Ford Everest 2010

Ses jaar nadat die Everest oorsee sy buiging gemaak het, is dit nou plaaslik bekendgestel as die SNV wat Ford gekies het om die skoene vol te staan van die Territory, wat nie meer gemaak word nie.
Nes sy regstreekse mededinger, die Fortuner, en ook die ander nuweling, die Pajero Sport, is die Everest in wese ’n SNV-bak wat op ’n bakkie se onderstel gemonteer is.
Sy kurwes is nie naastenby so vleiend soos sy voorganger (of sy mededingers) s’n nie, en dit sal beslis nie die koppe laat draai in Menlyn se parkeerterrein nie. Maar met die Ford Ranger se bewese veldryreputasie in sy DNS, spring hy darem
goed weg uit die blokke.
Kom ons kyk hoe die Everest met die Fortuner en Pajero Sport vergelyk:
- Nes die Pajero Sport is die Everest net met ’n dieselenjin beskikbaar, terwyl die Fortuner met ’n diesel- of petrolenjin beskikbaar is;
- Die Everest lewer 115 kW en 380 Nm – dis minder krag as die Pajero Sport 3.2 Di-D en die Fortuner 3.0 D-4D se 120 kW, maar meer wringkrag as sowel die Pajero Sport en die Fortuner se 343 Nm;
- Die Everest het ’n 71 liter-brandstoftenk, kleiner as die Fortuner se 80 liter-tenk en ’n rapsie groter as die Pajero Sport se 70 liter-tenk;
- Die Fortuner en Pajero Sport het sedanagtige vering, maar die Everest het nog bladvere agter;
- Die Everest het ’n vastrapewenaar, die Pajero ’n agterste ewenaarslot en sluitbare middelewenaar, en die Fortuner ’n agterste ewenaarslot en sluitbare vastrapmiddelewenaar. Laestrek is standaard by al drie;
- Die Fortuner en Everest het handrat- én outomatiese ratkaste; die Pajero Sport is net in outomaties beskikbaar;
- Al drie het ABS en elektroniese remkragverspreiding. Die Fortuner het ook stabiliteitsbeheer, terwyl die Everest ’n vragsensor het wat remkrag in ooreenstemming met die vrag versprei.
Braaivleisfeit: Die Everest is in Maart 2003 in Thailand bekendgestel, en word in Asië en Sentraal-Amerika verkoop. In Indië word dit die Endeavour genoem.
Ford sê …
Enjin:
3.0 Diesel met tussenverkoeler en turbo
Ratkas:
5-spoed handrat óf outomaties
Krag:
115 kW @ 3 200 r.p.m.
Wringkrag:
380 Nm @ 1 800 r.p.m.
Vering:
Voor: dubbelmikvering met stabili¬seer- en wringstawe; Agter: bladvere met stabiliseerstawe
Remme:
Skyfremme voor; trommels agter
Grondvryhoogte: 21 cm
Naderingshoek: 32 º
Vertrekhoek: 26 º
Brandstoftenk: 71 liter
Brandstofverbruik:
Nie beskikbaar nie
Waarborg/diensplan:
4 jaar/120 000 km (W);
5 jaar/90 000 km (DP)
Diensinterval: 10 000 km
Modelle en Pryse:
4x2 XLT (handrat); R324 990
4x4 XLT (handrat); R364 990
4x4 LTD (outo); R382 990
Wat kry ek?
Laestrek, vastrapewenaar, lugversorging, elektriese vensters, kragstuur, leersitplekke, lugsakke voor vir die bestuurder en passasier, radio-CD-speler

Ons sê … WegRy se indrukke
DIE EERSTE INDRUKKE
- Dit lyk uit onvanpas in Ford se huidige moderne produkreeks – die ontwerpers het oënskynlik agter die stuur aan die slaap geraak.
- Ja, dit sal dalk die buurman beïndruk, maar dis effens duur vir wat jy kry.
DIE BINNEKANT
Gemak en ruimte:
Die beige leerbinnekant is gestroop van fieterjasies, en die spartaanse en ietwat plastiekerige afwerking is dalk effens suinig vir die prysklas.
Op die agtersitplek:
Hierdie sewesitplekvoertuig met drie rye sitplekke het glo 10% meer beenruimte as sy mededingers.
Kindervriendelik:
Wel, daar is nie eintlik iets om te breek nie, maar in dieselfde asem is beige en vuil vingers nie bedmaats nie.
Laairuimte:
Ford beweer die Everest het die “breedste en hoogste laairuimte in sy klas”.
Die tweede ry sitplekke vou weg met ’n eenvoudige stelsel, en die derde ry kan heeltemal uitgehaal word. As jy dít alles doen, het jy 1 433 liter se plek.
Veiligheid:
Voorste- en kantlugsakke vir die bestuurder en die voorste passasier.
Gebou om te hou, of nie:
Danksy die eenvoud sal dit moeilik breek.

OP PAD
Bestuurderposisie:
Die bestuurdersitplek verstel nie elektronies nie, dus neem dit ’n rukkie om jou sit te kry. Bygesê, jy sit lekker en die ondersteuning is goed.
Padgeraas:
Jy sal beslis die jongste rugbytelling oor die radio kan hoor, as dit is waaroor jy jou bekommer.
Padhouvermoë:
Dis gebou op ’n Ranger-onderstel en het Ranger-bladvere agter, wat beteken jy ry eintlik ’n topswaar bakkie. En soos met meeste bakkies, raak die rit aansienlik meer stabiel as jy ’n vrag laai.
Daar’s heelwat speling op die stuur, met ’n dooie kol omtrent ’n duim en ’n half van die middel af.
In stadsverkeer:
Dis ratser as wat jy sou verwag van so ’n groot voertuig. Hoewel die meeste mense ’n outomatiese ratkas in die stad verkies, is sy ratverhoudings effens kort en die ratkas wissel gedurig tussen ratte.
Die handratmodel is gladder, meer presies en heelwat gemakliker om te bestuur.
Op die langpad:
Sodra jy ’n gemaklike toersnelheid bereik, is die Kaap Hollands. Elektriese vensters, lugversorging voor en agter, en heelwat bêrekompartemente beteken jy behoort die langpad sonder moeite kaf te draf.
Ratwisseling:
Die outomatiese en handratmodelle het albei ’n vyfspoedratkas. Die ratverhouding van die outomatiese ratkas is effens kort, maar die handrat is glad en meer presies.
Werkverrigting:
Die TDCi is nie die mees verfynde enjin nie, maar dis beproef en betroubaar. Dis effens flou tot net meer as 2 000 r.p.m., maar as dit eers op dreef is, is verbysteek so maklik soos voet neersit.
Remme:
Die remme voel skerp, stewig en reageer gerusstellend goed, ondanks die
trommels agter.
VAN DIE PAD AF
Dis wat jy alles kry:
Die 4x4-modelle het laestrek en ’n vastrapewenaar.
In die outomatiese modelle skakel jy na 4x4 oor met ’n elektroniese draaiknop met drie verstellings: 2H, 4H en 4L. Die elektroniese shift-on-the-fly-stelsel stel jou in staat om tot 100 km/h van 2WD na 4WD oor te skakel.
In die handratmodel skakel jy na 4x4 oor met ’n tweede rathefboom – en ja, dit werk op dieselfde beproefde manier as jou pa se ou Ford-bakkie.
Hoe vaar hy op …
Ons het nie werklik kans gehad om die Everest se veldryvaardighede deeglik te toets nie, maar as jy dit aan die Ranger kan oordeel, behoort dit meer as bekwaam te wees.
• Grond: Gemaklik en alles onder beheer
• Sand: Jammer, ons het nie kans hiervoor gehad nie.
• Rots: Danksy sy redelike grondvryhoogte en hope wringkrag is selfs die taaiste dele kinderspeletjies.
Van Zylspas of nie?
As jy ervare is en stadig ry, kan jy dit pak, maar ’n agterste ewenaarslot sou meer gemoedsrus gegee het.

HOE PRAKTIES
Dít werk:
• Die derde ry sitplekke kan heeltemal uithaal.
• Die agterste laaideur met sy maklik toeganklike volgrootte noodwiel maak na die kant oop.
Maar dít pla:
• Die handrem is een van daai outydse trek-en-draai-nommers langs die stuurkolom. ’n Konvensionele handrem langs die rathefboom sal makliker werk teen ’n opdraand.
WAARDE VIR GELD
Ons hou van ...
• Die opvoubare derde ry sitplekke wat heeltemal kan uithaal. En dit werk regtig.
• Ford se beproefde en betroubare 3.0 TDCi-dieselenjin.
• Met so min elektronika is daar nie veel anders wat kan fout gaan nie.
Ja, maar ...
• Die onvleiende agterkant en die plastie¬ke¬rige en onpersoonlike binneruim.
• Bladvere + trommelremme = baie outyds vir ’n “nuwe” SNV.
• Die 70 liter-brandstoftenk is effens klein vir ernstige landafstandreise.
Grootste mededingers
• Toyota Fortuner 3.0 D-4D 4x4 (handrat): R394 600
• Pajero Sport 3.2 Di-D GLS: R414 000
WegRy sê:
Die Ford Everest is ’n eerlike, fieterjasievrye SNV wat effens duur is vir dit wat jy kry.
Oorspronklik gepubliseer in WR#17 | Feb-Maart 2010




Kommentare
Groot Ford fanatikus, maar effe teleur gestel in Ford omdat hulle nie dieselfde bou kwaliteit gehou het as die Teritorrie nie. vir die prys sou n mens bietjie meer verwag het. Ek sal nie somer iets anders as n Ford koop nie. Maar jy kry nie eers Spoed beheer nie. So nie werklik n lang pad voertuig nie. Groot probleem met al Ford se produkte op die oomblik is dat als ekstra is wat standaard is in ander voertuie en dit is of n opsionele ekstra of jy kan dit vergeet. Kom nou Ford, maak n kar wat regtig uit staan bo die res. Ek sal dalk ,maar eerder die paar Rand ekstra spaar en n Toyota of n Pajero koop, en dit is die ongelukkige sy van die saak. N mens kyk na die buitelands se karre en als wat standaard is dan maak Ford weer sin, wanneer gaan hulle die selfde houding in SA aan vat. Engeland, die Fiesta kom standaard met spoed beheer op die top modelle. Aus het hulle goed soos die Falcon en Mondeo wat ook amper als standaard het. Ons is baie ver agter as dit by motors kom in SA. En snaaks genoeg, hulle kos al klaar n klein fortuin sonder om ekstras by te sit. Maar in die buite land kan jy al die ekstras by sit en nog steeds ry wat jou sak pas.
Groot Ford fanatikus, maar effe teleur gestel in Ford omdat hulle nie dieselfde bou kwaliteit gehou het as die Teritorrie nie. vir die prys sou n mens bietjie meer verwag het. Ek sal nie somer iets anders as n Ford koop nie. Maar jy kry nie eers Spoed beheer nie. So nie werklik n lang pad voertuig nie. Groot probleem met al Ford se produkte op die oomblik is dat als ekstra is wat standaard is in ander voertuie en dit is of n opsionele ekstra of jy kan dit vergeet. Kom nou Ford, maak n kar wat regtig uit staan bo die res. Ek sal dalk ,maar eerder die paar Rand ekstra spaar en n Toyota of n Pajero koop, en dit is die ongelukkige sy van die saak. N mens kyk na die buitelands se karre en als wat standaard is dan maak Ford weer sin, wanneer gaan hulle die selfde houding in SA aan vat. Engeland, die Fiesta kom standaard met spoed beheer op die top modelle. Aus het hulle goed soos die Falcon en Mondeo wat ook amper als standaard het. Ons is baie ver agter as dit by motors kom in SA. En snaaks genoeg, hulle kos al klaar n klein fortuin sonder om ekstras by te sit. Maar in die buite land kan jy al die ekstras by sit en nog steeds ry wat jou sak pas.
Groot Ford fanatikus, maar effe teleur gestel in Ford omdat hulle nie dieselfde bou kwaliteit gehou het as die Teritorrie nie. vir die prys sou n mens bietjie meer verwag het. Ek sal nie somer iets anders as n Ford koop nie. Maar jy kry nie eers Spoed beheer nie. So nie werklik n lang pad voertuig nie. Groot probleem met al Ford se produkte op die oomblik is dat als ekstra is wat standaard is in ander voertuie en dit is of n opsionele ekstra of jy kan dit vergeet. Kom nou Ford, maak n kar wat regtig uit staan bo die res. Ek sal dalk ,maar eerder die paar Rand ekstra spaar en n Toyota of n Pajero koop, en dit is die ongelukkige sy van die saak. N mens kyk na die buitelands se karre en als wat standaard is dan maak Ford weer sin, wanneer gaan hulle die selfde houding in SA aan vat. Engeland, die Fiesta kom standaard met spoed beheer op die top modelle. Aus het hulle goed soos die Falcon en Mondeo wat ook amper als standaard het. Ons is baie ver agter as dit by motors kom in SA. En snaaks genoeg, hulle kos al klaar n klein fortuin sonder om ekstras by te sit. Maar in die buite land kan jy al die ekstras by sit en nog steeds ry wat jy sak pas.
Pos nuwe kommentaar