Bakkiekappies | Alles onder een dak

As jy meer plek in jou bakkie soek, moenie jou skoonfamilie by Augrabies aflaai nie … oorweeg eerder ’n bakkiekappie.
Daar is goeie redes waarom veselglaskappies loshande die eerste keuse van bakkie-eienaars is – hulle is vaart-belyn, pas by die kleur van jou voertuig én is boonop bekostigbaar.
Maar hoe geskik is hulle vir veldry?
“Hulle is heeltemal goed genoeg vir veldry,” sê Mark Polson van Andy Cab. “Maar as jy ’n dakrak of daktent wil laat opsit, sal jy die vervaardiger moet laat weet. Die kappie sal dan versterk moet word sodat dit die ekstra gewig kan dra.”
Horst Kellerman van Safari Centre stem saam: “ ’n Veselglaskappie is beslis taai genoeg vir veldry. Eers as jy ’n dakrak laat opsit, kan jy probleme begin kry.
Ons kan net in ’n enkellaag-kappie gate boor; dit kan glad nie gedoen word met ’n kappie met ’n dubbellaag of binnevoering nie.”
Dis ook belangrik dat die kappie bo plat is, sê Horst. “Party kappies het ’n wipflap en relings wat in die pad kom.”
Maar waarom sit almal met ’n 4x4-bakkie dan nie net ’n veselglaskappie op nie? Om makliker by jou goed te kan kom, my kind … By die meeste veselglaskappies is die enigste manier waarop jy by jou toerusting kan kom, deur die agterste luik.
Ja, daar is wel kantvensters, maar hulle is dikwels nie groot genoeg om ’n ammoboks of jerrykan deur te pas nie. Wat veronderstel is om ’n vinnige koffie-en-beskuit-stilhou te wees, kan dus in ’n allemintige uitpakkery ontaard …
Dis waar doelgeboude 4x4-kappies soos aluminium- en seilkappies in die prentjie kom.



1. ALUMINIUMKAPPIES
Hierdie kappies raak toenemend gewilder omdat dit so geskik is vir 4x4 ry en Afrika-reise. Binne die kappie kan jy watertenks en ’n pakstelsel inbou, terwyl jy bo-op maklik ’n dakrak of daktent kan laat opsit vir ’n volledige “huis op wiele” agterop jou bakkie.
’n Aluminiumkappie is veral ’n goeie keuse as jy die alles-in-een-gerief van ’n veldsleepwa wil hê, maar ernstig is oor veldry en byvoorbeeld nie ’n sleepwa oor die duine van die Namib kan sleep nie.
Maar daar is beperkings: As jy ’n groot gesin het of wil kamp opslaan en dan eers wild gaan kyk, gaan ’n bakkiekappie nie te goed werk nie, sê Jasper Hewitt van Bushwakka. Koop dan eerder ’n veldsleepwa.
VOORDELE:
- Omdat dit heeltemal uit metaal (hoofsaaklik aluminium) gebou word en lekker robuus is, sit jy nie met die tipiese nadele van veselglaskappies nie – dis byvoorbeeld nie nodigom die kappie te versterk as jy ’n dakrak of daktent wil laat opsit nie;
- Jy kan groot kantluike laat insit sodat jy ook van die kant toegang tot die laairuimte het;
- Jou toerusting is veiliger in ’n aluminiumkappie omdat dit byna heeltemal met plaatmetaal bedek word;
- As jou begroting vir meer voorsiening maak as net ekstra pakplek, kan ’n aluminiumkappie baie goed vir kampeergerief toegerus word. Die meeste vervaardigers kan ’n kantluik in pakplek omskep waarin herwinningstoerusting of kombuisgereedskap gebêre kan word, heeltemal afsonderlik van die hooflaairuim. Jy kan ook vra dat die kantluik se deur in ’n tafel omskep word.
NADELE:
- As jy ’n aluminiumkappie vergelyk met ’n vaartbelynde veselglaskappie in dieselfdekleur as die bakkie, laat lyk ’n metaalkappie jou bakkie soos ’n gepantserde aanvalsvoertuig. Hoewel die kappie dieselfde kleur as jou bakkie geverf kan word, kos dit heelwat ekstra en het jy steeds ’n hoekige metaalboks agterop jou bakkie;
- ’n Veselglas- en aluminiumkappie weeg min of meer dieselfde (’n standaard-dubbelkajuitkappie weeg sowat 65 kg). Maar as jy heelwat bykomstighede op jou aluminiumkappie laat aanbring, sal jy dalk jou vering moet opgradeer vanweë die ekstra gewig.
- 1
- 2
- 3
- 4
- volgende >
- laaste >>




Kommentare
Ek is nou al deur die hele lot! Kamp in tent, daktent, sleepwaens en karavane. Daar is net een wat werk....die AHA.
Die beste dng wat ons, in belê het !!!
Groete.Hier in die Kalahari ry ons daagliks uiters slegte grondpaaie.Vir myself en my vriende bly Beekman kappies beslis die beste uit 'n gehalte en duursaamheids oogpunt.Mooier en moderner voorkoms kappies hou net nie op ons paaie (ek gaan nie al die handelsname noem nie !).Voorts is die standaard kappie reeds sterk genoeg en het Beekman my die versekering gegee dat hul kappies staties 500kg kan dra en 250kg dinamies (m.a.w. in die ry).Die info is vir my gegee vir elk van 3 Hilux bakkies waarvoor ek 'n kappie opgesit het ('97, '99 en 2005 dubbelkajuite).Kyk dus rond voor jy koop en kyk beslis na Beekman.
Cobus
Volgens my is bakkie tralies met 'n syl kap die heel beste want dan het jy die beste van twee werelde vir minder geld as 'n veselgalskapie
In Mosambiek steel hulle die ou 3 hoeke van jou bakkie af en verkoop dit weer aan jou terug.Wat doen jy as jou kompressor ook weg is?Been there,done that.Ons dorpsjapies van JHB weet jy moet alles toesluit,behalwe miskien in Bots of Zambie.
Pos nuwe kommentaar