Bande | Klou om te hou

Om die regte 4x4 te koop is klaar ’n moeilike besluit, maar om die regte bande te koop kan jou snags selfs méér laat rondrol. Ons help jou om die regte rubber te kies.
Jy gaan nie die Otter of die Visriviercanyon in ’n paar ou Grasshoppers of North Stars stap nie. En jy gaan nie die 400 m-hekkie-eindstryd in ’n paar gumboots aanpak nie, of hoe? Hoekom sal jy dus die verkeerde bande op jou voertuig sit?
Die tegnologiese wonder-vermoë van jou voertuig en jou vaardighede as bestuurder gaan jou nie veel help as jy die verkeerde bande op het nie – verkeerde bande kan ’n katastrofe wees. Buiten dat die verkeerde bande ’n lelike speek in die wiel van jou voertuig se vermoë kan steek, kan dit ook jou brandstofverbruik verhoog.
Aan die ander kant kan die regte bande jou voertuig se veldryvermoë drasties verbeter. Maar om die regte bande te kies, moet jy minstens weet vir watter terrein hulle ontwerp is, hoe vinnig jy daarmee kan ry en watter vrag dit kan dra.
Op die volgende paar blaaie wys ons jou hoe om die regte bande te kies, watter bande om vir watter omstandighede te kies en beantwoord ’n paar belangrike vrae oor bande.

5 vrae om te vra voor jy koop
1. Waarheen gaan jy?
Veldbande word spesiaal ontwerp en vir ’n spesifieke terrein of oppervlak gemaak. As jy dus begin rondkyk vir ’n nuwe stel veldtrappers, moet jy ’n goeie aanduiding hê van die terrein waarop jy dit meestal gaan gebruik (later meer oor die verskillende soorte bande).
Min van ons gaan natuurlik heeltyd net op een soort terrein ry, en dis waarom jy waarskynlik ’n band moet oorweeg wat vir meer as een oppervlak geskik is.
Jy hoor ook soms van 4x4-ouens wat twee stelle bande koop: oorwegend padbande om in die stad of dorp rond te ry (en erken dit maar, dis waarvoor ons meestal ons 4x4’s gebruik), en ’n stel doelgemaakte veldbande vir daai safari Lubumbashi toe.
2. Waarmee ry jy?
Deesdae is daar ’n duiselingwekkende verskeidenheid veldbande op die mark, maar dit beteken nie dat hulle almal op jóú 4x4 gaan pas nie.
Wil jy gespierde modderbande op jou Porsche Cayenne sit? Nie ’n goeie plan nie – selfs al kry jy ’n groot genoeg stel om oor daardie enorme 19 duim-vellings te druk, sal dit glad nie bestand wees teen die voertuig se topspoed (242 km/h) nie.
Wieldeursnee, spoed en laaivermoë is faktore waarna jy moet kyk voor jy ’n nuwe stel bande koop (sien die spoed- en dravermoëtabelle op bl. 54).
3. Binneband of binnebandloos?
Vir die meeste van ons is dié besluit reeds geneem: Alle moderne 4x4’s word met binnebandlose straallaagbande verkoop. Maar jou ouskool-Land Cruiser-bakkie of Series-Landie het waarskynlik nog die meer tradisionele
binneband-bande op.
Die belangrikste voordeel van ’n binnebandlose band is dat dit die wrywing tussen die binneband en die binnekant van die band uitskakel. Op dié manier word die moontlikheid van oorverhitting en ’n band wat bars verminder, veral as jy met afgeblaasde bande ry.
Dis ook makliker om ’n lekplek in een van hulle reg te maak – wikkel eenvoudig ’n bandprop in die gat.
Aan die ander kant kan jy steeds met ’n gewone band ry wat erg beskadig is, omdat die binneband dit steeds van binne opblaas.
4. Straal- of kruislaag?
Jy het ook nie veel sê hieroor nie. As jy in ’n nuwe 4x4 rondry, het jy waarskynlik straallaagbande. Daar is ’n goeie rede daarvoor: Straallaagbande is beter in byna elke opsig, veral wat padhouvermoë en gerief betref.
Kruislaagbande het egter steeds hul plek.
Omdat hulle taaier en harder as straallaagbande is, word hulle nog op handelsvoertuie en vragmotors gebruik.
5. Watter handelsnaam?
Dis die vraag der vrae … Ongelukkig is daar nie net een maklike antwoord daarop nie, omdat dit van baie faktore afhang. Wat vir jou werk, is waarskynlik nie geskik of bekostigbaar vir my nie.
Maar daar is ’n goeie rede waarom die groot bandeplekke by sekere handelsname hou: Hulle wil eenvoudig nie ’n produk verkoop wat terug-gestuur gaan word en hulle probleme gaan gee nie.
As jy dus moet kies tussen ’n gevestigde handelsnaam en ’n onbekende Chinese naam, glo ons in die eerste een.
Laasgenoemde is dalk goedkoper, maar is jy seker dis geskik vir toestande in Afrika? En hoe seker is jy van goeie naverkoopdiens?
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>




Kommentare
Great info. Lekker man, tyd om te trap!
Pos nuwe kommentaar