Basiese veldrygoed
Begin by die begin
Nadat jy jou eerste 4x4 aangeskaf het, kan ’n 4x4-winkel baie soos Loftus lyk tydens die Curriebekereindstryd: baie mooi maar oorweldigend. Ons help jou besluit watter toerusting om te koop.
Jou braai-tjomme praat van laaistelsels, jou beterweterige neef van ’n wenas en die oorgretige verkoopsman gorrel oor daktente. Maar het jy die goed nodig? Nee, jy het nie.
Jy kort net ’n paar basiese goed, en dit gaan nie eens jou kredietkaart knak nie.

Vir die voertuig
BANDHERSTELSTEL
Hoewel een noodwiel voldoende is vir ’n korter reis, is die kans goed dat jy op ’n langer vakansie meer as een pap band sal kry. Die belangrikste deel van die bandherstelsel is die prop, wat “gommerig” is – as die ouens van ’n “snotprop” praat, verwys hulle dus nie na ’n lastige hooikoors nie. In die stel sal jy ook gom, ’n ruimer en bandnaald kry om die lekplek te herstel.
Jy kan by die meeste 4x4-winkels ’n aanvullingstel met proppe koop, sodat jy nie ’n hele nuwe bandherstelstel hoef te koop as jou proppe gebruik is nie.
Prys? R200-R250
Kies uit dié twee:
1. LA Sport-bandherstelstel
Prys: R195;
Tel: 012 751 0877
Web: www.lasport.co.za
2. Back on Track-bandherstelstel van Safari Centre
Prys: R215
Tel: 021 595 3910;
Web: www.safaricentre.co.za
SLEEPTOU
Moenie ’n sleeptou met ’n kinetiese tou (of ’n kinetiese strop) verwar nie – ’n kinetiese tou of strop is ’n hengse rek wat gebruik word om ’n 4x4 te herwin wat diep in sand of modder vasgeval het.
Dit kom neer op ’n allemintige uitpluk met ’n ander voertuig, en daarvoor is ervaring en opleiding nodig.
’n Sleeptou is veelsydiger en kan gebruik word om ’n ander voertuig te sleep of om ’n voertuig wat vasgeval het, te herwin. Boonop kan ’n beginner dit gebruik.
Koop ook twee boogskakels om die tou aan albei voertuie vas te maak. Dit moet ’n werklading van minstens 3½ ton kan hanteer, en kos sowat R60 elk.
Voor jy veld toe gaan, moet jy ook vir jou voertuig herwinningspunte laat installeer by ’n gerekende 4x4-werkwinkel.
Prys: R220-R400 (sleeptou)
Probeer een van dié twee:
1. Sunset Gear-sleeptou van 4x4 MegaWorld
Prys: R230
Tel: 011 454 2875
Web: www.4x4megaworld.co.za
2. SecureTech Pull Strap van 3,5 m van Safari Centre
Prys: R290
Tel: 021 595 3910
Web: www.safaricentre.co.za
SKOPGRAAF
’n Skopgraaf het ’n baie dieper kop as ’n spitgraaf en jy kan meer sand, modder of grond daarmee skuif.
Moet dus nie die eerste beste graaf in die tuinhuisie gryp voor jy ry nie, want jy sal lang trane huil as jy in die Kalaharisand vassit met só ’n plat tuingraaf.
Daai volgrootte skopgraaf met die stewige handvatsel
wat jy by die koöperasie koop, is die doeltreffendste, maar ’n kleiner opvouskopgraaf is ’n slimmer keuse omdat dit makliker pak.
Prys: R100-R120
Probeer dié een:
1. Outdoor Warehouse-opvouskopgraaf
Prys: R100
Tel: 0800 003 051
Web: www.outdoorwarehouse.co.za
HANDSKOENE
Dis ’n reël: As jy ’n voertuig herwin, dra altyd handskoene – of jy nou iets ernstigs doen soos om ’n wenaskabel aan te sit of bloot om sand onder ’n onderstel uit te grawe.
Dit keer dat jy jouself brand, sny of skaaf en dit hou jou hande skoon – jy hoef nie na die tyd ghries en smerigheid aan die gras af te vee nie.
Jy kan maar growwe sweis- of bouhandskoene gebruik, maar die beste handskoene vir veldry word van varkleer gemaak. Dis sag en dun genoeg sodat jy kan voel waarmee jy besig is, maar ook taai genoeg om jou hande te beskerm.
Prys? R80-R100
Probeer dié soort:
1. SecureTech-varkleerhandskoene van Safari Centre
Prys: R80
Tel: 021 595 3910
Web: www.safaricentre.co.za
KOMPRESSOR
Jy sal verbaas wees uit hoeveel penaries jy kan kom deur jou voertuig se banddruk te verlaag.
Maar ’n pap band pomp homself nie weer op nie en daarom is ’n 12 V-pomp (’n kompressor) onontbeerlik.
Jy kan uit ’n verskeidenheid modelle kies. Die belangrikste oorweging is hoe hard die ding kan blaas – die sogenaamde vloeitempo. Vir R500 kan jy ’n kompressor kry wat lug teen 40 liter/minuut pomp. Vir ’n paar rand meer kry jy ’n kragtiger kompressor wat 72 liter/minuut kan haal.
En die lekkerte van ’n pomp is dat jy sommer vanaand die opblaasmatras vol lug kan maak.
Prys? R650-R800
Die een wérk:
1. T-Max 72 LPM van 4x4 MegaWorld
Prys: R650
Tel: 011 454 2875
Web: www.4x4megaworld.co.za
(WegRy #10 het omvattende inligting oor kompressors.)
BANDDRUKMETER
’n Banddrukmeter is nie heeltemal so goedkoop soos ’n rol witgoud nie, maar dis amper net so belangrik (of selfs belangriker).
Ervare veldryers weet jy moet op byna elke uitdagende oppervlak die banddruk in ’n mate verlaag, en daarvoor het jy ’n betroubare meter nodig. (Moenie die banddrukmeter op ’n kompressor vertrou nie – dis gewoonlik nie akkuraat nie.)
Jy kan ’n spoggerige digitale meter koop, maar ’n basiese wysermeter werk net so goed en het nie batterye wat pap word nie. Wanneer laas het jy ’n horlosiebattery op ’n plek soos Van Zylsrus gesoek?
Prys? R80-R100
Probeer een van dié twee:
1. Die Stetho-banddrukmeter van Safari Centre
Prys: R85
Tel: 021 595 3910
Web: www.safaricentre.co.za
2. MotoQuip-banddrukmeter van LA Sport;
Prys: R85
Tel: 012 751 0877
Web: www.lasport.co.za
(Sien ook WegRy #10 vir ’n volledige artikel oor banddrukmeters.)




Kommentare
Pos nuwe kommentaar