Pin It

SsangYong Actyon Sports


SsangYong_Actyon_small

Ssangyong Actyon Sports

SsangYong het onlangs saam met die bekendstelling van die Korando SNV ook die nuwe Actyon Sports bekend gestel. Dis redelik goed toegerus, met die normale goed soos snelheidsbeheer, MP3-gerief en Bluetooth. Net die duurder De Luxe-model het elektroniese stabiliteitsbeheer. 

Die gewone modelle het 16 duim-wiele, terwyl laasgenoemde met 18-duim wiele toegerus is. Hoekom ’n mens 18 duim-bande op ’n bakkie wil sit, is effens onverklaarbaar, maar daar is waarskynlik ’n paar insleepdiensmanne wat snags wakker lê en hieroor fantaseer. 

Die enigste model wat ons tydens die bekendstelling kon ry, was die 2 liter-turbodiesel wat 114 kW krag en 360 Nm wringkrag ontwikkel. Saam met die sesganghandratkas bied dit meer as genoeg woema vir die meeste aanwendings. SsangYong maak ook aanspraak op ’n brandstofverbruiksyfer van 8 liter/100km – wat uitstekend is as dit waar is. Die reeks bestaan eintlik uit drie modelle – ’n 4×4 met ’n 2,3 liter-petrolenjijn (110 kW en 214 Nm) twee turbodiesels met onderskeidelik 4×2 en 4×4-aandrywing.

Hoewel die grondvryhoogte slegs 188mm is, is sy sleepvermoë (geremde sleepwa) 2300kg vir die dieselmodelle en 1800kg vir die petrolmodel. Vir ongeremde sleepwaens is dit 750 kg. Die pryse is as volg: 4×4 HR Std R269 995; diesel 4×2 HR Std R279 995; en diesel 4×4 HR De Luxe R319 995.