Daihatsu Terios 1.5 4x4 (lang asafstand) 2008

Die Daihatsu Terios het sedert die jare sewentig al ’n paar keer van gedaante verwissel. Is sy jongste (en grootste) gedaante ’n teken dat die Terios nou uiteindelik volwassenheid bereik het? vra Johan de Smidt.

Hmm, die sirkel van die lewe …

Onthou jy hoe jy elke Kersfees gebloos het as tannie Gesina gekoer het: “Liewe aarde, maar jy het grootgeword!” Wel, dan sal jy empatie met die nuwe Terios hê, want liewe aarde, hy’t darem nou uit sy skoene gegroei.

Sedert sy bekendstelling in 1977 as ’n beknopte SNV het die Terios gegroei tot net langer as 4 m in Desember 2006, maar die nuwe lang-asafstandmodel is ’n allemintige 4,37 m.

Dis nou groot genoeg om die kerngesin met gemak rond te karwei, en boonop is daar soveel plek in die Terios se boep dat jy ’n derde ry sitplekke kan inpas om dit in ’n sewesitplekvoertuig te verander. Of om ’n bergfiets in te laai, sê Daihatsu. (Het hulle nog nie van ’n fietsrak gehoor nie?)

Maar is dit nie ’n …

As jy die nuwe Terios-langbakmodel op straat teëkom, sal jy vergewe word as jy dink dis ’n Toyota Fortuner. Buiten die maklik toeganklike noodwiel op die Terios se agterdeur wat sywaarts oopmaak, sal jy van die kant af skoon Fortuner-agtige lyne sien.

Teen net langer as 4,3 m en byna 1,7 m hoog is die Terios-langbakmodel net ’n liniaallengte korter en 15 cm laer as die Fortuner. Voor op sy stomperige neus het die Terios ook die Fortuner se twee misligte.

Dié vergelyking maak sin as jy in gedagte hou Toyota besit 51% van Daihatsu – die Japannese bemark die Terios selfs as die Toyota Rush in sy eie agterplaas.

In sy binnekamer

Voel tuis.
Glip in op die Terios se stewige, hoogteverstelbare voorste bestuurdersitplek en jy kry te doen met ’n kantelstuur en ’n herontwerpte instrumentbord met ’n spoedmeter tussen ’n maklik sigbare toereteller en temperatuurmeter.

Gemaksone.

Die langbak-model het nie die kortbakweergawe se GPS nie, maar jy kry steeds lugversorging, elektriese ruite, 12 V-kragpunte voor en agter vir toebehore soos ’n haardroër en ’n yskas, smukspieëltjies vir die bestuurder en voorste passasier en meer as genoeg beker- en bottelhouers.

Kan jy jou tone raak?
Omdat jy die soepelheid van (’n jong) Nadia Comaneci moet hê om verby die tweede sitplekke te druk om by die twee agterste sitplekke uit te kom, is dit nie heeltemal geskik as die Bul-gaarse gewigoptelspan se spanbus nie.

Drukgroep.
Maar ten minste sal jy die gerusstelling hê dat twee voorste lugsakke jou en die spanbestuurder sal beskerm, en dat ABS-remme met elek-troniese remkragverspreiding jou uit die verknorsing sal help as ’n taxi hom nie aan ’n rooi verkeerslig steur nie.

Onder die kap

Toereikend.
Onder die enjinkap is ’n petrol-inspuiting-1,5 liter-viersilinder-masjien wat teen ’n krag-tot-gewig-verhouding van 66 kW/ton (dieselfde as die kortbakmodel) jou oudste redelik doeltreffend (en vinnig) by haar balletklas sal kry.

Die krag van die 4x2- én 4x4-model word deur ’n vyfspoedratkas gekanaliseer, met ’n viergang- outomatiese ratkas opsioneel in die 4x2-modelle.

’n Geween en ’n gekners.
As dit moet, sal heeltydse vierwielaandrywing en ’n elektroniese ewenaarslot (en genoeg momentum, natuurlik) jou op en oor ’n tweeverdiepingsandduin of ’n steil bergpas kry.

Maar dit sal gebeur met ’n geween en ’n gekners van tande, want die Terios skiet ietwat tekort in die wringkrag- en middeltoerestrek-afdeling omdat die enjin eers teen ’n sopraan-hoë 6 000 r.p.m. sy maksimum krag van 80 kW lewer. 

Op pad

Die Terios se padhouvermoë is goed genoeg sodat jy steeds in beheer voel met min tekens van bakrol om die draaie, selfs al begin jou passasier ongemaklik rondskuif en vasklou, soos op die Uitkykpas in die Sederberge met die Terios se bekendstelling.

Dis net daar dat ek begin besef het jy kan baie pret in dié voertuig hê – teen net ’n breukdeel van die gat wat groter handelsname in jou sak gaan brand.

Die vorige dag het ons die kortbak-Terios gery met sy harder vering en ’n wipperiger ry-ervaring, en besluit met die gladder rit is die langbakmodel ons keuse vir langafstandwiele.

Waarom sal jy dit koop?

Hier’s agt goeie redes:

  • Omdat jy graag in styl wil ry
  • Jy nie dood gesien wil word in ’n Ssangyong Korando nie (dis net tweedehands te kry)
  • Jy nie die R282 000 vir ’n Toyota RAV4 (of selfs die R244 000 vir ’n Chev Captiva) uit jou bankbestuurder kan wurg nie
  • Jy meer pret met jou gesin wil hê as wat julle in jou sedan kan kry
  • Jy die hele gesin (én tannie Gesina en haar parkiet) én almal se bagasie kan inlaai 
  • Jy veld toe kan gaan (dink 4x4, ekstra grondvryhoogte, bogemiddelde naderings- en vertrekhoek)
  • Jy beter gaan slaap, want Daihatsu beweer die Terios het die beste koolstofdioksied-vrystelling in sy klas
  • Teen ’n beweerde 8,1 liter/100 km kan jy jou rande rek.

En waarom nie?

  • Jy soek meer krag omdat jy effens ontoereikend gaan voel langs ’n Fortuner.
  • Jy wil Moremi toe ry saam met die manne, maar die Terios gaan nie die paal deur diemodder haal nie.
  • Jy gee nie ’n snars om oor smeltende ys op die pole nie.
  • Daar’s mense wat sê onderdele is nie geredelik beskikbaar nie (dinge het glo die afgelope jaar verbeter sedert Daihatsu sy eie onderdeleverskaffernetwerk gevestig het, onafhanklik van Hyundai).

As jy jou optel-sommetjies maak ...

In ’n tyd waar inflasievoos verbruikers briek aandraai met geld uitgee onder Tito se sweep, en pompe nie meer genoeg plek het vir die viersyfer-brandstofpryse nie, is Daihatsu besonder goed geposisioneer – hulle het heel moontlik ’n aar raakgeboor.

Braaivleisfeit:
Die Terios se kortbak-veldrypakket het ’n buffer met kolligte, trapstawe, ’n sleepstang en ’n hoëverrigting- (free flow) uitlaatstelsel.

Kommentare

Ek het tot twee maande terug die kortbak 2006 weergawe van die Terios gery en dis regtig 'n oulike motertjie (as jy dit kan hanteer as jou voertuig as "oulik" beskryf word).  Die naverkope diens is aanvaarbaar en toe my agter skokbrekers onder waarborg vervang moes word was onderdele glad nie 'n probleem nie.  My grootste frustrasie met die betrokke weergawe was krag om verby te steek en teen opdraandes, asook padhouvermoe sodra die pad bietjie hobbelrig raak.  Met die groter bakwerk spreek hulle die spasie probleem aan, maar ek dink Daihatsu maak 'n fout om nie die enjin ten minste na 'n 2l petrol te vergroot en ook 'n diesel enjin beskikbaar te stel nie.  Dis 'n lekker stads motertjie en sypaadjies behoort nie probleme te gee nie, maar nie veel meer as dit nie.

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association