Ford Ranger 2007

In ’n tyd waarin veral die stilering van Japanese bakkies jou aan iets herinner wat lyk of dit pas iewers op ’n grondpad in die suide van Namibië gerol het, is die stilering van die nuwe Ford Ranger ’n vars bries.
Man, kyk net na daai mooi bonkige en vierkantige sierrooster. Dis sterk, amper kubistiese stilering. Maar wag, voor ek té diep raak, wil ek volstaan deur te sê dat sy stilering oral respek sal afdwing: van voor die koöperasie of op die parkeer-terrein van ’n plattelandse rugbyklub tot blinkgepoets by jou naaste inkopiesentrum.
Ons hou van:
Ai, as jy vet gee, voel dit of daai 3.0 TDCi-turbo-diesel (115 kW en 380 Nm) genoeg woema het om die skroefdraad van die as waarom die aarde draai met ’n 19 mm-ringsleutel te strip.
Boonop is die Super Cab-modelle steeds die enigste met die een-en-’n-half kajuit met twee agterdeurtjies om die in- en uitlaai van vrag te vergemaklik. Boonop lyk sy binneruim so mooi soos dié van sommige motors.
Dus, die voorkoms, die turbodiesel en die smaakvol afgewerkte binneruim … (Ja, goed, ek weet die laaste sin klink soos iets uit Tuis, maar ek kan nie help nie.)
Maar …
Die Ranger-reeks sukkel nog steeds voort met die ou Ranger se 4-liter-V6-petrol wat met 154 kW maar sleg uitsak teen die Hilux (175 kW) en die Nissan Navara (198 kW), wat albei petrol-V6’e van dieselfde verplasing het. Dus is jou keuse beperk tot diesel.
Die handrem is een van daai outydse trek-en-draai-affêres wat hier neffens die stuurwiel sit. ’n Konvensionele handrem langs die ratkierie is makliker om te gebruik as jy teen ’n opdraande wil wegtrek.
Maar dis eintlik hare kloof. Die grootste klagte teen die Ranger (en sy Mazda-tweelingbroer) is die effens knap agterdeure van die dubbelkajuit. Die beenruimte is goed, maar jy moet eers sukkel om in te klim.
Hoeveel moet ek hoes?
Vanaf R179 900 vir die 2.5 TD Super Cab Hi-Trail 4x2 (die 80 kW/257 Nm-enjin van die vorige geslag Ranger) tot R315 900 vir die 3.0 TDCi XLE 4x4-dubbelkajuit.
Kyk ook na:
Die Hilux-reeks is as volledige reeks steeds bobaas in Suid-Afrika. Die D-4D 3.0 Turbodiesel (120 Nm en 343 Nm) ontwikkel dalk minder wringkrag, maar hy troef die Ranger weer met krag, hoewel dit maar met ’n polonieskilbreedte is.
Die Hilux het egter meer beenruimte agter, en as jy (groot) mense agterin wil vervoer, kan dit belangrik raak. Die Nissan Navara-turbodiesel (2.5 dCi Turbodiesel: 128 kW/403 Nm; en 4.0 V6-petrol: 198 kW/385 Nm) kan ook oorweeg word, maar die pryse is ongeveer R12 000 duurder vir vergelykende modelle.
WegRy sê:
Die Ranger is tans die enigste bakkie wat lyk soos ’n bakkie moet lyk.
Originally published in WegRy #4 | Des 2007 - Jan 2008




Kommentare
Stem 100% saam met Eugene! Maar die probleem is die naam wat Toyota al gemaak het. Daardie stigma kleef vas in die gedagtes van non bakkie eienaars en nuwe beoogde aankopies.
Ek ry tans die Mazda Bt-50 2,5 diesel enkelkajuit en wil hom inruil vir 'n dubbelkajuit of club cab Mazda, want ek soek nou meer spasie, maar Mazda gee my die minste vir 'n inruil op 'n ander een. Ek is baie gelukkig met my bakkie en het geen klagtes nie. Ek dink dit is hoekom die ander fabrikate meer is. Mazda wil nie hê jy moet by hulle produk bly nie. Hulle dwing jou as te ware na 'n ander produk. Was vir my nogal interessant.
Ek is bly die Ford/Mazda manne begin so bietjie wakker word,maar duidelik nog nie genoeg nie...kom Ford/Mazda bulle,laat van julle hoor. Ek het ook defenetief niks teen ander fabriekate nie,inteendeel meeste is baie mooi en betroubare voertuie,maar ek moet erken;as ek lees hoe word ander 4x4's so opgehemel,dan vat ek die Ford/Mazda manne aan.Kom ons vertel ook watse wonderlike voertuie ons ry,en kom ons staaf dit ook met fotos en wedervaringe.Ek ry ook n Ford Ranger 3.0tdci Supercab 4x4 en sal graag van mede Ford/Mazda broers wil hoor
JA , EK STEM TOYOTA EN LANDY'S IS NIE DIE ENIGSTE 4X4 OP DIE MARK NIE . EK HET EEN VAN DAARDIE 154 KW DONKIES EN IS BAIE TEVREDE . KAN DAAR NIE N PAAR FORD MANNE OOK ARTIEKELS IN STUUR NIE , WANT OP DIE STADUIM VOEL EK DAT EK DIE ENIGSTE FORD MAN IS ? EK KAN ONGELUKKIG NIE IETS IN STUUR WANT EK IS NOG NUUT IN DIE 4X4 GAME , MAAR SAL NOG HIERDIE JAAR .
Ek ry 'n Ford S/cab 3.0 l Diesel 2*4(2009) en het 'n Fortuner 3.0l 4*4 Diesel. Dit is vir my opmerklik hoeveel meer krag die die Ford bo die Fortuner het met weg trek en veral in 2de rat. Brandstof verbruikis ook heelwat beter. Ek verhies om my Jurgens karavaan met die Ford te sleep i.p.v. die Fortuner - dis nou as die gesin nie saam is nie. Ek wonder net hoekom is daar so min Ford 4*4 voertuie op die pad in vergelyking met die die Toyotas. Is dit 'n tradiesie ding met Toyaita wat Ford sukkel om te verander....?
Ek wil geen fabrikaat slegse nie,maar almal wat dink daar is net Toyota,doen jouself n guns en gaan ry net n draai met n 3 liter diesel.Dit is n ware belewenis en n "eye opener". Eugene
Pos nuwe kommentaar