Kom ry saam deur die hart van die Kalahari!

Kom saam met WegRy Toere (aangebied deur Bhejane 4x4 Adventures) op diep sandroetes deur die Kahalari. Verken saam die Mabenyane a Kalahari-konsessiegebied in Botswana, Mabuasehube en ook die Kgalagadi-oorgrenspark, en verkyk jou aan die swartmaanhaarleeus en ’n fees van roofvoëls.
Dís wat jy kan verwag
Dag 1: Ons kry mekaar by die Cornwall Lodge naby Werda, 40km van die Bray-grenspos in Botswana. Teen die tyd dat jy daar aankom, sal die tente opgeslaan wees en kan jy afkoel in die swembad by die lodge. Ons bossjef sal die eerste van ons bosdisse berei vir aandete. Ons bring die aand rondom die vuur deur, waar ons mekaar beter leer ken.
Dag 2-4: Ons ry deur een van die wildste en mees afgeleë plekke in Suider-Afrika, waar ons menslike GPS (’n betroubare Boesmangids) die pad wys. Die roete bestaan uit tweespoorpaadjies en kaplyne deur die rooi Kalaharisand en grasvelde. Ons ry deur deur panne met name soos Ghankwe, Towe en Gha, waar die reuse-eland, springbok, gemsbok en die Kalaharileeus hul dors kom les.
Dag 5-6: Ná ’n heerlike ontbyt beweeg ons na die dorpie Hukuntsi in die noordelike deel van die konsessiegebied, waar ons water en brandstof sal aanvul. Ons beweeg suidwaarts na Mabuasehube aan die Botswana-kant van die Kgalagadi-oorgrenspark, waar ons twee aande in dieselfde kamp slaap op die rand van die Manuapan. Die gebied is bekend vir sy leeus, luiperds, jagluiperds, ratels en bruinhiëna.
Dag 7: Vandag kyk ons wild in die omgewing terwyl die span die kamp na Mtopi skuif.
Dag 8: Na ’n lekker groot ontbyt slaan ons kamp op en beweeg effens nader aan die samelewing tot by die Nossob-kamp aan die Suid-Afrikaanse kant van die oorgrenspark. Nossop het ’n klein winkeltjie, warm storte en ’n swembad. Daar is genoeg tyd om wild te kyk by die Nossop-rivier voor skemerkelkies. Daarna eet ons die laaste keer ’n heerlike aandete onder die sterre.
Dag 9: Na ’n rojale ontbyt moet ons ongelukkig ons nuwe vriende groet en huiswaarts keer. Gelukkig sal jy steeds wild kan sien op pad na Twee Rivieren, waar ons ons paspoorte laat stempel en die park verlaat.

Hier’s wat jy alles moet weet
Hoe lank is die toer? 8 nagte, 9 dae
Wanneer? 11-19 Februarie 2012
Waarvandaan vertrek die toer? Van die Cornwall Lodge naby Werda
Wat moet ek bring?
- Jou gesin en vriende
- Jou eie voertuig en brandstof
- Jou eie slaapgoed en stoele
- Jou eie drink- en peuselgoed
En kos? Die toerprys sluit drie stewige etes per dag in.
Waar slaap ons? Tentverblyf
Hoeveel kos dit? R9 650 per persoon (kinders onder tien betaal halfprys)
Die toerprys sluit in:
- Drie etes per dag
- Alle blyplek
- Tente, tafels en eetgerei
- Alle kamp- en parkgeld
- Tweerigtingradio’s
- ’n Ervare natuurbewaarder en avontuurgids

Ja! Ek wil graag gaan
Moenie uitstel nie! Om plek te bespreek vir jou en jou gesin, kontak Dennis vandag nog by 044 535 9257; 044 535 9257 (faks); 082 572 4945; info@bhejane.com




Kommentare
Ons beplan om Augustes 2012 Sarengeti & kenya toe te gaan, ons is op soek na mense wat ook daai tyd gaan maar wat nie wil alleen gaan soos ons. E pos my op christa@eastc.co.za
Hi Marthie. Dit klink soos 'n baie lekker toer. Ek het jou vraag op ons nuwe forum, WegRy Kampvuur, gesit sodat ons lesers dit kan sien en dalk saamry. Jy kan die draad op die forum sien deur hier te klik: http://www.wegry.co.za/forum/showthread.php?152-Serengeti-amp-Kenya-Augustus-2012&p=659#post659
Hoop dit help!
Pos nuwe kommentaar