Captiva kort koerasie

Chev Captiva

Die nuwe Chev Captiva is ’n lekker voertuig wat alles doen wat jy van hom kan verwag. Behalwe om jou hart vinniger te laat klop, sê Jaco Kirsten.

Wat is nuut?

Wanneer ’n voertuig opgekikker word, is daar ook net soveel wat jy kan doen. Die Captiva se opvallendste verandering buitelangs is die nuwe, aggressiewer neus met sy groter sierrooster. Jy kom dit nie sommer dadelik agter nie, tot jy hom langs die ou Captiva staanmaak.

Onder die enjinkap is die ou 2,4 liter-petrolenjin (100 kW en 220 Nm) vervang met ’n nuwe weergawe (123 kW en 230 Nm), terwyl die 3,2 liter-V6-petrol (169 kW en 297 Nm) vervang is met ’n kragtiger 3 liter-V6 (190 kW en 288 Nm). GM het gesê dat ’n 2,2 liter-turbodiesel later vanjaar beskikbaar sal wees.

Al die ratkaste is nou sesgang-eenhede, of dit nou die 2,4 liter se handrat of outomaties is en of dit die 3 liter se outomatiese ratkas is.

En binnelangs?

Afgesien van die nuwe binneruim is die Captiva se gewone handrem vervang met ’n elektroniese parkeerrem – basies ’n skakelaar. Jy kan dus nie meer Vrydae-aande handbriekdraaie gooi voor die hotel nie.

Alle nuwe Captivas beskik nou oor ’n ses-CD-wisselaar, agt luidsprekers en ’n radio/CD met ’n outomatiese soekfunksie, MP3-vermoë, Bluetooth-koppeling vir jou selfoon en ’n plek om jou iPod in te prop.

Chevrolet sê ook dat die kajuit stiller is as vantevore, danksy ekstra klankdemping. Die sewesitplek-uitleg is steeds een van die bestes in die mark, met die agterste twee sitplekke wat heeltemal wegvou in die vloer in en in ’n japtrap op- of afgeslaan kan word.

En hoe ry hy?

Dit rit is baie gerieflik en tydens die bekendstelling het twee dinge duidelik geword: Een, hy hanteer baie goed op teer, en twee, omdat hy goed hanteer op teer, is hy eintlik net geskik vir goeie grondpaaie. Veral die luukser LTZ-modelle is met 19 duim-wiele beskikbaar, maar volgens GM se mense kan jy maklik die LT-model se 17 duim-wiele opsit as jy bly waar die pad dalk ’n bietjie rof raak.

Die 2.4 is beskikbaar as ’n voorwiel- óf vierwielaangedrewe model (met of sonder outomatiese ratkas vir die 4x2; die 4x4 is net te kry met ’n outomatiese ratkas). Die aandrywingstelsel stuur normaalweg die meeste krag na die voorwiele en as die blikbrein agterkom hulle tol, word krag outomaties na die agterwiele gestuur. Die ander nuttige toertjie in sy arsenaal is sy opdraande-wegtrekfunksie wat teen steiltes die remme vir ’n sekonde of wat vashou totdat jy kan vetgee en wegtrek – kan jy jou indink hoeveel meer 16 jariges gaan van nou af met die eerste probeerslag hulle lisensietoets slaag?

Die sesgang-handrat van die LT-model is nie hiper-sekuur nie, maar min eienaars van die 2,4 liter-petrol gaan baanrekords op Kyalami probeer verpletter met hulle Captivas – en dis seker goed genoeg vir die meeste bestuurders.

Gevolgtrekking?

Die voorwielaangedrewe 2,4 liter-petrol is ’n goeie kopie, veral as jy in ag neem dat min mense regtig die vierwielaandrwying nodig sal kry. Persoonlik vind ek hom nie baie opwindend nie – iets soos die Kia Sorento is byvoorbeeld baie sagter op die oog. Maar nou ja, in ’n land waar amper elke tweede voertuig ’n wit Toyota is, kan dit seker nie teen hom gehou word nie.

Sleutelsyfers

2.4 AWD handrat; 3.0 AWD V6 outo

Enjin: 2384 cc in-gelid viersilinder; 2997 cc, V6
Krag: 123 kW @ 5 600 r/min; 190 kW @ 6 900 r/min
Wringkrag: 230 Nm @ 4600 r/min; 288 Nm @ 5 800 r/min
Topsnelheid: 186 km/h; 198 km/h
0-100 km/h: 10,3 sek.; 8,6 sek.
Transmissie: 6-gang-handrat, vierwielaandrywing; 6-gang-outo, vierwielaandrywing
Suspensie: McPherson-stutte voor, onafhanklike veelskakel agter
Remme: Skywe voor en agter
Bande: 235/55 R18; 235/50 R19
Grondvryhoogte: 175 mm; 178 mm
Naderingshoek: 24º
Vertrekhoek: 23º
Dompeldiepte: nie beskikbaar
Gewig: 1830 kg; 1900 kg
Brandstoftenk: 65 liter
Brandstofverbruik: 9,2 liter/100 km (gekombineerd); 10,6 liter/100 km (gekombineerd)
Waarborg/diensplan: 5 jaar of 120 000km/3 jaar of 60 000km
Diensinterval: 1 jaar/15 000 km
Prys: R341 200; R434 900

WegRy sê:

Nee, jy gaan nie jou middeljarekrisis besweer met dié stel wiele nie. Dis waarvoor vinnige motorfietse daar is, nie waar nie?


Kommentare

Vêr te duur, veral as jy hom met die Kia Sportage vergelyk

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association