
As jy meer plek in jou bakkie soek, moenie jou skoonfamilie by Augrabies aflaai nie … oorweeg eerder ’n bakkiekappie.
Daar is goeie redes waarom veselglaskappies loshande die eerste keuse van bakkie-eienaars is – hulle is vaart-belyn, pas by die kleur van jou voertuig én is boonop bekostigbaar.
Maar hoe geskik is hulle vir veldry?
“Hulle is heeltemal goed genoeg vir veldry,” sê Mark Polson van Andy Cab. “Maar as jy ’n dakrak of daktent wil laat opsit, sal jy die vervaardiger moet laat weet. Die kappie sal dan versterk moet word sodat dit die ekstra gewig kan dra.”
Horst Kellerman van Safari Centre stem saam: “ ’n Veselglaskappie is beslis taai genoeg vir veldry. Eers as jy ’n dakrak laat opsit, kan jy probleme begin kry.
Ons kan net in ’n enkellaag-kappie gate boor; dit kan glad nie gedoen word met ’n kappie met ’n dubbellaag of binnevoering nie.”
Dis ook belangrik dat die kappie bo plat is, sê Horst. “Party kappies het ’n wipflap en relings wat in die pad kom.”
Maar waarom sit almal met ’n 4×4-bakkie dan nie net ’n veselglaskappie op nie? Om makliker by jou goed te kan kom, my kind … By die meeste veselglaskappies is die enigste manier waarop jy by jou toerusting kan kom, deur die agterste luik.
Ja, daar is wel kantvensters, maar hulle is dikwels nie groot genoeg om ’n ammoboks of jerrykan deur te pas nie. Wat veronderstel is om ’n vinnige koffie-en-beskuit-stilhou te wees, kan dus in ’n allemintige uitpakkery ontaard …
Dis waar doelgeboude 4×4-kappies soos aluminium- en seilkappies in die prentjie kom.



1. ALUMINIUMKAPPIES
Hierdie kappies raak toenemend gewilder omdat dit so geskik is vir 4×4 ry en Afrika-reise. Binne die kappie kan jy watertenks en ’n pakstelsel inbou, terwyl jy bo-op maklik ’n dakrak of daktent kan laat opsit vir ’n volledige “huis op wiele” agterop jou bakkie.
’n Aluminiumkappie is veral ’n goeie keuse as jy die alles-in-een-gerief van ’n veldsleepwa wil hê, maar ernstig is oor veldry en byvoorbeeld nie ’n sleepwa oor die duine van die Namib kan sleep nie.
Maar daar is beperkings: As jy ’n groot gesin het of wil kamp opslaan en dan eers wild gaan kyk, gaan ’n bakkiekappie nie te goed werk nie, sê Jasper Hewitt van Bushwakka. Koop dan eerder ’n veldsleepwa.
VOORDELE:
- Omdat dit heeltemal uit metaal (hoofsaaklik aluminium) gebou word en lekker robuus is, sit jy nie met die tipiese nadele van veselglaskappies nie – dis byvoorbeeld nie nodigom die kappie te versterk as jy ’n dakrak of daktent wil laat opsit nie;
- Jy kan groot kantluike laat insit sodat jy ook van die kant toegang tot die laairuimte het;
- Jou toerusting is veiliger in ’n aluminiumkappie omdat dit byna heeltemal met plaatmetaal bedek word;
- As jou begroting vir meer voorsiening maak as net ekstra pakplek, kan ’n aluminiumkappie baie goed vir kampeergerief toegerus word. Die meeste vervaardigers kan ’n kantluik in pakplek omskep waarin herwinningstoerusting of kombuisgereedskap gebêre kan word, heeltemal afsonderlik van die hooflaairuim. Jy kan ook vra dat die kantluik se deur in ’n tafel omskep word.
NADELE:
- As jy ’n aluminiumkappie vergelyk met ’n vaartbelynde veselglaskappie in dieselfdekleur as die bakkie, laat lyk ’n metaalkappie jou bakkie soos ’n gepantserde aanvalsvoertuig. Hoewel die kappie dieselfde kleur as jou bakkie geverf kan word, kos dit heelwat ekstra en het jy steeds ’n hoekige metaalboks agterop jou bakkie;
- ’n Veselglas- en aluminiumkappie weeg min of meer dieselfde (’n standaard-dubbelkajuitkappie weeg sowat 65 kg). Maar as jy heelwat bykomstighede op jou aluminiumkappie laat aanbring, sal jy dalk jou vering moet opgradeer vanweë die ekstra gewig.
Bl 2: Seilkappies
OORWEEG EEN VAN DIÉ TWEE: i) AFRICAN OUTBACK ALUTOP; ii) ALU-CAB

i) AFRICAN OUTBACK ALUTOP
Reguit van die rak af agterop jou bakkie
African Outback bou ’n standaard-aluminiumkappie vir die gewildste bakkiefabrikate wat vinnig en maklik agterop vasgebout kan word. As jy egter ’n minder bekende model ry, sal jy dalk ’n paar weke moet wag omdat die kappie spesiaal van die fabriek bestel moet word.
Die kappie het twee groot, sluitbare kantluike, ’n volgrootte glasruit agter en ’n kaseenheid vir een van die luike. Opsionele ekstras sluit in skuifvensters aan die kant, ekstra kantluike, sportrelings bo-op en die kappie kan in dieselfde kleur as dié van jou bakkie geverf word.

Prys?
Van R14 700 tot R23 400 vir die basiese model (dit sal afhang van die grootte van jou voertuig se laaibak). Beskikbaar by uitgesoekte 4×4-winkels, o.m. Safari Centre en 4×4 MegaWorld.
Kontak?
African Outback Products
011 392 1777;
www.africanoutback.co.za
WegRy sê: Die kappies kos dalk ’n bietjie meer as party ander, maar African Outback het ’n standaardmodel vir die meeste 4×4’s. Dit het ook ’n landwye handelaarsnetwerk.
ii) ALU-CAB
Doelgemaakte gerief – van ’n bed tot ’n TV
Alu-Cab is bekend vir sy doelgemaakte kappies, maar bied ook ’n basiese aluminiumkappie vir alle gewone enkel- en dubbelkajuitbakkies.
Jy kan uit die groot klomp ekstras kies – van binneligte en gassilinderhouers tot ’n tafelblad wat uitgly en ’n volledig toegeruste kombuis – en dit aan die basiese aluminiumkappie laat aansit.
Of jy kan saam met Alu-Cab se ingenieurs jou droomkappie ontwerp. Hulle sal – natuurlik binne perke – vir jou bou wat jy wil hê, onder meer ’n kampeerkappie met beddens, ’n kombuis en selfs ’n ingeboude TV …

Prys?
Van R13 550 vir die basiese kappie. Afhangende van die ekstras wat jy kies, kan die prys aansienlik styg. ’n Doelgemaakte kappie kos minstens R50 000, maar ’n ingewikkelde ontwerp kan jou honderdduisende rande uit die sak jaag.
Kontak?
Alu-Cab
021 761 0869;
www.alu-cab.co.za
WegRy sê: Hoewel Alu-Cab ’n Kaapse firma is, is hulle ook gerat vir kliente in die noorde.
Bl 3: Seilkappies
2. SEILKAPPIES
’n Seilkappie is meer tuis op ’n wildreservaat en ’n plaas as in Sandton, en is minder gewild as ander soorte kappies, omdat dit nie jou goed eintlik kan beveilig nie. Wat is dus die aantrekkingskrag van seilkappies?
“Dit is ’n kwessie van smaak,” sê Almarié Murray van Fakawi Canopies. “Sommige mense verkies eenvoudig die voorkoms van seil.”
En jy moet dit toegee – dit gee ’n besondere Kingsley Holgate-agtige avonturiervoorkoms aan ’n 4×4.
VOORDELE:
- Dis baie ligter
as veselglas of metaal (’n seilkappie vir ’n dubbelkajuitbakkie weegsowat 25 kg), wat beteken daar is minder gewig op jou vering; - Dis baie makliker om af te haal as jy jou bakkie vir iets anders as ’n 4×4-ekspedisie wil gebruik;
- Danksy die kappie se sy-flappe is dit kinderspeletjies om van die kant toegang tot die laairuimte te kry.
NADELE:
- Gebrek aan veiligheid;
- Hoewel seil taai en waterbestand is, sal dit nie so lank hou soos ’n metaal- of veselglaskappie nie. “Met gereelde gebruik, sal dit tot vyf jaar hou,” sê Almarié. “En dit sal heelwat langer hou as die kar meestal in die garage staan.”
OORWEEG DIÉ EEN: i) FAKAWI CANVAS CANOPY

FAKAWI CANVAS CANOPY
Seil weg boendoes toe
Die hoë gehalte van die materiaal en vervaardiging verklaar dalk die stewiger prys van hierdie produk in vergelyking met dié van ander seilkappie-vervaardigers.
Soos ’n seilkoepeltent is dit heeltemal waterbestand, en die kappie self is stofdig (maar soos met alle bakkies, sal daar steeds ’n bietjie stof by die agterklap inglip).
Prys?
R8 700-R11 500, afhangende van die grootte van jou bakkie se laaibak.
Kontak?
Fakawi Canopies
012 998 7514;
www.fakawi.co.za
WegRy sê: Jy kan ook ’n muskietnet in die vensters laat sit as jy onder die kappie wil slaap, of ’n versterkte raamwerk kies waarop ’n dakrak of daktent gesit kan word.
Bl 3: Seilkappies
Só maak jy korte mette met stof
Ondanks ’n kappie agterop jou bakkie sal stof steeds deur die gate om die agterklap insypel as jy op ’n grondpad ry. Die rede daarvoor is die verskil in lugdruk tussen die binne- en buitekant van die kappie wat die stof insuig soos jy ry.
Hier is twee maniere om stof in die kappie te verminder:
- Stop die gat.
’n Paar vervaardigers soos Alu-Cab en African Outback maak ’n stofseëlstel, basies ’n rubberstrook wat die gaping tussen die agterklap en die onderkant van die laaibak verseël.
- Laat die lug inkom.
Afhangende van die aërodinamika van jou bakkie kan dit help om die skuifvenster aan die voorkant van die kappie oop te maak om te keer dat die lugdruk in die kappie daal. Op dié manier sal minder stof ingesuig word. Party glas-veselkappies het spesiale ventilasiegate wat dieselfde uitwerking het.

Oorweeg ook dié vervaardigers:
AHA Outdoor Systems 083 653 4642;
Canopy Caravan 016 365 5081/7;
Everything Outdoors 082 499 2211;
Front Runner 011 466 0155;
GR Travel Tops 083 632 6406;
Kango Canopies 011 397 7753;
Map & Trail 021 982 2300;
Radical Tops 011 394 6873;
Rhino Canopies 011 815 5740;
Steeltop Canopies 082 567 6140
| WR_Toerusting Kappies.pdf | 552.2 KB |



