Allesdoenmesse | Op ’n mespunt

Of jy dit nou gebruik om die punt van ’n gebreekte remkabel te buig, ’n
stuk biltong te kerf (of jou naels skoon te maak), ’n allesdoenmes is ’n onmisbare stuk gereedskap in die veld. Hier is ’n paar van ons gunstelinge.
CRKT GUPPIE
(sien foto: bo, links)
Die Amerikaanse CRKT (Columbia River Knife and Tool) is bekend vir hulle
vindingryke, hoëgehalte lemme en allesdoenmesse.
Die Guppie is die baba in hul reeks – dit weeg net 116 g (soveel soos ’n sjokoladeslab) en pas gemaklik in jou handpalm – maar dis nogtans ’n verbasend veeldoelige stukkie gereedskap dié.
Gebruik die verstelbare sleutel om moere vas of los te draai en vir ander ligte hersteltakies, maar wees gewaarsku: die bek kan hoogstens 1,25 cm oopmaak – nie geskik om jou wielmoere los te kry nie.
Verder kan jy kies tussen vier wisselbare skroewedraaierkoppe (twee plat en twee Phillips), ’n 5,1 cm-lem en ’n botteloopmaker.
Die LED-werkliggie is ook knap. Jy kan dit verwyder sodat jy dit in jou een hand kan hou sodat jy kan sien terwyl jy met die Guppie in die ander hand werk.
Funksies? 8
Prys? R270
Kontak? Sharp Edge 011 883 1856; www.sharpedge.co.za
WegRy sê: Kompak en slim, maar dit gaan waarskynlik nie jou Leatherman vervang nie.
VICTORINOX RESCUE TOOL
(sien foto: onder, links)
Met sy kenmerkende kruis-en-skild is die Rescue Tool onmiskenbaar deel van die Victorinox-stal. Maar dis ’n perd van ’n heel ander kleur as die geliefde Switserse weermagmes.
Die opvallendste verskil is die glimgeel handvatsel, maar die eintlike verskil lê in wat hy kan doen. Soos die naam te kenne gee, is die Rescue Tool ontwerp met ongeluksituasies in gedagte. Daarom kry jy goed soos ’n glasbreker waarmee jy ruite kan breek en ’n geboë, getande lem waarmee jy deur iets soos ’n sitplekgordel kan sny.
Selfs al gaan jy dit nooit gebruik om iemand uit ’n motorwrak te red nie, het dit ook ’n meslem, ’n plat skroewedraaier, ’n Phillips-skroewedraaier en daardie ou Victorinox-gunstelinge: ’n tweezer en ’n tandestokkie in die handvatsel.
Funksies? 12
Prys? R580
Kontak? Sharp Edge 011 883 1856; www.sharpedge.co.za
WegRy sê: Ons hou van dié een, maar moenie net vir ons glo nie: die Rescue Tool is in 2007 by die IWA, die grootste mesuitstalling ter wêreld, as die mes van die jaar aangewys.
LEATHERMAN SKELETOOL
(sien foto: bo, regs)
Leatherman is die alombekende allesdoenmes en die Skeletool is die groep se jongste produk.
Die Skeletool verskil heelwat van die vorige modelle: Sy vorm is anders, met
’n asimmetriese ontwerp wat volgens Leatherman gemakliker in jou hand pas (kyk eers self voor jy koop; ons het van heelwat mense gehoor wat die oorspronklike vorm verkies).
’n Ander verskil is sy aantal funksies, of eerder die gebrek daaraan. Ná hy besef het almal wil nie met ’n hele gereedskapskis op die heup rondloop nie, het Leatherman net die gewildste funksies behou: ’n lem, ’n botteloopmaker, ’n plat skroewedraaier en tang.
Die gevolg? ’n Allesdoenmes wat net 142 g (effens swaarder as ’n blikkie
sardientjies) weeg.
Funksies? 8
Prys? R720
Kontak? Awesome Tools 021 975 2700; www.awesometools.co.za
WegRy sê: Hy weeg die helfte van party ander Leatherman-allesdoenmesse. Besluit wat is belangriker: ’n ligter gewig of baie funksies?
GERBER FREEHAND
(sien foto: onder, regs)
Wie sê swaardiens-allesdoenmesse moet ingewikkeld wees om te gebruik? Die Freehand is dalk Gerber se grootste en taaiste allesdoenmes, maar dis steeds kinderspeletjies om daarmee te werk.
Jy kan byvoorbeeld die tang oopskud met ’n vinnige gewrigsbeweging (vandaar die naam “Freehand”).
Elke stukkie gereedskap maak maklik en afsonderlik van mekaar oop: as jy dus die saag oplig, kry jy net die saag … die skroewedraaier en skêr bly waar dit is.
As jy met ’n skerp staalvoorwerp soos dié werk, is dit belangrik dat jou vingers nie in die slag bly nie. Dis hoekom Gerber se gepatenteerde SAF.T Plus-sluitstelsel so nuttig is, want dit hou alles veilig op sy plek.
Funksies? 11
Prys? R1 190
Kontak? Ramrod 011 462 6986; www.ramrod.co.za
WegRy sê: Gerber verdien ’n klop op die skouer omdat hy aandag gegee het aan een van die grootste swak punte van allesdoenmesse: lemme wat breek (danksy mense wat dit as ’n koevoet gebruik om goed oop te dwing). Die Freehand se lem is ’n goeie 2,5 mm dik.




Kommentare
Pos nuwe kommentaar