Die Bakkieprojek: Deel 7

Ja, so het 2010 se einde verbygeflits en met soos ons die slaap uit ons oë uitvee is Januarie 2011 ook al amper verby. Ek weet nie of dit die Desember-skuld is nie, maar ek het sommer al gou weer na drie verskillende bakkies gekyk.
Die eerste een was die een van die Kapenaar. Dié 1998 2,4 Hilux is in ’n baie goeie kondisie met net 185 000km op die klok. Allan Venter, ons Hilux-guru dink ook so en hy voel dit sal ’n baie goeie kopie wees. Maar teen R85 000 is dit bietjie meer as wat ons beplan het om te spandeer. Dit sal ons met slegs R35 000 oorlos om die bakkie te ombou tot ’n droom-safari-voertuig. Miskien kan ons met hom onderhandel, maar die eienaar het redelik vasbeslote gelyk om die bakkie vir soveel te laat gaan. Nou ja, ons moet maar besluit.
Volgende was die Duitser. Hy het ’n 1997 2,4 Hilux wat hy gekoop het toe hy nog in Duitsland was. Sommer so oor die foon, sonder om die bakkie te sien. Dié het hy toe by sy vakansiehuis in Melkbosstrand gelos n net met hom gery as hy hier was vir vakansies. Hy het so ruk terug permanent Suid-Afrika toe getrek en sy motorhuis is nou te vol vir die bakkie ook. Hy soek ’n nuwe huis. Maar die ding is verroes. Meganies blyk hy nog goed te wees – hy het ook net 185000km op die klok, maar daar is bittermin wat nie geroes is nie. So die Duitser is ook nie vir ons beskore nie.
En dan laaste was die Aussie. Ons het die foto’s van die bakkie so in die kantoor bekyk en vir almal het hy effens vreemd gelyk. ’n 1993 2,8 diesel Hilux, maar hy lyk kompleet soos die volgende generasie Hilux’e wat in Suid-Afrika was. En dis toe ook nou waar die kinkel inkom. Die man wat hom vir 13 jaar besit het, het hom ingevoer van Australië af. So hy lyk nie soos ons Hilux’e hier in Suid-Afrika van daai tyd nie, en hy het ook nie ’n vaste vooras nie, soos ons gewoond is met daai modelle nie. Miskien is dit ’n teken dat dit ook nie vir ons beskore is nie.
So dit is nou dit. Miskien moet ons ’n laer aanbod maak op die Kapenaar se bakkie en ons vingers kruis. Of maar net verder soek… 

die kapenaar

Die Kapenaar met sy 1998 2,4 Hilux

die duitser

Die Duitser met sy 1997 2,4 Toyota Hilux

Die Aussie

Die Aussie bakkie: 'n 1993 2,8 diesel Hilux

Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association