Ry saam Liuwa Plains toe



Chobe, die Zambezi-rivier en -vloedvlakte, en natuurlik die skouspelagtige Liuwavlakte Nasionale Park … Sluit by ons aan wanneer WegRy Toere (aangebied deur Bhejane 4x4 Adventures) in November vanjaar dié bekende bestemmings verken.

Hier is wat jy alles kan verwag

Dag 1:
Ons ontmoet mekaar by die Thebe River Lodge in die dorp Kasane, in die noordooste van Botswana. Hier loop die vlakvarke sommer in die hoofstraat rond en peusel die olifante aan die maroelabome.
Met jou aankoms sal die tente klaar opgeslaan wees en die sjef besig om kos te maak. Die aand sal ons mekaar leer ken terwyl die son oor die Chobe-rivier sak.

Dag 2:
Ná ’n stewige ontbyt vertrek ons op pad na Katima Mulilo in Namibië. Nadat ons brandstof ingegooi het, steek ons die grens oor na Zambië.
Omdat dit ’n rukkie kan neem, reis ons daarna net 115 km ver na ons volgende oornagpunt by die Sioma Lodge.
Dié blyplek met sy netjiese geriewe is geleë op die oewer van die Zambezi en die Bhejane-span sal weer kamp opslaan en heerlike kos voorberei.

Dag 3:
Die avontuur begin nou in alle erns as ons noordwaarts ry op Zambiese grondpaaie wat al jare lank nie onderhou word nie. Ons bereik gou die oostelike oewer van die Zambezi met ’n veerboot en reis dan verder oor Senanga voordat ons vir 110 km met ’n puik teerpad na Mongu ry. Daardie aand slaap ons by ’n Suid-Afrikaans beheerde sendingstasie met goeie geriewe.

Dag 4:
In Mongo kom ons weer ’n bietjie “beskawing” teë, waar ons brandstof sal ingooi en selfs inkopies by die plaaslike Shoprite doen! Daarna reis ons in ’n westelike rigting na die 50 km breë vloedvlakte van die Zambezi. In die laat-somermaande is dit heeltemal onder water.
Op pad daarheen sal ons verby die winterwoning van die Lozi-koning ry. Tydens die kleurryke Kumbuka-seremonie roei die koning en sy gevolg op kano’s van sy winterwoning na ’n droër blyplek vir die somer.
Hier steek ons weer die magtige Zambezi oor met ’n veerboot voordat ons ry na die dorp Kalabo, waar ons die paspoorte sal laat stempel en permitte vir die Liuwavlakte Nasionale Park kry.
Op pad na die noorde sal ons die veerboot oor die Luanginga-rivier neem om by die suidelike vlaktes van die park te kom. Terwyl ons dieper in die park inbeweeg, sal ons die eerste troppe wildebeeste teëkom. Vir die volgende drie dae bly ons in ’n lekker boskamp met koue storte en spoeltoilette.

Dag 5/6:
Ná ’n stewige ontbyt kies ons koers na die amper eindelose horisonne van die park en sal die konvooi verdeel in kleiner groepies sodat ons nader aan die troppe wild kan kom.
Ons bring twee volle dae in die Liuwa-vloedvlakte deur om alles behoorlik te waardeer. Dit sluit in die panoramiese landskap, die duisende wildebeeste en, as ons gelukkig is, die roofdiere wat hulle jag. Vir voëlkykers is daar groot swerms mahems, talle sekretarisvoëls en heelwat kleiner spesies.

Dag 7:
Ongelukkig moet ons oppak en die park verlaat, hoewel daar nog heelwat avontuur voorlê tydens ons tog suidwaarts. Ons sal die watertenks volmaak in Kalabo en dan koers kies na Barotseland – een van die mees ongerepte gebiede in Zambië.
Daardie aand slaan ons kamp op in die bos. Dis ’n regte ontdekkerservaring en soos gewoonlik sal die Bhejane-span seker maak dat daar lekker kos, storte en skoon opslaantoilette is.

Dag 8:
Vandag moet ons betyds by die Sioma Lodge uitkom sodat ons die Ngonya-waterval kan bereik.
Dié waterval is een van die Zambezi se bes bewaarde geheime en hoewel dit nie so groot is soos die Victoria-waterval nie, is dit meer ongerep en nie gekommersialiseer nie.
Ons laaste aand in Zambië kamp ons by die Sioma Lodge.

Dag 9:
Ons volg ons voetspore terug via Katima Mulilo na die Thebe River Lodge in Kasane in Botswana. Daar bring ons die laaste aand rustig om die vuur deur.

Dag 10:
Ná ’n heerlike ontbyt groet ons ons nuwe vriende en reisgenote voordat ons oppak en huiswaarts keer.

Hier’s alles wat jy moet weet

Hoe lank is die toer?
9 nagte en 10 dae

Wanneer?
22-31 October 2011

Waarvandaan vertrek die toer?
Kasane in Botswana

Wat met ek bring?
•    Jouself en jou gesin
•    Jou paspoort
•    Jou voertuig en brandstof
•    Jou eie slaapgoed (slaapsak, matras, kussing, ens.)
•    Jou eie stoele
•    Jou eie drink- en peuselgoed

Bhejane verskaf alle tente, tafels en eetgerei vir die toer.

En kos?
Bhejane se ervare boskok sal drie heerlike etes per dag berei.

Waar slaap ons?
Tentverblyf. Jy hoef nooit ’n vinger te verroer nie, omdat Bhejane se logistieke span alles doen.

Hoeveel kos dit?
2010: R9 750 per persoon (kinders onder 10 betaal halfprys)
2011: R10 250 per persoon (kinders onder 10 betaal halfprys)

Die toerprys sluit in:
•    Drie stewige etes per dag
•    Alle kamp- en parkgeld
•    Tweerigtingradio’s
•    ’n Professionele toerleier en ervare veldgids

Ja! Ek wil gaan

Moenie uitstel nie. Om plek te bespreek vir jou en jou gesin, kontak Dennis vandag by
Tel 044 535 9257;
Sel 082 572 4945
of stuur ’n e-pos na info@bhejane.com


Kommentare

wat type of food is offered, as the wife is a selective eater!

This isn't a luxurious expedition, so don't expect gourmet buffets in the bush.

Suppers are braais, potjies or pasta dishes accompanied by one or two salads and/or a hot veggie dish. Fresh bread is baked every night. Every second night, travellers can feast on dessert of hot pudding made on the coals.

Lunches are enjoyed on the road and consist of sandwiches with a variety of meats, wraps and fresh veggies.

On days when camp has to be left early, breakfast is coffee with rusks, cereals and hot porridge. On days when there's more time, everyone enjoys a breakfast/brunch with omelettes, french toast or fried egg with savoury mince or beef patties or sausage.

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association