Ervaar die Vredefort-koepel

Vredefort koepel 1

Ken jy die wonderlike geskiedenis en geografie van die Vredefort-koepel en omstreke tussen Potchefstroom en Parys? WegRy Toere (in samewerking met Dome Adventures) sal jou gaan wys tydens die Aardklop-kunstefees.

Die toerplan:

Kom ry rustig saam met ons deur die Vredefort-koepel, ’n Wêrelderfenisgebied. Die koepel is nagenoeg 2 000 miljoen jaar gelede gevorm toe ’n reuse-meteoriet – groter as Tafelberg – die aarde getref het. Dis die wêreld se grootste meteorietkrater.

Ons ry van Potchefstroom af na die myndorp Venterskroon met die Schoemansdriftpad. Hier stap ons 1,5 km deur die tonnels by die historiese goudmyn. ’n Kundige gids sal jou meer vertel van die plante, diere en geskiedenis van die goudmynbedryf.

Venterskroon dateer van 1889, en by die inligtingsentrum sal ons ’n kort video sien oor die koepel, met meer oor die geologie en geskiedenis van die omgewing.

Ons besoek die grootste olienhoutbos ter wêreld, wat tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar is.
Jy gaan waardevolle geologiese agtergrond kry oor kwartsiet en granoferiese gesteentes, en die gids gaan onder meer Khoi-San-tekeninge op die kratervloer uitwys.

Vredefort koepel 2

Hier’s alles wat jy moet weet:

Hoe lank is die uitstappie? Dis ’n halfdaguitstappie van sowat 80 km, en dit gaan sowat 5 uur duur.

Waar kry ons mekaar? Die toer begin om 07.00 by die Dros op Potchefstroom. Dit eindig om 12.00.

Wanneer? Woensdag 5 Oktober en Vrydag 7 Oktober

Wat kos dit? R280 per persoon vir volwassenes en R250 vir kinders onder 12. Kinders jonger as 3 betaal nie. Intekenare van WegRy kry 10%-afslag.

Wat sluit dit in? Dit sluit ’n ligte middagete, tweerigtingradio’s en tarief vir ’n ervare gids in.

Wat moet ek bring? Jou eie voertuig en brandstof; iets om aan te teug en te peusel (maar ’n ligte middagete is by die prys ingesluit).

Het ek ’n 4x4 nodig? Nee, ’n 4x2 sal die roete kan ry.

Ja! Ek wil gaan:

Om jou plek te bespreek, bel Anselie Hoffman by *021 446 1044 tussen 09.30 en 17.00 of stuur e-pos aan Anselie Hoffman. Plek is beperk; bespreek dus so gou as moontlik. Bevestig asseblief jou intekennommer.

Vredefort koepel 3


Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association