Ewenaarslotte | Sluit en laat waai!

Ewenaarslotte | Sluit en laat waai

’n Ewenaarslot kan jou bas red as jy doer alleen in die veld vassit. Maar sê nou jou voertuig het nie een nie? Of hoe gemaak as jy ’n tweede een wil installeer? 

Die ewenaarslot is daai stukkie toerusting op jou 4x4 wat jou uit die kuil van Papkuilsfontein kan kry sonder dat jy die boer hoef op te klop om jou met sy trekker te kom uitsleep.

Sy werk is om jou voertuig die beste vastrapvermoë te gee, of jy nou in die modder vassit of rondgly op Sanipas se ys.

In veldrytoestande is vastrapvermoë natuurlik baie belangrik, want tollende wiele bring jou nêrens. Om vas te trap wil jy in die eerste plek hê dat jou wiele soveel as moontlik op die grond bly, en daarom moet jou wiele goed kan artikuleer (op en af beweeg). Maar die dag gaan kom dat een of twee van jou wiele in die lug gaan gaan hang en nutteloos tol. En dan sal jy dankbaar wees vir jou ewenaarslot.

Op talle 4x4’s is ewenaarslotte standaardtoerusting. Die Toyota Land Cruiser 76-stasiewa en die Mercedes-Benz G-Klas het byvoorbeeld ewenaarslotte op die voor- én agteras. ’n Ewenaarslot op die agteras het ook standaardtoerusting geword op dubbelkajuit-4x4’s en ’n aantal sportnutsvoertuie, soos die Nissan Patrol en Toyota Fortuner.

Party luukse veldryvoertuie, soos die Jeep Grand Cherokee en Land Rover Discovery 4, het gevorderde elektroniese stelsels wat vastrapbeheer toepas deur tollende wiele individueel te rem. Hulle werk goed, maar keer nie heeltemal dat wiele tol nie. In hierdie artikel kyk ons net na meganiese ewenaarslotte.

Hoe werk ’n ewenaarslot?

Kyk onder jou 4x4 na die aste. In die middel van elke as sal jy ’n groot, bolvormige huls sien. Daarin is die ewenaar, ’n versameling ratte wat dit moontlik maak vir twee wiele op dieselfde as om teen verskillende snelhede te draai. 

Hoekom is dit belangrik? As jy om ’n draai gaan, moet die buitenste wiel verder loop as die wiel aan die binnekant. Dit moet dus vinniger kan draai. As die ewenaar dit nie toelaat nie, sal die as soos ’n koeksister opwen en uiteindelik breek.

Die ewenaar is ’n besonder slim en eenvoudige stukkie ingenieurswerk, maar dit het ’n beduidende nadeel: Dis ’n bietjie lui. Wanneer een van die wiele vastrap verloor of in die lug hang, stuur die ewenaar outomaties al die krag na daardie wiel – wat die wiel met traksie sonder dryfkrag laat en dan sit jy vas.

Dis waar die ewenaarslot in die prentjie kom. Dit sluit die ratte in die ewenaar sodat die wiele teen dieselfde spoed bly draai. Die dryfkrag word dus gelyk tussen die wiele verdeel, wat beteken dat die wiel met vastrap steeds die helfte van die krag kry. Wanneer jy in die veld ry, verloor wiele dikwels greep weens ongelyke of glibberige terrein. Dan kan die ewenaarslot die verskil beteken tussen vordering en frustrasie.

Kyk hierdie briljante kort filmpie uit die 1930’s oor hoe ’n ewenaar werk:

 

Waarom ’n ewenaarslot?

Dis beter vir jou voertuig. Jy het baie meer beheer wanneer jy in die veld ry met jou ewenaarslot gesluit. Hindernisse wat voorheen heelwat momentum of spoed vereis het, kan nou stadig benader word, en dit beteken minder van die wilde, voet-in-die-hoek-benadering wat sy-aste buig en CV joints (konstantespoedkoppelings) beskadig.

Dis beter vir die roete. Dis net in Looney Tunes-strokiesprente dat jy op een plek staan en spin. In werklikheid beskadig dit die omgewing deur die roete om te dolwe en klippe die wêreld vol te laat vlieg.

Dis beter vir jou ego. Niemand hou daarvan om uitgesleep te word nie. Of om eers met die tiende probeerslag oor die hindernis te kom waar jou vriende al met die eerste probeerslag oor is nie. Natuurlik maak ’n ewenaarslot nie van jou ’n beter bestuurder nie, maar dis beslis ’n groot hulp.

Dink eers ’n bietjie hieroor…

Het jy werklik ’n ewenaarslot nodig? As jy jou 4x4 meestal op grondpaaie ry waar ’n verspoeling hier en daar die ergste is wat jy kan verwag, is ’n ewenaarslot nie noodsaaklik nie. 

As jy egter oor naweke stof en modder opskop op meer tegniese roetes, gaan jy die een of ander tyd vassit en ’n ewenaarslot nodig hê. En as jy 35 duim-moddertekkies opgesit het en om die boendoe in te vaar om die grootste, modderigste dongas aan te durf, is ’n ewenaarslot min of meer noodsaaklik.

As jy boonop ernstig is oor toere diep in Afrika en jy’s nie juis ’n tropdier nie, is dit soos ’n versekeringspolis – jy het hom dalk nooit nodig nie, maar die dag as jy hom wel nodig het, kan dit jou vakansie red.

Hoe lyk daai bankbalans? ’n Ewenaarslot is duur. Die slot self kos enigiets van R4 000 tot R12 000, maar jy sal dalk bykomende toerusting moet aanskaf. Met ’n ARB-ewenaarslot moet jy byvoorbeeld ook ’n lugkompressor van R3 000 laat insit. 

Arbeidskoste kom ook nog by (dis meestal ingewikkeld om ’n ewenaarslot in te sit en die ure in die werkwinkel kan jou ’n paar duisend rand kos). En as jy die ewenaar oopmaak, sien jy dalk die wiellaers is afgeslyt, en dan moet dit ook nog vervang word... 

Hantering word beïnvloed. Jy sal dit waarskynlik veral agterkom wanneer jy styf-styf deur ’n draai ry omdat ’n gesluite ewenaar keer dat wiele onafhanklik draai.

Dit maak jou nie Superman nie. Goeie oordeel en veldryvernuf bly belangrik, al het jy ’n ewenaarslot. Daar is talle stories van 4x4-bestuurders wat in ’n penarie beland het omdat hulle ’n ewenaarslot het. ’n Ewenaarslot laat voel mense dapper en dan’s hulle geneig om grense te toets. 

Maak seker hiervan:

Is ’n ewenaarslot vir jou voertuig beskikbaar? Dis ’n gespesialiseerde stukkie toerusting en net ’n handjievol maatskappye maak dit. Dié maatskappye fokus sterk op Jeep, Toyota en Land Rover. Maak seker daar bestaan ’n ewenaarslot vir jou 4x4. 

Voor, agter ... of albei? Die meeste kenners sê as jy een ewenaarslot insit, sit hom op die agteras. Teen ’n opdraande is die grootste gedeelte van ’n voertuig se gewig op die agterwiele en die agterwiele verloor die eerste vastrap. ’n Ewenaarslot op die agteras beïnvloed jou voertuig se draaivermoë ook minder as een op die vooras. 

Tog is dit die beste as jy albei aste se ewenaars kan sluit. 

Gewone (jy sluit dit self) of outomaties? Kies tussen ’n ewenaarslot wat geaktiveer word met die druk van ’n knoppie en een wat outomaties geaktiveer word. 

Jy moet ook die volgende sorgvuldig opweeg voordat jy besluit: 

Gewone ewenaarslot

Só een vervang jou voertuig se bestaande ewenaar. Wanneer jy ’n knoppie druk, aktiveer jy ’n elektriese motor of lugkompressor wat die slot laat sluit.

Voordele: 

  • Wanneer die ewenaar nie gesluit is nie, werk hy normaal, wat beteken hantering op die pad word nie geraak nie. 
  • Jy kan besluit wanneer jy die ewenaarslot wil sluit, wat jou meer beheer gee op die tegniese dele.

Nadele:

  • Jy moet een hand van die stuurwiel haal om die knoppie te druk, wat nie altyd gewens is in ’n moeilike hindernis nie.
  • As jy vergeet om dit af te skakel en dan op ’n teerpad ry, kan jy jou ewenaar beskadig.
  • Dis duur om in te sit, veral omdat ’n afsonderlike stelsel om hom te aktiveer, ingesit moet word.

Outomatiese ewenaarslot 

’n Outomatiese ewenaarslot is altyd gesluit wanneer die voertuig beweeg; hulle ontkoppel net wanneer jy jou voet van die brandstofpedaal lig. Hoewel die meeste die hele ewenaar vervang, pas party in die bestaande ewenaar.

Voordele:

  • Die ewenaarslot werk altyd wanneer jy dit nodig het. Jy kan konsentreer en jou hande op die stuurwiel hou.
  • Dit word vinniger en makliker ingesit as ’n stelbare ewenaarslot.

Nadele:

  • Hantering op die pad is styf omdat die ewenaarslot feitlik permanent gesluit is. Verwag stuurtraagheid en tjankende bande as jy om ’n draai gaan, asook weerstand met skerp draaie, soos wanneer jy in ’n parkeergarage parkeer.
  • Outomatiese ewenaarslotte maak ’n klikgeluid wanneer die ratte sluit. Party mense vind dit hinderlik.

Wat moet jy kies?

Dis moeilik. Die stram hantering en geluide van ’n outomatiese slot skrik party mense af.

Ons raad? As jy dikwels teerpad ry, kies ’n gewone ewenaarslot. Ernstige veldryers wat uiters tegniese roetes aanpak, verkies ook hierdie opsie omdat hulle dan kan besluit wanneer hulle die ewenaarslot wil aktiveer.

’n Outomatiese slot kan oorweeg word vir voertuie wat meestal vir veldry en oorlandtoere gebruik word. Op ’n lang, reguit pad in die Kalahari sal jy dit skaars agterkom. En dit gee gemoedsrus dat hulp byderhand is as jy dit in ’n hindernis nodig kry.

Wat van ’n beperkte-gly-ewenaar?

’n Beperkte-gly-ewenaar (limited slip diff) verskaf gedeeltelike sluiting wanneer jou voertuig vastrap verloor. Dis nie so doeltreffend soos ’n gewone ewenaarslot nie omdat dit nooit volledig sluit nie, maar dit help tog in sekere veldrytoestande, veral sand en modder. Soos ’n outomatiese slot is dit altyd gesluit, maar sonder die probleme met hantering en geluide. Al meer modelle kom standaard daarmee uit. ’n Klein aantal beperkte-gly-ewenaars is beskikbaar in die naverkopemark. 

Gaan na bl. 2 vir ewenaarslotte wat jy kan oorweeg...

Ewenaarslotte | Sluit en laat waai

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association