentjie het ek ’n Howling Moon-daktent gemonteer.

Wat was die grootste uitdaging?

Om die kombuis uit te lê sodat alles inpas, was beslis ’n groot uitdaging. Die plasing van die as was ook ’n tameletjie, en ek het die raad van my vriend Freddie van Dorp daarvoor ingeroep.

Wat het jy gedoen wat anders is?

Al die deure bestaan uit ’n binneste en ’n buitenste deel wat aan mekaar vasgeheg is. Altwee dele se randte het ’n 12 mm-“lippie” reg rondom. Dié twee dele pas dan inmekaar en word met klinknaels vasgemaak sodat die deur hol aan die binnekant is.

Watter reaksie kry jy?

Oral waar ons kamp, wil mense sien hoe dit werk, en almal is baie verbaas om te hoor ons het dit self gebou. Daar het selfs al ’n skare by ’n kampterrein op ons toegesak om die waentjie te bekyk.

Stap-vir-stap-foto's

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die onderstel is van 40 mm x 60 mm-staalpyp gemaak wat 2 mm dik is. Die as en bladvere kan 1600 kg dra, maar die waentjie sonder sy tent weeg skaars 420 kg. Jy sal dus baie moet laai om die waentjie te oorlaai. 

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die boks van die sleepwa is gemaak van 40 mm x 20 mm-staalpyp wat 1,6 mm dik is. Dis 900 mm hoog. Die vloer van die sleepwa is van 2 mm-staalplaat waarop die boks vasgesweis het. Die bokant van boks is versterk sodat die tent daarop vasgebout kon word.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die raam van die sleepwa, sowel as die voorste paneel en modderskermpanele, is met Hammerite-metaalverf (Bronze) gespuitverf. Die onderstel is gegalvaniseer.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die agterdeur is versterk en swaardiensskarniere is aangesit om die gewig van ’n noodwiel te kan dra. Die ligte voldoen aan al die wettige vereistes en die waentjie is met vlieënde vaandels deur die padwaardigheidstoets.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die regterkant van die sleepwa het groentemandjies om klere in te bêre. Die mandjies weeg omtrent niks en is baie doeltreffend. Die plek links van die rakke is vir badkamerbenodigdhede.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die kombuiskant van die sleepwa het ’n vlekvryestaal-werkoppervlak. Ben se vrou het al die benodighede vir kombuis gegee en hy het die kombuis daarvolgens ontwerp. Die kombuis is van aluminium en 6 mm-laaghout gemaak. Dis met aluminiumhoekyster en klinknaels aan mekaar geheg. Die yskas is langs die kombuis op ’n glyrak.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die sleepwa werk van 12V-elektrisiteit, wat van die battery in die neuskas af kom. As die Swart-gesin kamp waar elektrisiteit is, word die battery herlaai met ’n herlaaier, wat ook in die neuskas saam met die battery gebêre word.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die laai agterin die boswa het vier kompartemente. Bo dié laai is ’n gaping waar die tafel inskuif en tussen die boonste twee bokse bêre Ben die kampstoele.

Selfdoen | Bou 'n netjiese boswa

Die bokant van die sleepwa is versterk en 'n Howling Moon-daktent is daarop gemonteer. Die hele projek, met die tent ingesluit, het die Swart-gesin minder as R25 000 gekos.


Kommentare

Skitterend. As ek na die totale prys kyk dan beteken dit die boswa op sy eie het jou omtrent R13 000 gekos. Wys net wat gedoen kan word. Waar kom die vervaardigers aan R35 000 plus vir 'n basiese boswa?

Groete en geniet.

Alan

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association