Ons 4x4-verjaardagviering

WegRy se sustertydskrif, Drive Out, is 10 jaar oud (wat WegRy ook maar eintlik 10 jaar maak omdat ons uit Drive Out gebore is).
Om dit te vier het ons ons lesers genooi om saam met ons te kom partytjie hou vir die naweek van 22 en 23 Oktober by KlipbokkopDrive Out is tien jaar gelede hier bekend gestel deur New Media Publishing se Naomi Herselman (uitgewer) en Geoff Dalglish (redakteur).
    Gerhard Groenewald, die eienaar van Klipbokkop en een van die mees gerekende 4x4-instrukteurs en-kenners in die land, loop ook al ’n lang paadjie saam met WegRy en Drive Out. Hy en sy seun PG het die twaalf voertuie en amper dertig lesers op die Saterdag-oggend net so vinnig gaan touwys maak in hulle quarry-gat – amper so vinnige opwarming – en toe’t ons die pragtige bergroete gepak.
    Die volgende dag het ons Klipbokkop se sandroete gaan ry – ’n hindernisbaan net langs die Brandvleidam. Dit het saggies gereën, wat die sand bietjie meer kompak gemaak het, en makliker om te ry, maar ons het nog steeds groot sports gehad.

Hier’s ’n paar foto’s van die naweek:

1. 

In die quarrygat. PG Groenewald gesels met die mense terwyl Gerhard wys dat ’n dieselbakkie in laestrek eersterat teen ’n kwaai bult kan uitluier, sondat dat jy hoef vet te gee.
(foto's: Magriet Theron)

2.

Die Groot Leier. As Gerhard Groenewald nie oor ’n 4x4-hindernis kan kom nie, dan kan jy maar weet dis onmoontlik om daar oor te kom.

3.

Hennie en Cathy Pretorius se rooi petrol-Colt stap teen daai berg op asof dit ’n Sondagmiddag wandelinkie is… Hennie het heelnaweek uitstekend bestuur – veral op die sandbaan.

In die agtergrond is Petré Knoblauch en Cornel Faure se pragtige 1971 Land Rover Series 2A besig om ’n driepuntdraai te doen.

4.

Een van Gerhard se vloot Hilux’e.
Gerhard doen 4x4-opleiding op Klipbokkop met sy bekende Goodyear Serious Freedom 4x4 Academy, en hy toets ook bande vir Goodyear en voertuie vir ’n verskeidenheid maatskappye.
Gerhard was ook eintlik die man agter Toyota se 4x4 Eco Challenge.

5.

Die hele konvooi reg bo-op die berg waar ons middagete geëet het in die veld.

As jy van hier af so entjie na regs stap, kan jy in die pragtige afgeslote Stetynskloof inkyk en ook doer op die horison na Worcester.

6.

Die aanloop tot die laaste klimmetjie na die hoogste punt van die roete. Nou raak dit bietjie tegnies.

7. 

Dit lyk nie so steil op ’n foto soos dit is nie.
Nietemin het Hennie Pretorius nie eers ’n sweetjie op sy voorkop gekry nie.

8.

Klaas en Wouda de Rooy het ’n pragtige 3-liter diesel Jeep gery. Hy’t veral die sandroete opgekou soos ’n skon met aarbeikonfeit en room…

9.

Robert en Amande de Reuck se Isuzu is nou ’n voorbeeld van hoe ’n harde veldwa moet lyk. Dié bakkie het ook vir die roete gelag.

10.

En anderkant af… In die agtergrond lê die Brandvleidam en daai klein wurmpies teen die duin aan die bo-kant van die foto is eintlik Klipbokkop se sandroete.

11.

Doer in die agtergrond raak dit wasig Klein Karoo se kant toe.
Klipbokkop se roetes is ongelukkig nie oop vir individue nie, maar as jy in ’n groot groep bespreek kan Gerhard dalk ’n plan maak. Dié naweek het so goed gewerk dat ons die oorweeg om jaarliks so naweek aan te bied. Ons hou jou op hoogte.

12.

En daai rooi Hilux – dis myne. Sy naam is Baby. Hy’s nederig maar hard.

13.

Om ’n rêrige mooi 4x4-roete te ry doen dieselfde vir ’n mens as om berg te klim of in ’n rivier af te roei of iewers in die bos te stap – jy vergeet van die onbetaalde verkeerskaartjies teen die yskas en jou baas wat jou elke dag kou.

 14.

“Die Strand” by Brandvleidam. Gerhard hulle laat jou eers hieroor ry voor jy die hindernisse pak. Dis die beste deel van die dag vir die kinders…

15.

Net toe ons die roete pak, toe sak die reëntjie uit.

16.

Jack Ruis en Leon Bester gooi mielies in die Swart Mamba – Jack se Fortuner.
As jy nie in hierdie draaitjie momentum hou nie sit jy vas op die opdraande wat volg.

17.

Droomkar. Fanus en Dehan Smit looi die bus met die diff-lock’e in.

18

Die baas van die plaas kry lekker as die mense wat ry lekker kry.

19.

Petré Knoblauch gee gas met sy Land Rovertjie.
Hier’s nie ewenaarslotte wat kan help in die oorkruisgate nie so jy moet maar net voet in die hoek en hoop vir die beste!

20.

Die hele kaboedel net voor almal huistoe is.
Volgende jaar maak ons dalk weer so…


Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association