Banddrukmeters | Moenie swig voor die druk

Die korrekte banddruk kan jou brandstof spaar, jou bande sal ook langer hou, en boonop vereis baie veldrysituasies ’n laer banddruk – dís waarom jy ’n betroubare banddrukmeter nodig het.
Hier’s ’n paar van ons gunstelinge.



ARB-LAEDRUKMETER
Om beter te kan sien, my kind

 

Die goed:
Een van hierdie model se beste eienskappe is sy groot gesig (’n deursnee van 10 cm versus die gewone 5 cm by ander modelle).

Dít, tesame met die groot kalibreringspunte en die feit dat dit net tot by 3.5 bar gekalibreer is, maak dit baie makliker om die presiese banddruk te
lees as wat dit met ’n gewone meter
die geval is.

Die 50 cm lange rubberverlengpyp (sodat jy nie vooroor hoef te leun wanneer jy die gesig lees nie) en legendariese ARB-taaiheid gee dit net nog ietsie ekstra. 

Maar … Dis nie ’n liggewig nie − die meter self is effens groter (en swaarder) as ’n blikkie tuna, en saam met die verlengpyp gaan dit jou paneelkissie vol lê.

Prys? R225

Kontak? 4x4 Megaworld 011 454 2875; www.4x4megaworld.co.za

WegRy sê:
Ja, dis maklik om te lees, maar dis miskien net die moeite werd om te kry as jy gereeld op sand ry en uitsonderlik puntenerig is oor die druk van jou
bande.



ARB-POTLOODMETER
Ou staatmaker

 

Die goed:
Sommige veldryers sweer by hierdie potloodmeters, want dis wat hulle ken en vertrou, en hulle is glo ook taaier as analoogmodelle.

Die rede? Analoogmodelle gebruik ’n interne meganisme (amper soos ’n horlosie) terwyl by die potloodmeter die banddruk eenvoudig die gekalibreerde meetstokkie uitdruk. Dit beteken daar is nie, soos by ’n analoogmeter, enige delikate onderdele wat kan breek as jy dit laat val nie.

Maar … Dis effe moeiliker om die gekalibreerde stokkie te lees as die meters met ’n horlosie-tipe gesig.

En die banddruklesing op ons toetsmodel was deurgaans 10% hoër as die res van die meters (hulle lesings was almal dieselfde – ons neem dus aan hulle was korrek …).

Prys? R495 (as deel van ’n ARB Speedy Seal-stel)
Kontak? 4x4 Megaworld 011 454 2875; www.4x4megaworld.co.za

WegRy sê: Dis slegs beskikbaar as deel van die Speedy Seal-stel. Nie ’n probleem as jy ’n bandherstel-stel ook wil hê nie, maar onnodig as jy klaar een het.



MOTOQUIP ABS-DIGITALE METER
Digitale revolusie

 

Die goed:

Danksy die vloeikristalsyfers is digitale drukmeters heel maklik om te lees, selfs as jy jou bril by die huis vergeet het.

Hierdie model skakel ook na 90 sekondes outomaties af, dus hoef jy jouself nie te bekommer dat jy dit aangelos het nie.

Maar … Dit gebruik batterye, en selfs met die outomatiese afskakeling, sal die die batterye, juis pap wees op die dag wat jy dit rêrig nodig het. (Dit gebruik LR44-horlosiebatterye – ons stel voor jy pak ’n ekstra stel in vir jou volgende reis na Bangui.)

Prys? R130

Kontak? Outdoor Warehouse  0800 003 051; www.outdoorwarehouse.co.za 

WegRy sê:  Maklik om te gebruik, maar ons verkies om veilig te wees en ’n analoogmeter te gebruik.



HAFNER STETHO-DRUKMETER
Getroue oue

Die goeie:
Hierdie is die klassieke banddrukmeter: geen frilletjies of valletjies nie, lig en kompak, en maklik om te gebruik.

Ons hou van die Stethometer omdat die handelsnaam ’n reputasie het vir duursaamheid en betroubaarheid, en omdat die gesig net op tot op vier bar gekalibreer is.

Dít maak dat die kalibreringspunte groot en maklik is om te lees. Dis ook die enigste meter wat ’n beskermende plastiekhouer het.

Maar … Eintlik is daar niks kritiek teen die meter nie, behalwe dat dit, soos met alle gesigmeters, ’n redelik delikate toestel is wat as jy dit stamp of laat val, sy akkuraatheid kan inboet.

Prys? R85

Kontak? LA Sport 012 329 4515; www.lasport.co.za

WegRy sê: Jy sal beslis een van hierdie duursame, betroubare meters in ons paneelkissie kry!



VIAIR 3-IN-1 AIR DOWN-DRUKMETER
Meerdoelige aksie

Die goeie:
Dit kan nogal uitputtend wees om jou bande vir veldry af te blaas: gaan die druk na, laat lug uit, neem weer die banddruk, laat nog bietjie lug uit.

Met hierdie slim toestel hoef jy nie meer tussen ’n vuurhoutjie en drukmeter te wissel nie, want dit doen albei – dis ’n bandafblaser én banddrukmeter.

Maar hoekom drie-in-een? Dis omdat daar twee afblaasverstellings is – vinnig en stadig.

Jy kan dus die band vinning van 2.5 bar na een bar afblaas, en dan met die sagter verstelling die banddruk selfs nog fyner verstel.

Maar … Dis ’n bietjie lastig om elke keer die klepverbinder aan te skroef.
Dis die moeite werd as jy lug wil uitlaat, maar frustrerend as jy net gou wil kyk wat die druk is.

As jy bloot die meter indruk om vinnig die banddruk na te gaan, ontsnap die lug, in vergelyking met ander modelle, steeds te gou.

Prys? R70

Kontak? Safari Centre 021 595 3910; www.safaricentre.co.za

WegRy sê: Dis bobaas as  jy jou 4x4 se bande blitsvinnig wil afblaas, maar as jy net gou jou banddruk wil nagaan, skaf eerder vir jou ’n gewone meter
aan.


Kommentare

Een mis julle:   ARB se deflator/bandrukmeter.

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association