
Jy’t pas ’n GPS gekoop, maar eers moet jy ’n paar dinge doen voor jy dit in die boendoes met jou nuwe speelding kan waag, sê Jaco Kirsten*.
Goed, die plan was om gou Makro toe te ry om ’n paar spykers te koop. Maar toe jy weer sien, het jy “per ongeluk” ’n GPS gekoop.
Die doel van hierdie artikel is nie om wenke te gee oor hoe jy hierdie nuus aan jou wederhelf gaan oordra nie. Maar wel om jou touwys te maak oor ’n paar belangrike stappe wat jy moet volg sodat jy jou GPS met vrug kan gebruik.
Net voor ons wegspring … Jy sal sien dat ons aanwysings spesifiek op Garmin-produkte gerig is. Nee, Garmin gee nie elke maand vir my ’n kas 10-jaar-KWV om sy produkte te bemark nie – dis die enigste fabrikaat wat sogenaamde veldry-GPS’e vervaardig, m.a.w. ’n GPS wat jou kan lei op daai kronkelpaaie waar jy die vlug-sout byderhand moet hou.
Terloops, ter wille van akkuraatheid gaan ons baie Engelse begrippe gebruik, aangesien dit die begrippe en bevele op jou GPS en die gepaardgaande rekenaarprogramme is.
Goed, hier gaan ons:
STAP 1: Registreer eers jou GPS
Nadat jy seker gemaak het die battery van jou nuwe GPS is gelaai, gaan sit by jou rekenaar, kry ’n internetverbinding, gaan na www.garmap.co.za en registreer jou GPS.
Hoekom? Want nou is jou GPS op jou naam geregistreer en sal jy gereeld in kennis gestel word van nuwe kaartweergawes.
Boonop kan jy gratis hersienings van sogenaamde points of interest (oftewel POI) kry. Dít sluit waardevolle inligting oor bv. tolhekke en -geld, en selfs snelstrikke in.
STAP 2: Hou die bedryfstelsel bygewerk
Nes ’n rekenaar ’n bedryfstelsel of firmware het (bv. Windows), het jou GPS ook ’n bedryfstelsel.
Daar word gereeld nuwe weergawes hiervoor verskaf wat jy gratis by www.garmap.co.za of www.garmin.com kan aflaai. By albei kan jy na Downloads gaan en dan na Webupdater. Laai laasgenoemde af en installeer dit op jou rekenaar.
STAP 3: Koppel jou GPS aan jou rekenaar
Neem die USB-kabel wat saam met jou GPS gekom het, en koppel die GPS aan jou rekenaar.
WENK:
Indien jou GPS nie so ’n kabel het nie, moenie sommer een gaan koop nie. Kyk eers of die USB-kabel van jou digitale kamera nie pas nie – heelwat kamerakabels pas perfek.
As jou GPS nie vanself aanskakel nie (die meeste nuwe modelle werk so), moet jy dit nou aanskakel. Wees ’n bietjie geduldig, want jou rekenaar moet eers die GPS as ’n eksterne geheue “herken” en die regte sagteware daarvan aflaai.
Daarna maak jy die program Webupdater op jou rekenaar oop en volg die aanwysings op die skerm. Die jongste firmware word nou op jou GPS afgelaai.
Onthou, jou “nuwe” GPS het dalk al vir sewe maande in ’n boks gelê voor jy dit gekoop het, dus is dit waarskynlik nodig om dit by te werk.
Baie belangrik: Indien jou internetverbinding tydens dié stap verbreek word, moet jy van voor af begin om die firmware af te laai.
Van die bygewerkte inligting sluit in verbeterings aan die Bluetooth-stelsel en selfs nuwe Afrikaanse woorde, aangesien die gebruikstaal van sommige GPS’e na Afrikaans oorgeskakel kan word.
Hierna moet jy jou GPS ontkoppel sodat hy self die nuwe data wat daarheen oorgedra is, kan installeer. Maak net seker al die nodige data is eers na jou GPS oorgedra voordat jy dit ontkoppel.
STAP 4: Laai jou kaarte af
Onthou dat die kaarte van party GPS’e, soos die Nüvi- en Zumo-reeks, reeds op hul SD-geheuekaarte gelaai is as jy hulle koop.
Maar as jy van plan is om ook ander kaarte (byvoorbeeld Tracks4Africa of topografiese kaarte) op jou GPS af te laai, moet jy seker maak dat jy met die koopslag ook ’n Garmap-CD aanskaf.
Sodoende kan jy die Map-source-program – wat nodig is om bykomende kaarte op jou GPS af te laai – op jou rekenaar aflaai. Die meer buitelug-georiënteerde GPS’e (soos die 60-, 76- en 276C-reeks) word altyd met só ’n CD verkoop.
Druk nou die CD met jou kaart in die rekenaar en volg die aanwysings om die kaart af te laai en te ontsluit (unlock). (Dit sal in ’n stadium nodig wees om jou GPS weer aan jou rekenaar te koppel, want elke GPS-kaart word met ’n spesifieke GPS-reeksnommer verbind.)
Wanneer jy jou sagteware op www.garmap.co.za geregisteer het, kan jy agterna altyd die unlock codes daar aanvra – iets wat nodig is as jy later ’n nuwe rekenaar aanskaf.
WENK:
As jy hier registeer, skep vir jou ’n internet-e-pos-adres soos g-mail of hotmail en moenie jou e-pos-adres by die werk daarvoor gebruik nie. As jy van werk verander, sal hulle die unlock codes outomaties na ’n e-pos-adres stuur wat nie meer aan jou behoort nie …
Bl 2: STAP 5-7
STAP 5: Speel met die knoppies
Goed, nou kan jy met jou GPS begin vroetel. Nie alle Garmins se knoppe werk presies dieselfde nie, hoewel die nuwes met die raakskerms redelik eenvormig is.
Gaan eers na Settings (party ouer modelle soos die 276C gebruik Setup), maar albei se ikoon is van ’n klein moersleutel (of spanner in goeie Afrikaans).
Kaarte.
Hier kan jy kies hoe jy jou kaart wil verstel – met noord altyd bó of dat dit gedraai is in die rigting waarin jy ry.
Voorkeure verskil, maar wanneer die kaart gedraai is in die rigting waarin jy ry, maak dit navigasie makliker.
Hierna kies jy watter kaart jy wil gebruik. Hoewel dit teoreties moontlik is om al die kaarte gelyk op jou GPS te “kies”, moet jy dit nie doen nie, want dit sal jou GPS verwar en veroorsaak dat jy baie kaartdetail kan verloor. Onthou dus om altyd net een kaart op ’n slag te kies.
Wat is “WAAS”?
Dis belangrik om na System te gaan en die “WAAS/EGNOS”-opsie af te skakel, aangesien dit ’n satellietstelsel is wat nog nie in Suid-Afrika werk nie.
Stel die horlosie.
Daarna kan jy die GPS se taal en tydsone kies. Op sommige GPS’e is Suid-Afrika se tydsone nie beskikbaar nie – kies dan Egipte.
Kaartdatum.
Nee, dis nie ’n kalender nie. Map Datum verwys na die spesifieke stelsel waarvolgens die wêreldkaart in blokke ingedeel is. As jy die verkeerde Map Datum kies, sal jou koördinate (jou ligging, uitgedruk in grade) dus heeltemal verkeerd wees. Met ander woorde, jy sal dink jy’s op pad Henties toe, maar eintlik ry jy Caprivi toe. Kies slegs die “WGS 84”-opsie.
Koördinate.
Dié onderwerp is dikwels ’n warm gesprekspunt onder buitelugmense wat pas ’n GPS aangeskaf het. Onder ervare mense is dit nie meer ’n kwessie nie – hulle gebruik almal desimale grade (uitgedruk as h ddd.ddddd°). Kies dié opsie en konsentreer eerder op belangrike kwessies soos of jou yskas jou bier gaan koud hou.
Navigasie.
Die GPS bied jou drie keuses; Shortest route, Fastest route of Off-road. Moenie dink Off-road is bedoel vir 4×4 nie! Dit beteken maar net die GPS gaan die kaart se paaie ignoreer en met ’n reguit lyn na die bestemming navigeer – soos wanneer jy in ’n boot op die water navigeer. En soos ons almal weet, is ’n reguit lyn in die bos nie altyd die beste plan nie…
STAP 6: Laai ekstra kaartinligting af
As jy meer as een kaart op jou rekenaar geïnstalleer het, wil jy nou en dan ekstra kaartinligting op jou GPS aflaai. Dis egter belangrik om te onthou dat jy dan al die kaarte wéér moet aflaai, aangesien die GPS sy kaartgeheue uitvee om nuwe kaartinligting te ontvang.
Dis maklik om dit te doen: Kies die spesifieke kaart op jou Mapsource-program en merk die dele wat jy wil aflaai. Maak dan die volgende kaart oop en merk daar ook die dele van die kaart wat jy wil aflaai. Hou aan totdat jy ál die dele van ál die kaarte wa
t jy op jou GPS wil hê, gemerk het en laai dit dan op jou GPS af.
En laastens, as jou GPS ’n SD-geheuekaart het, laai eerder die kaartinligting op die SD-kaart af omdat hulle heelwat meer data kan berg as jou GPS se interne geheue. Sodoende kan jy baie meer kaarte op jou GPS aflaai.
Dis ’n goeie plan om jou Garmap-kaarte op jou GPS se SD-kaart te los (soos wat jy hom gekry het) en dan jou T4A-kaarte eerder op die GPS se interne geheue (in die geval van ’n eenheid soos ’n Nüvi) te berg. T4A-kaarte is maar sowat 85 Mb per kaart en neem nie baie plek in beslag nie.
STAP 7: En as jy vasbrand …
Lees die aanwysings! (Jy kan dit op www.garmin.com aflaai.)
WENK:
Daar is ’n goeie rede waarom sekere handelaars slegs in GPS’e spesialiseer – want hulle is spesialiste en wéét waarvan hulle praat.
* Jaco het kers opgesteek by Johan Sevenster, ’n geakkrediteerde 4×4-gids en GPS-handelaar, asook Johann Groenewald van Tracks4Africa.
| WR_GPS Navigasie.pdf | 242.5 KB |


