Bosbrekers | ’n Bul van ’n breker

Die goeie Afrikaanse woord bullbar is eintlik verwarrend hier in Suid-Afrika.
Die woord kom uit Australië en Amerika. In Suid-Afrika stoot ons egter nie ons beeste met bakkies rond soos Shane, Wayne en Bradley doer onder in die outback nie.
Hier is ’n beter naam eerder “boerbokbreker” (of steek ’n bietjie hand op vir “taxibreker” …). Maar as jy nie ’n boer is nie, is die hoofdoel van die hoenderstellasie voor op jou bakkie om dit te beskerm, en om jou voertuig se veldryvaardigheid te verbeter. Ons hou dus by bosbreker.
Onthou net, as jy die dag een wil koop, moet hom nie sommer laat sweis by Swart en Seuns Sweiswerke daar agter die silo’s nie. Daar’s ’n paar belangrike dinge wat jy moet oorweeg.
’n Tuisgesweisde bosbreker kan moontlik jou voertuig se lugsakstelsel beduiwel, of as jy een van die dae ’n wenas wil opsit, is die ding dalk heeltemal in die pad daarvan.
Hier is nog ’n paar oorwegings, en ’n paar mooi bullbars waaruit jy kan kies.
Hoekom sal ek ’n bosbreker koop?
1. Nie net mooi nie, maar ook veilig
Jip, hy laat jou Defender ’n aks meer hardekwas lyk, maar daar’s g’n twyfel dat ’n swaar staalraam op die neus van jou voertuig die versekeringseis aansienlik kan verklein as daai kameeldoring weer voor jou inspring nie. Of daai ongeskikte wit afleweringsbakkie …
Maar die eintlike voordeel is dat hy kan keer dat jy iewers in Kaokoland gestrand sit met ’n gekraakte verkoeler wat lek.
Maar dit maak ook ’n verskil aan jou veiligheid en dié van jou passasiers. Ek het onlangs by Burnco 4x4 ’n Land Cruiser gesien wat ’n koei getref het.
Die Cruiser se bosbreker was tot teenaan die enjinkap gedruk, maar buiten ’n stukkende koplamp en ’n duikie in die bakwerk was die voertuig ongeskonde en die insittendes vrolik en gesond. Dieselfde kan ongelukkig nie van die koei gesê word nie.
2. Om bo-oor goed te kan ry
As jou luukse nuwe veldwa se neus vashaak aan die eerste klip onderaan Bobbejaanspas, dan weet jy jou naderingshoek is te klein.
Die naderingshoek is die hoek tussen die grond en die denkbeeldige lyn tussen die onderpunt van die voorbuffer en die plek waar die bande aan die grond raak.
Hoe groter dié hoek, hoe minder kliptrappies en stompe gaan jy tref.
Die probleem is dat al meer van die nuwer 4x4’s sulke lae plastiekbuffers (fenders, meneer) het soos ’n hond wie se tong op die grond hang.
Die bedoeling is om die voertuig meer aërodinamies te maak op die teerpad, maar al wat in die veld gebeur, is dat jy daai buffer soos ’n roomysstokkie afknak teen die eerste beste termiethoop. En jy weet wat jy deesdae betaal vir daai gemors.
Ons beveel aan dat enigiemand wat in die veld gaan ry, hetsy op die duine of op roetes met ’n gradering van 4 of 5, die Tupperware vervang met ’n bosbreker wat na aan die voertuig sit.

3. Genoeg plek vir jou speelgoed
Die maklikste manier om toebehore soos ’n wenas, radio-antenna, kolligte of visstokhouer aan jou voertuig te heg, is op ’n bosbreker.
As jy ’n bosbreker laat aansit, is dit belangrik om vir die werkswinkel te sê wat jy beplan. ’n Wenas kan net op sekere bosbrekers gesit word, terwyl kolligte ’n uiters stewige basis nodig het sodat dit nie vibreer terwyl jy ry nie.
’n Ligstraal wat rondwikkel, is irriterend, en uiteindelik kan jou duur lig afbreek iewers tussen Nampula en Pemba, en dan gaan jy swets!

4. Om uit die bollie te kan kom
Nog ’n maklike manier om plastiekbuffertjies op te frommel is om die voertuig te herwin met ’n sleeptou of kinetiese strop oor ongelyke terrein of om ’n hoogligdomkrag te gebruik.
Gebruik eerder die hoogligdomkragpunte op jou mooi nuwe bosbreker om die bakkie te lig of die boogskakels aan die herwinningspunte om ’n kinetiese strop te heg.
Die bosbreker is immers van staal gemaak en op die onderstel vasgebout. Die meeste bosbrekers word verkoop met gate vir boogskakels. Vra net die ouens in die 4x4-werkswinkel om ook ’n paar hoogligdomkragpunte aan te sweis.





Kommentare
Pos nuwe kommentaar