VW Amarok | Maak dit ’n enkel, asseblief

VW Amarok

Volkwagen se Amarok-enkelkajuit is hier. Maar hoe gaan hy vaar in ’n mark tot barstens vol met bakkie-handelsmerke, wonder Jaco Kirsten.

Het jy geweet Suid-Afrika word beskou as die wêreld se grootste en belangrikste mark vir enkelkajuitbakkies? Wat verklaar hoekom Volkswagen se bekendstelling van sy Amarok-enkelkajuit onlangs in die Oos-Kaap ook die wêreldbekendstelling was.

Wat maak die Amarok-enkelkajuit uniek?

Dit is VW se eerste 1-ton-bakkie. Wel, eintlik is dit 1,25 ton vir die 90 kW-weergawe en 1,35 ton vir die 120 kW-weergawe, maar jy kry die idee. Wat beteken dat hy die grootste vragdravermoë én laaibak in die enkelkajuit-bakkiemark het. 

Boonop is hy meganies identies aan die Amarok-dubbelkajuit – ook wat 4x4-elektronika in die duurder modelle betref. Die reeks is beskikbaar in sowel 4x2- en 4x4-modelle, maar vir die doeleindes van dié artikel gaan ons slegs kyk na die 4x4-modelle. 

Die 4x4’s met die 90 kW-enjins is beskikbaar in die intreevlak Basic-model, asook in die duurder Trendline-afwerking, terwyl die 120 kW bakkie net as ’n Trendline te koop is.

Wat gaan aan onder die enjinkap?

Teen dié tyd weet almal van die Amarok 2 liter-dubbelturbodiesel wat te kry is met twee vlakke van kraglewering, naamlik 90 kW en 340 Nm; asook 120 kW en 400 Nm. Later vanjaar gaan die reeks ook vergroot word met ’n 2 liter-petrolturbo, maar tans kan jy kies tussen twee turbodiesels. 

Die Amarok-enkelkajuit-4x4’s se mededingers sien as volg daar uit: Toyota het die Hilux 2.5 D-4D SRX 4x4-enkelkajuit (75 kW en 260 Nm) en die 3.0 D-4D Raider 4x4-enkelkajuit (120 kW en 343 Nm); Isuzu die KB250 D-Teq 4x4 (85 kW en 280 Nm); Ford die Ranger 2.5TD Base 4x4 (80 kW en 257 Nm) en Land Rover die Defender High-Capacity Pickup (90 kW en 360 Nm).

Die Amarok ontwikkel dus oorgenoeg krag teenoor sy mededingers. Op papier, ten minste. As jy aan die beweeg is, moet dit soms gekwalifiseer word. Maar meer daaroor later. Hou ook in gedagte dat VW “verkies” dat jy 50 p.p.m. diesel gebruik in dié enjin met sy gevorderde hoëdruk-piëso-inspuiters. Hoe gaan die enjin vaar ná 100 000km met ons diesel? 

Hoe is hy toegerus binne en buite?

VW Amarok

Afgesien van die afwesigheid van die agterste sitplekke is hy identies aan die dubbelkajuit. Dieselfde sedanmotor-toerustingvlakke. Dieselfde klanktoerusting. Dieselfde ruim afmetings. Trouens, tensy jy met Imelda Marcos getroud is, is daar genoeg ruimte agter die voorste twee sitplekke om ’n stel naweeksakke en ’n kis of twee alkoholvrye bier weg te pak.

Jy moet jouself nou en dan daaraan herinner dat jy in ’n bakkie sit, só luuks is dit. Die knoppe en skakelaars is standaard VW-toerusting en as jy ’n Polo, Golf of Jetta ken, sal dit amper voel of jy in ’n parallelle heelal beland het. Een met ’n reusagtige bak en vierwielaandrywing.

Die skakelaars – weerskante van die ratkierie – om hoë- en laestrek sowel as die agterste ewenaarslot te aktiveer, het ’n rukkie gevat om aan gewoond te raak, maar as jy eers gesnap het dat jy die knoppies ’n sekonde of twee moet inhou voordat hulle doen wat jy wil hê, is dit maklik om te gebruik.

Die ander unieke eienskap in die bakkiemark is ’n stuurkolom wat nie net op en af nie, maar ook teleskopies kan verstel. Saam met die gerieflike sitplekke beteken dit ’n bakkie wat die langpad baie gerieflik kan opeet.

Buitelangs het die reusagtige bak beïndruk. Tydens die bekendstelling het die manne van VW sementsakke van ten minste 600kg agterop vasgemaak en ons het die res van die twee dae só gery. Die enigste probleem is dat daar geen hake aan die bak se kante is nie. Ja, daar is D-ringe op sy vloer, maar dis nie regtig dieselfde nie. 

VW Amarok

Hoe ry hy in die veld?

Die rit was gemaklik, hoewel ons nie ’n oordeel kon fel oor hoe dit sou voel sonder vrag nie. Gegewe die hoë vragdravermoë vermoed ons dat dit dalk ’n bietjie stamperig sal wees. Harder as ’n Hilux? Waarskynlik nie.

Die Amaroks het elektroniese vastrapbeheer – asook ’n agterste ewenaarslot. In laestrek speel die elektronika veral ’n rol. Só byvoorbeeld sal die enjinsagteware die luierspoed aanpas sodat hy nie vrek oor hindernisse nie, selfs nie eens steil opdraandes nie. Dis ook veronderstel om met elektronika tollende wiele te rem.

Dis die teorie. Teen ’n steil opdraande met los klippe hier en daar het die Amarok op ’n plek gaan staan met sommige wiele wat stadig, maar hulpeloos, getol het. Die enigste oplossing was om halt te roep en die agterste ewenaarslot te sluit (wat die elektroniese “kinderoppasser” ontkoppel) sodat jy met jou eie versnellerbeheer en gesonde verstand daar kon uit.

’n Mens wil nie hare kloof nie, want die punt is dat hy oor elektronika beskik waarvan sy teenstanders net kan droom. Wat wel gepla het, is die 90 kW-enjin se gebrek aan krag teen lae toere. Gekombineer met die koppelaar wat baie gou “gebyt” het (soos ’n “aan/af”-skakelaar), beteken dit dat ek en ’n baie ervare kollega gereeld die bakkie laat vrek het met die wegtrekslag.

Teen die einde het dit ’n bietjie beter geraak, maar die feit bly staan dat ’n 2 liter-turbodiesel homself anders gedra teen lae toere as ’n 3 liter. Die 120 kW-weergawe van die 2 liter was uit die aard van die saak ’n perd van ’n ander kleur, maar die kleiner verplasing bly steeds een van sy tekortkominge.

Dan is daar die grondvryhoogte. Volkswagen maak aanspraak op 249mm vir die 4Motion-modelle. My gesonde verstand het gesê dat dit onmoontlik so hoog kan wees, want die pens, veral tussen die voorwiele, is duidelik nie baie hoog nie. Totdat jy die spesifikasies fynkam en sien dit word “gemeet tussen die voor- en agteras”. Nou ja, toe.

VW Amarok

Hoe ry hy op die teer?

Hy ry so lekker ek wonder hoeveel van hierdie “werkesels” gaan uiteindelik deur die baas opgeëis word. Die 90 kW-weergawe is gangbaar, eerder as blitsig, maar om regverdig te wees moet jy hom darem met die 2.5 D-4D Hilux en Isuzu KB 250 D-Teq vergelyk. Dan kom jy agter dat hy eintlik baie beter vertoon as wat jy aanvanklik vermoed het. 

Sy wringkrag van 340 Nm is weliswaar eers teen hoë toere beskikbaar, maar as jy met die ratkierie wérk, sit hy sy mededingers ore aan.

Die 120kW-weergawe kan maklik teen 150 km/h ry – mits jy bereid is om die ratkas te gebruik. Verbysteek was plek-plek iets wat toere van bó 4000 r/min (dis waar sy kragpiek geleë is) vereis het, maar die 600kg op die bak het darem ook ’n rol gespeel.

Sy hantering is egter puik, of jy nou 160 km/h in sterk dwarswinde of 120 km/h in ’n 80 km/h-draai doen. Die Amarok verdien ook punte daarvoor dat dit die enigste enkelkajuitbakkie op die mark is wat ESP (elektroniese stabiliteitsbeheer) as opsionele ekstra het. Dis nogal iets om oor huis toe te skryf.

Die bakkies op die bekendstelling was toegerus met Goodyear Wrangler AT/SAs in die 265/65/R17-grootte en dis dus moeilik om te oordeel hoe die standaard-245/70 R16-bande hulle oor dieselfde terrein en snelhede sou gedra het.

Gevolgtrekking:

Die Amarok is loshande die luuksste enkelkajuit (en sommer ook dubbelkajuit) op die mark en gaan die Hilux groot opdraande gee in die ontspanningsmark. Kyk na die pryse: Die 90 kW Amarok 4x4 kos R257 400 (Basic) en R313 700 (Trendline) teenoor die Hilux 2.5 D-4D SRX 4x4 se R287 900. Hou in gedagte hoe basies die SRX se spesifikasievlakke en verrigting (75 kW en 260 Nm) is. 

Kyk jy na die topmodel Amarok, die 120 kW 2.0 BiTDI 4Motion se prys van R335 000, vergelyk hy baie goed met die Hilux D-4D 4x4 Raider se R331 700. Boonop kan die Amarok ’n geremde sleepwa van tot 2,8 ton sleep, teenoor die Hilux se syfer van 1,5 ton. 

Is die Amarok dus beter? Wel, hy’s luukser en jy kry baie meer toerusting op die koop toe as die Hilux. As jy dus die enjin buite rekening laat, is hy inderdaad loshande beter. 

Maar hou in gedagte dat die Hilux se krag- en wringkragpieke teen laer toere geleë is. En dis hier waar die knoop in veldrytoestande lê.

VW Amarok

Sleutelsyfers

2.0 TDI 90 kW 2.0 BiTDI 120 kW

Enjin: 1968 cc; viersilinder-dubbelturbo met tussenverkoeler

Krag: 90 kW @ 3 750 r/min 120 kW @ 4 000 r/min

Wringkrag: 340 Nm @ 1750-2250 r/min 400 Nm @ 1500-2000 r/min

Topsnelheid: 160 km/h 180 km/h

0-100 km/h: 13,4 sek. 10,8 sek.

Transmissie: 6-spoed handrat, deeltydse 4x4, hoë- en laestrek, elektroniese vastrapbeheer, agterste ewenaarslot

Vering: Dubbele mikvere voor, vaste as met bladvere agter 

Remme: Skywe voor, trommels agter

Bande: 245/70 R16C

Grondvryhoogte: 249 mm

Naderingshoek: 28º

Vertrekhoek: 23,6º

Dompeldiepte: 500 mm 

Gewig: 1805 kg 1815kg

Brandstoftenk: 80 liter

Brandstofverbruik: 7,6 liter/100km 7,9 liter/100km

Waarborg/onderhoudsplan: 3 jaar of 100 000km/5 jaar of 90 000km

Diensinterval: 15 000 km

Prys: R257 400 (Basic); R313 700 (Trendline) R335000

WegRy sê:

Die Amarok-dubbelkajuit verkoop reeds baie goed in Suid-Afrika en die enkelkajuit gaan ongetwyfeld ook so maak. En as die enjin voldoen aan sy eienaars se langtermynverwagtinge, gaan dit ’n uitstekende ryding wees.

VW Amarok


 

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association