Is jou voertuig reg?
Wat is daai rooi liggie, Sybrand?
Jou 4×4 werk natuurlik baie harder op ’n safari iewers in Afrika as wanneer jy net na die winkel op die hoek ry om brood en melk te koop.
Nie net moet dit jou en jou passasiers oor rowwe terrein dra nie, maar dit is meestal tot barstens toe gelaai met kamptoerusting en bybehore (en bier).
Die AA gaan jou nie in Brazzaville kom red nie, en daarom is dit baie belangrik (en logies) dat jy jou voertuig voor elke groot reis deeglik nagaan en voorberei.
Om jou voertuig en bybehore voor die groot trek voor te berei hoef jou nie te laat voel of jy geboorte skenk nie.
Vir ’n probleemvrye reis hoef jy net ’n bietjie moeite te doen, ’n paar goed na te gaan en heelwat gesonde verstand te gebruik.
Afgesien daarvan dat jy jou voertuig gereeld moet laat versien, kan jy dikwels probleme soos olielekke en afgeloopte bande raaksien deur bloot die voertuig te ondersoek.
Hier is ons aanbevelings vir die voorbereiding voor die groot uittog – van ’n basiese dog deeglike ondersoek van die voertuig tot voorstelle oor watter onderdele en by-behore jy moet pak, en voorbereidings vir ’n oorgrensvakansie.
Ondersoek met die oog
Selfs al is jou naam nie Sybrand Spanner nie, kan jy steeds baie dinge agterkom deur net jou voertuig goed deur te kyk en ’n paar dinge te toets vóór jy vertrek. Rob Crawford van Go Lightly 4×4 het die volgende raad:
- ONDERLANGS. Trek jou 4×4 uit die garage en kyk of daar vars oliekolle op die vloer is. As meer olie as gewoonlik uit die enjin gedrup het, of olie uit ’n nuwe deel drup, vat hom na jou werktuigkundige
- VERING. Jy sal die ooglopende goed soos ’n lekkende skokbreker en stukkende busse sien deur eenvoudig die onderdele te ondersoek, maar dis omtrent al wat jy oor jou vering sal wys word deur bloot daarna te kyk. As die vering gaar is, sal jy dit waarskynlik agtergekom het terwyl jy ry. As jy enigsins bekommerd is oor die vering, laat ’n 4×4-werkwinkel dit ondersoek.
- BANDE. Kyk of die bande nog genoeg loopvlak het. Jy het nie ’n liniaal hiervoor nodig nie: Alle bande het ’n aanwyser van die loopvlakslytasie – ’n strokie rubber wat in die loopvlak ingebou is. As jy dit kan sien, is die loopvlak te min. Jy kan ook ’n vuurhoutjie in die lengte in ’n groef sit – as die hout uitsteek, is dit tyd vir nuwe bande. Kyk ook of die bande ongelyk afloop – dis ’n teken dat jou wielsporing nie reg is nie en verstel moet word voor jy vertrek – en of daar ooglopende tekens van skade op die wande is. En moenie van die noodwiel vergeet nie. Maak ook seker die domkrag en wielsleutel is ingepak.
- LIGTE EN FLIKKER-LIGTE. Dit behoort altyd te werk, maar as jy dit lank laas nagegaan het, doen dit nou. Gaan ook die rem- en truligte na, en kyk dat die kolligte behoorlik werk.
- ONDER DIE ENJINKAP. Kyk vir ooglopende goed soos pype wat bol staan, uitgerafelde of los drade, en olielekplekke. Gaan ook die olievlak na, asook die verkoeler-, rem- en kragstuurvloeistof.
- BO-OP. Kyk dat die dakrak se monteerarms stewig vas is; ook dié van ekstra bybehore soos ’n snorkel en houers vir gasbottels en jerrykanne. Onthou, as iets los is, sal dit nie twee weke van slegte paaie in Burkina Faso oorleef nie.
- LUGVERSORGING. Jy het dit dalk nie in die winter nodig nie, maar jy sal dit beslis nodig kry as jy die Sahara oorsteek. As dit “pap” voel, moet die gas hervul word.
- DIE 4X4-GOED. Omdat die laestrekratkas, sluitbare nawe en ewenaarslot dikwels lank nie gebruik word nie, maak seker dit werk voor jy vertrek. Veral handverstelbare nawe kan stram raak en vassit as dit ’n ruk lank nie gebruik is nie. Gaan ook jou sleepstang na en vervang dit indien nodig.





