Ford Ranger Wildtrak
Wille ding? Die Ranger Wildtrak is effens uitspattig, nie vir die veld bedoel nie, en dalk te oordadig vir Botswana.
Die Ranger Wildtrak is nie ’n ryding vir skaam ouens of diegene wat verkies om eerder in die veld te ry nie, skryf Jaco Kirsten.
In ’n neutedop:
Die Ford Ranger Wildtrak lyk nogal wintie – op ’n laataand-by-’n-Oos-Randse-padkafee manier. Dis nie die soort ryding waarmee jy die eerste keer by die dominee se dogter wil gaan kuier nie.
Onder die vel is dit net nóg ’n Ranger-dubbelkajuit. Maar wát ’n vel! En die rede hiervoor is natuurlik dat ons nie heeltemal moet vergeet van Ford se bakkies ná die bekendstelling van die 140 en 170kW-Navaras, die VW Amarok en die Hilux Legend40 nie, of hoe?
Binnelangs:
Binne-in is dit pure Ranger met ’n opvallende uitsondering of twee: die sitplekke het grys panele en oranje omboorsel – dieselfde oranje as die Wildtrak-logo teen kant. Dié bakkie gaan baie gewild wees by Cheetah-wedstryde.
Bo-op die middelste deel van die paneelbord is daar egter ’n nuwigheid – ’n instrumenteklos met drie meters. Een is ’n kompas en die ander twee dui onderskeidelik aan hoe steil die helling en syhelling is waarop die voertuig hom bevind. Ideaal vir daai gereelde oomblikke dat jy in Faerie Glen verdwaal of by ’n loodregte krans moet afry.
Die res is normale Ranger, die trek-en-draai-kierie van die handrem inkluis.
Onder die vel:
Die Wildtrak gebruik Ford se 3 liter-TDCiturbodiesel wat 115kW krag teen 3200 r.p.m. en 380Nm wringkrag teen 1800 r.p.m. ontwikkel. Dis ’n gawe enjin wat baie bruikbare krag teen lae enjinsnelhede het. As jy die toetsmodel se hinderlike koppelaar wat baie laat en skielik gevat het, buite rekening laat, is dit so ná aan die ideale veldryenjin as waarvoor jy kan vra.
Die basiese resep is standaard-4x4-bakkie: ’n Leerraamonderstel met hoë- en laestrekratte, ewenaarslot agter, met dubbele mikvere voor en ’n vaste as met bladvere agterlangs.
Dit is ook moontlik om in die ry teen snelhede laer as 100km/h van 4x2 na 4x4-hoëstrek oor te skakel.
Die laaibak kan toemaak met ’n sluitbare Armadillo-roldeksel en agterlangs is daar parkeersensors wat volgens my nogal grens aan paranoïes – as die sensors die toppunt van histerie bereik, het jy nog maklik 60cm se plek oor.
Só ry hy:
Op die pad: Die eerste ding wat opgeval het, is dat sy bak nogal kantel deur die draaie. En as jy skielik rem, is dit asof hy losserig raak.
Noujagoed, vering is óf goed in die veld óf goed op teer, maar ’n Isuzu voel oral gemaklik, sonder om jou te laat voel asof jy op jellie ry. Om nie eens van ’n Navara of Amarok se vasvoetige teerpadhantering te praat nie.
In die veld: Die Ranger is baie bekwaam in die veld. Die Wildtrak – wat basies identies is – sal dus ook goed vaar in die veld, reg? Wel, tot op ’n punt, aangesien deel van die Wildtrak-pakket ’n stel 18 duim-wiele is. Lekker vir die roadhouse, maar nie so lekker vir die veld nie, nè?
En as jy normale grootte bande opsit, is hy ook nie meer heeltemal Wildtrak nie. Hmm, werk daai een maar self uit…
Kom ons wees eerlik, die Ranger-onderstel is een van die oudstes op die mark. Dis nie noodwendig ’n slegte ding nie, maar wanneer die nuwe Ranger later vanjaar hier uitkom, gaan jy sien hoe ’n moderne Ranger nou éintlik moet lyk.
Sleutelsyfers:
Enjin: 2 953 cc, in-gelid viersilinder, turbo-aangejaag; 115kW @ 3200 r.p.m.; 380Nm @ 1800 r.p.m
Transmissie: vyfgang handrat, deeltydse vierwielaandrywing, hoë- en laestrekratkas, agterste ewenaarslot Verrigting:
175 km/h; 0-100 km/h 13,5 sek; 9,5 liter/100km (gekombineer); CO² g/km: 251
Veldsyfers: 20,7 cm-grondvryhoogte; 34 º-naderingshoek, 20 º-vertrekhoek, 255/60 R18-bande, 70 liter-brandstoftenk; 1995 kg
Waarborg: 4 jaar/120 000km Diensplan: 5 jaar/90 000km
Diensintervalle: 10 000km
Prys: R421 870
Ons hou van…
- Die enjin se vet wringkrag.
- Die beproefde meganika.
Ja, maar…
- Daai 18 duim-wiele pas by ’n tow truck.
- Daar’s meer bling as binnegoed.
Mededingers:
Toyota Hilux D-4D Legend 40 4x4 d/k – R411 900; Isuzu KB300 d/k 4x4 – R385 400; Nissan Navara 2.5 dCi XE (128 kW) 4x4 d/k – R351 900
WegRy sê:
Die Ranger Wildtrak is ’n beperkte uitgawe (400 eenhede is gebou) waarmee Ford die Ranger se profiel wil hoog hou. As jy slim is, koop jy ’n gewone Ranger en gebruik die geld wat jy spaar om hom toe te rus met goed wat hom wél in die veld beter gaan maak. Jy het dalk nog kleingeld oor.
Oorspronklik gepubliseer in WR # 24 Jan-Feb 2011




Kommentare
Ek dink dit is een van die Mooiste Bakkies ooit!! Well Done FORD!!
Pos nuwe kommentaar