Discovery 4 TDV6 HSE 2011

In ’n neutedop:
Die aanvanklike idee was om die Land Rover Discovery 3 net ’n verjongingskuur te gee. Maar toe verander Land Rover die Disco so ingrypend dat hulle besluit om dit die Discovery 4 te doop. Wel, dis Land Rover se storie en hulle hou daarby.
Wat tel, is dat hy soos soetkoek verkoop. En dis maklik om te verstaan, want dis ’n mooi ryding met amper elke luukse waarvoor jy kan vra. Die TDV6-enjin is ook ’n nuwe toevoeging tot die reeks – ’n splinternuwe 3 liter-enjin vervang die vorige 2,7 liter-turbodiesel.
Boonop beteken Land Rover se Terrain Response-stelsel dat hy besonder moeilike terrein kan baasraak. Altans, in die teorie. Want vir al sy ongelooflike goeie eienskappe het hy een groot Achilleshiel as jy ooit beplan om hom in die veld te gebruik.
Binnelangs:
Die Discovery 4 is luukser as heelwat ware luukse sedans. Eienaars van duur seiljagte in Monaco se oë sal traan as hulle dié prag en praal aanskou, want dis leer net waar jy kyk.
’n Mens kan spesifikasies aframmel oor die lugversorging, CD-speler, 14 luidsprekers (ja, jy’t reg gelees), navigasiestelsel en so aan, maar jy gaan nie die gevoel van gehalte oordra as iemand dit nie self ervaar nie.
As jy in die bestuurdersitplek sit, is dit asof jy op die brug van ’n skip sit. Jy kan ure lank speel met die raakskerm wat die klank- en navigasiestelsel beheer. Of vroetel om presies die regte verstelling vir jou sitplek se armleuning uit te pluis.
Asof die liggies binnelangs nie genoeg is nie, skyn daar tot ’n liggie uit die kantspieëls se onderkant om snags lig te maak aan die Disco se buitekant as jy die afstandbeheer
se knop druk.
Die derde ry sitplekke vou heeltemal weg in die vragruim se vloer en as jy die middelste ry sitplekke vorentoe gevou het, het jy ’n lekker stasiewa-tipe laairuim.
Hoewel dit nie meer só skaars is nie, is dit tog belangrik om te noem van die tru-kamera. Skakel die Disco in trurat en ’n wyehoekbeeld na agter word op die skerm in die instrumentepaneel vertoon. Dis nie so slim soos Hyundai en Kia se stelsel nie – by hulle word die beeld in ’n hoek van die truspieël vertoon – maar dis steeds baie prakties.

Onder die vel:
Die 3 liter-V6-turbodiesel is dieselfde enjin wat ook in die Jaguar XJ gebruik word. Wil jy ’n ander ryding verbysteek? Trap net die lepel weg en jy sal voel hoe die soomlose krag jou vorentoe druk.
Waar die Disco 3 se 2,7 liter-turbodiesel 140 kW en 440 Nm ontwikkel het, kom die Disco 4 s’n vorendag met ’n hele 180 kW krag en 600 Nm wringkrag. En dit alles teen net 9,3 liter diesel vir elke 100 km wat jy ry.
Die sesgang outomatiese ratkas se ratoorskakelings is so vinnig en glad dat jy ná ’n ruk wonder jy of jy ooit weer ’n handratkas wil ervaar. Volgens Land Rover versnel hy van 0 tot 100 km/h in 9,58 sekondes – so vinnig soos ’n BMW 323i.
Indrukwekkend, of hoe? Dit raak egter beter as jy na sy onderstel en 4x4-aandryfstelsel kyk. Die Disco het nie ’n leerraamonderstel nie. Ook nie ’n buisromponderstel soos die Pajero nie. Land Rover noem dit ’n “Integrated Body Frame” en dis as’t ware ’n kombinasie van bogenoemde twee soorte onderstelle. Maar dis nie al nie.
Wat die moderne Land Rovers uniek maak, is die Terrain Response-stelsel waarmee jy met die draai van ’n knop die voertuig “verstel” vir uiteenlopende terrein soos klippe, sand, modder, sneeu/ys, ens. Die voertuig se blikbrein pas dan die ryhoogte, ratkas se skakelpunte en versnellersensitiweit aan by hierdie terrein.
As jy dus in sand-modus is, sal die versneller meer sensitief wees, die ratkas eers teen hoë toere na die volgende rat oorskakel en die ryhoogte op maksimumhoogte wees. In sy klip-modus moet jy in laestrek wees, die versneller is minder sensitief en die ratskakeling is vinniger. Op papier is dit ’n wonderlike stelsel wat al verskeie pryse gewen het.




Kommentare
My Navara vat 65 series 17 duim bande. Hierdie bulle kos R3600 stuk en dis net vir gewone Good Year Wranglers. M.a.w. die prys vir die 19duimers is verseker nie buite perke nie. Ouens wat R725 000 kan betaal gaan nie oor die kleingeld kerm nie...
Pos nuwe kommentaar