Bos-“mechanics”

Rob Crawford, Mike Porter en Gerhard Groenewald verduidelik ’n paar beproefde tegnieke om basiese (baie basiese) bosherstelwerk aan jou 4x4 te doen.

Goed, dit sal jou waarskynlik nie tot by die huis bring nie, maar met dié bosherstelwerk jy sal ten minste tot by die volgende dorp of nedersetting kan kom.


1. Die ruitveërs werk nie meer nie

“Dis maklik. Sny ’n aartappel in die helfte en vee met die plat kant oor die buitekant van die voorruit. Die afskeiding wat op die glas agterbly, sal help om reënwater af te lei. Dis nie so doeltreffend soos ruitveërs nie, maar dis steeds beter as om by die venster uit te hang en jou hande te gebruik!” – Rob

Plan B:
En as ek nie aartappels eet nie? Probeer Rain-X, ’n spesiale waterafwerende sproei wat jy op jou voorruit kan spuit.


2. Die band het van die velling  afgespring

“Dít gebeur gereeld as jy met ’n lae banddruk in die sand ry. Die maklikste manier om die band weer op die velling te kry, is om petrol aan die binnekant van band te sprinkel (nie te veel nie – net ’n paar druppels, asof jy jou hande afskud nadat jy dit gewas het).

“Laat die petrol ’n paar sekondes verdamp en steek dit dan aan die brand.

“Die walms sal met ’n slag ontbrand en sal genoeg krag lewer om die band terug op die velling te kry, en dit op sy plek hou.

Die warm lug van die slag sal die band gedeeltelik opblaas, maar jy sal steeds jou kompressor moet gebruik om dit behoorlik op te pomp.” – Gerhard


3. Die verkoeler het ’n gat in

“As jy by jou verkoeler kan uitkom, gebruik jou Leather-man om die punte van die gebreekte pyp toe te buig. Elke pyp werk onafhanklik, en dit sal dus nie die stelsel ontwrig nie.

“En as jy nie by die pyp kan kom nie, is die maklikste oplossing om borrie of kerriepoeier (’n paar teelepels sal genoeg wees) in die verkoeler te strooi. Ek het dit gedoen toe my verkoeler in die Kalahari beskadig is, en dit het die bars perfek geseël. Om die waarheid te sê, ek het ’n jaar daarna nog met die voertuig gery sonder dat dit my probleme gegee het.” – Mike

Plan B:
As jy nie borrie in jou verkoeler wil strooi nie, koop ’n houer Perm-o-Seal (’n seëlmiddel vir verkoelers, waterbaadjies en silinderkoppe) by ’n motorverskaffer voor jy by die huis wegry.


4. Die rempyp lek vloeistof

“Dít gebeur soms as jy jou vering laat aanpas het, en die mense wat dit gedoen het, vergeet het om die rempype vir die groter wielbeweging aan te pas.

“As ’n pyp breek, is dit belangrik om dit so gou as moontlik te verseël om te keer dat al die remvloeistof lek. Gebruik jou Leatherman om die punt te buig en saam te pers. Ja, jy sal nie dié wiel kan rem nie, maar ten minste sal jy nog jou 4x4 tot stilstand kan bring.” – Gerhard 

As te veel remvloeistof uitgeloop het? “Gebruik Sunlight-opwasmiddel om dit te vervang. Jou remme sal dalk pap en futloos voel, maar hulle gaan steeds hul werk doen.” – Mike


5. ’n Waterpyp het gebars

“In ’n perfekte wêreld sal jy natuurlik altyd ’n ekstra pyp of twee saamry, maar as jy daarsonder betrap word, kan jy probeer om dit te herstel.

“Draai altyd eers die verkoelerprop af om die druk in die stelsel te verlig.

“Buig dan die waterpyp om die skeur nog groter te maak en druk silikoonseëlmiddel in die skeur. Sodra dit droog is, draai enigiets wat jy in die hande kan kry (duct tape, ’n verband, pleister) om die pyp en draai dit styf vas met draad.” – Rob

Plan B:
Kom voorberei: Die beste manier om ’n waterpyp in die bos te herstel is vulkaniseerband (self-vulcanising tape), wat die gat permanent verseël.
Jy kry dit by ’n spesialismotorwinkel.    


Die boffins

ROB CRAWFORD
4x4-instrukteur en medewerker vir WegRy
MIKE PORTER
Land Rover-entoesias en eienaar van LR
Service Centre
GERHARD GROENEWALD
Stigter van die 4x4 Eco-uitdaging

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association