Die trekking is gedoen, ons het ’n Hilux-wenner en die bakkie word volgende week oorhandig – hou maar ons webwerf of Facebook-blad dop vir die foto’s.
Maar nou’s dit weer sulke tyd. Ons gaan nog ’n Hilux ombou en aan ’n gelukkige intekenaar gee! (donderende applous, luide toejuiging, cries of “Hear! Hear!”)
Die keer volg ons ’n heel ander benadering. Ons bou ’n lekker harde safarivoertuig, en die uitdaging wat ons aan onsself gestel het is om dit met ’n begroting van net R120 000 te doen.
Maar voor ons die bakkie kan begin mooimaak, moet ons eers een kry. Ons is druk besig om ’n bakkie te soek onder R55000 – een wat minimale werk nodig het om hom in ’n puik toestand te kry vóór ons hom begin opsmuk.
Die enigste voertuig wat daarvoor sal deug is natuurlik die ou Toyota Hilux’e met die soliede voor-as (verkieslik die 2,2 petrol oftewel 4Y) of dalk ’n ou Toyota Land Cruiser (die 60 Series - verkieslik ’n diesel). Natuurlik moet die voertuie in so ’n goeie toestand as moontlik wees, anders spandeer ons al die geld net om hom op die pad te kry, en dan kry die wenner van die trokkie volgende jaar niks spesiaal nie!
Ek het gister na die eerste kandidaat (1988 Toyota Hilux met 167 000km) gaan kyk en hom na Kaapstad se Meneer Hilux, Allan Venter, geneem vir sy opinie.
Hy meen dit is ’n baie goed opgepaste bakkie. Die bakwerk is nog spotless en die roes wat daar is, is normaal vir ’n Hilux. Daar is so paar goed wat gedoen móét word soos ’n nuwe koppelaar en vering. Die dryf-as het ook ’n bietjie speling waarna jy sal moet kyk.
Allan kwoteer ons R30 000 om dit reg te maak. “Die prys wat hierdie ou vir die bakkie vra is bietjie hoog, veral as jy in ag neem wat nog gedoen moet word.”
Nou vir die volgende kandidaat. Weet iemand waar ons hom gaan kry?

Bakkie #1: Die 1988 Toyota Hilux van Ross Horak waarvoor hy R69 000 soek - wat bietjie onderhandelbaar is.
Onlangse blogs
- Die Bakkieprojek: Deel 8 - ONS HET HOM!
- Die Bakkieprojek: Deel 7
- Die Bakkieprojek: Deel 6
- Die Bakkieprojek: Deel 5
- Die Bakkieprojek: Deel 4
- Die Bakkieprojek: Deel 3
- Die Bakkieprojek: Deel 2
- Die Hilux-kompetisie is verby… Dis tyd vir die volgende een!
- Hilux’e net waar jy kyk (en ’n paar Cruisers tussenin)
- Ons 4x4-verjaardagviering




Lewer kommentaar