Ali se blog

Dagsê mense

Dis Ali van Wyk hier - die nuwe redakteur van WegRy / DriveOut.

Ek sit nou maar vir die derde dag hier in Barnie Louw se ou kantoor en dinge is nog 'n bietjie nuut. Ek het nog nie kans gekry om behoorlik grond te vat nie en ons is al druk besig met die volgende uitgawe - die Junie/Julie-uitgawe. Van wat ek kan agterkom (!) lyk dit na nog 'n stewige pakkie vol lekker bestemmings, veral in Zambië, en wenke en voertuie.

Ek het darem al op die KKNK saam met WegRy en Bhejane se toer na Die Hel / Gamkaskloof toe gery saam met 'n paar lesers. Dit was baie aangenaam en 'n great idee om weg te kom van die fees se geharwar vir 'n dag. Ons oorweeg dit om die toer volgende jaar oor twee dae te doen - een dag in, oorslaap in tente en die volgende dag uit - om dit minder uitputtend te maak. Maar ons is bekommerd dat dit dalk te duur sal word. Dit sal waarskynlik meer as 'n R1000 per persoon kos, kos ingesluit. Laat weet ons maar wat julle dink.

Hoe dit ookal sy - dit was lekker om 'n paar regte WegRy / DriveOut lesers te ontmoet en selfs ook 'n adverteerder - ou Kallie van Die Blou Meul / Outdoorsman daar in Alberton. Gaan ondersteun vir Kallie en drink 'n koffie saam met hom. Hy vertel fantastiese stories! En die snaakste ding is dat waarskynlik 4 uit elke 5 voertuie wat ons op die pad gekry het ook vol WegRy/DriveOut lesers was. Ons uitstekende gids, Douwe Vlok, het by 'n paar gestop en elke keer is ons verras.

Ek sal later bietjie gesels oor wat ek met die tydskrif beoog. Wat die webwerf betref gaan ons hom van nou af bietjie meer aandag begin gee. Ons eerste prioriteit is om meer lewe in die forums te plaas. Ek sien die web-ontwikkelaars volgende week en dan sal ons begin werk daaraan om dit meer toeganklik en vriendelik te maak. Ons sal ook oor die volgende ses maande probeer om bietjie meer video's en nuus te begin laai en om 'n lekker 4x4 kalender vir die jaar vooruit te bou.

Laat weet my asseblief wat julle dink en laat kom met die idees.

O ja, ek ry 'n Hilux - 'n 1992 2,2 petrol dubbelkajuit - die legende. Hy't niks fancy shocks of langafstand-tenks of enigiets nie. Ek het net self 'n dubbelbatterystelsel geïnstalleer (wat nie lekker werk nie - ek is beter met woorde as drade). Daai ander ekstras is nog in die pyplyn. As jy in Bellville bly - dis die rooi bakkie met die hengse toue om die bull bar - nee ek weet nie, ek het hom so gekoop. Glo iets te doen met kreeftrek. Die bakkie het nie 'n naam nie maar as jy 'n idee het, laat hom kom.

Raait! Laat die wiele rol.

 

Ali

Kommentare

Albertus, jou ry-ding laat jou creds hemelhoog styg hier by my. My Hi-Lux doen deesdae aflewer werk met 'n groot bulk canopy agterop, maar wanneer ek tyd kry dan klim sy Lesotho se berge so hoog soos die donkies. Nog geen sprake van retirement vir haar nie.

Baie dankie Albe.

Ek voel so bietjie soos die ou dominee wat een oggend op die preekstoel geklim het en toe vir die enkele siel in die kerk, 'n ouderling wat stoksielalleen in die voorste bank gesit het, gesê het: "Maar broer De Jager, het julle dan nie vir die gemeente gesê ek preek nie?"
Oom de Jager het so stadig in die rondte gekyk, na al die leë banke, en toe vir die dominee gesê: "Nee dominee, maar dit lyk my die nuus het tog uitgelek."

Ek het nou al twee weke gelede geblog en nog net een reaksie gekry, van Albe, wat nogal juis 'n verlangse familielid is van my pa, wat altyd hierdie ou dominee grappie vertel het. Weereens dankie, Albe!

Maar, dit maak nie saak nie, ek gaan lustig aanhou blog en ek is seker een van die dae gesels ons land en sand. Ek weet die webwerf is nog nie juis vreeslik gebruikersvriendelik nie (ek het nou self tien minute na die knoppie gesoek om in te log), maar ons werk stadig maar seker daaraan, en voor jy jou oë uitvee loop die ding so gesellig soos een van daai ou 2,5 Isuzu dieselenjins.

Sondag gaan ry ek saam met my vriend Piet van Heerde op 'n nuwe 4x4 roete in die Weskus Nasionale Park. Die roete is nog nie oop nie, maar dit word binnekort bekendgestel. Ondersteun ook vir Piet, met sy www.virosatours.com, as jy enige streek in die weste van die land wil gaan besoek - Weskus, Richtersveld, Namakwaland, suidelike Nam, suidelike Botswana. Hy is 'n lekker gids - die real deal.
Ek blog binnekort oor die Weskus-roete.

 

Beste Ali, net om baie geluk te sê met die aanstelling!  Welverdiend.  Mag dit heerlike nuwe uitdagings inhou en 'n groot vreugde wees.

 

Groete

 

Albe Grobbelaar

Lewer kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association