BMW X3 | Xtra lyf vir die X3

Die nuwe X3 het ’n bietjie gegroei en is nou net ’n raps kleiner as die eerste X5. Buiten die ekstra lyf is daar ’n hele paar ander verbeterings. Maar dis alles teen ’n prys, het Gerrie van Eeden agtergekom.

BMW X3

In ’n neutedop:

Die nuwe X3 is langer, breër en hoër as die vorige een en is nou net ’n aks kleiner as die eerste X5. Boonop is daar nou twee nuwe en kragtiger enjins – die xDrive20dturbodiesel en xDrive35i-petrolturbo, sowel as ’n outomatiese agtspoedratkas. Daar is geen planne om die sesgang-handratmodel na Suid-Afrika te bring nie.

Die xDrive-vierwielaandrywing, wat standaardtoerusting is op die X3, is ontwerp vir die glibberige ystoestande in Europa, en nie om deur Afrika te toer nie. As jy wel besluit om die teerpad te ruil vir ’n gelyk stuk grondpad, sal jy dit in redelike gemak kan doen – mits jy nie te vinnig ry nie en jou gesonde verstand gebruik.

In kort is dit presies wat jy van BMW verwag: ’n Sagte veldryer met gemak en luukses. BMW beskryf dit as “dinamies”... Hy’s dus gebou vir goeie teerpadhantering.

Binnelangs:

Danksy die groter bakwerk is daar genoeg beenruimte agter om twee uitgevrete plaasseuns gemaklik te laat sit. Die laairuim kan vergroot word van 550 liter tot 1600 liter deur die agterste sitplekke heeltemal plat te slaan – dis omtrent hoeveel water ’n gemiddelde grootte jacuzzi vat.

Die standaardmodelle het outomatiese lugverkoeling en ’n klankstelsel wat MP3’s kan speel. Verder is dit luuksheid van sy kroontjie tot sy toontjie. Die vangplek is egter dat die meeste van sy slim elektronika wat hom kop en skouers – én ’n windmaker kuif – bo van sy mededingers laat uittroon, opsionele ekstras is. En natuurlik teen ’n stewige prys.

Vir ekstra elektronika wat jou deur jou Blackberry of iPhone met die internet kan verbind en jou e-posse met ’n blikstem vir jou voorlees, sal jy R30 000 ekstra moet betaal. Die navigasiestelsel met ’n 8GB-geheue vir musiek kos nóg R21 300 ekstra.

Dit alles word beheer deur ’n iDrive-knop op die konsole tussen die voorsitplekke. Dis baie maklik om te gebruik – as jy kan stilsit en kyk wat jy doen.

Vir R14 100 kan jy ruitprojeksie byvoeg, wat inligting soos spoed en navigasie-instruksies aan die binnekant van die voorruit projekteer, sodat jy nooit werklik jou oë van die pad hoef af te haal nie.

Vir amper R11 000 kan jy jou voorste sitplekke elektries verstelbaar maak, en ná nog R5 300 kan jy jou kattebak met ’n afstandbeheerknop oopmaak.

Jy hoef egter nie al die elektronika te koop wat die X3 in ’n vegvliegtuig verander nie; die “basiese” X3 voel steeds soos ’n luukse, gemaklike ryding.

BMW X3 Binnelangs

Vangplek. Die nuwe X3 is so luuks as kan kom. Maar die meeste oulike elektroniese toerusting is ekstras waarvoor jy hard gaan hoes.

Onder die vel:

BMW het gaan luister na die bestuurders van die vorige X3 voor hulle dié een bekendgestel het. Die ou X3 het byvoorbeeld die veringstelsel van die vorige 3 reeks-BMW sedan gebruik. Die nuwe X3 het ’n pasgemaakte veerstelsel, wat jou byvoorbeeld gemakliker laat ry op sinkplaatpaaie.

Die X3 word in Suid-Afrika bekendgestel met twee opsies. ’n Tweeliter-viersilinder-turbodiesel, die xDrive20d, wat 135kW krag en 380Nm wringkrag ontwikkel; en die xDrive35i met ’n drieliter in-gelid sessilinder petrolturbo wat 225kW krag en 400Nm wringkrag ontwikkel.

Dié enjin is in 2007 aangewys as die Internasionale Enjin van die Jaar en is dieselfde wat in die 335i BMW sedan gebruik word.  Die X3 35i het ’n topsnelheid van 245km/h en hy versnel ook vinniger van 0-100km/h (5,7 sekondes) as byvoorbeeld die nuwe Volkswagen Touareg 4.2 V8 TDi. Glad nie sleg nie, en boonop is hy heelwat ligter as die Touareg.

Vir stadsverkeer het die X3 stop-ry-tegnologie. Dit beteken dat as hy vir langer as drie sekondes stilstaan, skakel die enjin outomaties af om brandstof te bespaar – en weer vanself aan as jy jou voet van die rempedaal afhaal. Jy kan die funksie afskakel as jy dit verkies.

Die X3 het opsionele skokdemperbeheer waarmee jy die vering harder of sagter kan verstel. Jy kan dit ook gebruik om die voertuig in te stel vir drie ryopsies: Normal, Sport en Sport+.

As jy byvoorbeeld Sport of Sport+ kies, reageer die versneller vinniger en is die kragstuur ook skerper en meer gevoelig as andersins.

Só ry hy:

Op die pad: Dit voel behoorlik soos ’n luukse sedan. Die petrolenjin het baie woema en die dieselenjin staan nie ver terug nie. Die Servotronic-stuur help ook teen hoë snelhede om die motor in ’n reguit lyn te hou deur die stuurmeganisme minder sensitief te maak as jy vinnig ry.

Teen lae snelhede is die meganisme weer meer sensitief sodat jy maklik in stadsverkeer oor die weg kan kom.

Dynamic Drive Control verstewig die teenrolstawe in skerp draaie en verminder die krag na die binneste wiele in ’n draai.

Op die teer bestuur hy ongelooflik lekker en is uitgeknip vir die langpad. Noudat die stamperige rit van die vorige model verbeter is, is die gerief nóg beter as voorheen.

Die agtspoedratkas help ook dat die brandstofverbruik van die 20d baie goed is en BMW beweer dat jy meer as 1000km op ’n tenk sal kan aflê teen ’n verbruik van 5,6 liter diesel per 100km.

In die veld: Kyk, almal weet dat BMW nie gefokus is op die mark vir harde veldryers nie. Die toetsmodelle het 19 duim-bande gehad, maar as hy met sy standaard 17 of 18 duim-tekkies die grondpad trap, sal dit nóg meer vir gemak en padhouvermoë doen.

Die xDrive-stelsel se kragverspreiding tussen die wiele werk soos klokslag om te verseker dat hy vastrap en jy sal op redelike grondpaaie en selfs ’n tweespoorpaadjie kan ry – mits jy oordeelkundig bestuur om die bande en onderkant te beskerm.

Sy grondvryhoogte van 21,2cm is ook ’n verbetering op die vorige model se 20,1cm.

Daar is wel een ding wat jou gaan terughou. Paprybande (bande met baie harde sye wat jou toelaat om te kan ry, al is hulle pap) is nuttig op teerpaaie, maar as iemand ’n stukkie grondpad voor jou neersit en jy wil dalk die bande effens afblaas vir meer padhouvermoë, help dit niks. Dik sand gaan jou plettervat en klippe gaan jou stopsels uitskud.

Jy kan dit dalk oorweeg om die paprybande te vervang met lekker veldrybande en dit kan sy vermoë verbeter.

Maar ek sal twee keer dink voor ek die BMW verander. Aanvaar eerder dat hy nie gemaak is vir veel meer as die grondpad op pad na jou wildplaas nie.

BMW X3 Exterior

Fyntrap. Hoewel sy 19 duim-bande gemik is op teerpaaie, het hy nogal ’n gawe grondvryhoogte van meer as 21 cm. Sypaadjies, hier kom ons!

Sleutelsyfers:

Enjin: 2979 cc sessilinder; 1995 cc viersilinder
Krag: 225kW @ 5800 r.p.m.; 135kW @ 4000 r.p.m.
Wringkrag: 400Nm @ 1200-5 000 r.p.m.; 380Nm @ 1750-2 750 r.p.m.
Topsnelheid: 245 km/h; 210 km/h
0-100km/h: 5,7 sek; 8,5 sek
Transmissie: Agtspoed outomatiese ratkas; heeltydse 4x4
Vering: Dubbele mikvere met veelskakels voor en agter
Remme: Geventileerde skyfremme
Bande: 245/50 R18; 225/60 R17
Grondvryhoogte: 21,2cm
Naderingshoek: 25,7 º
Vertrekhoek: 22,6 º
Dompeldiepte: 50cm
Brandstoftenk: 67 liter
Brandstofverbruik: 8,8 liter/100 km; 5,6 liter/100km (gekombineerde siklus)
Waarborg/Diensplan: 5 jaar/100 000 km; diensinterval bepaal deur bestuurder se rystyl
CO²-vrystelling: 204 g/km; 147 g/km
Prys: xDrive35i – R598 000; xDrive20d – R463 000 (sonder ekstras en CO²-belasting)

Ons hou van...

• Hy lyk nóg beter as sy voorganger.
• Die 35i-enjin sal jou vinnig kry waar jy wil wees.

Ja, maar...

• Hy’s duur met al die ekstras.
• Die paprybande keer jou om rêrig die veld te pak.

Mededingers:

Audi Q5 3.0 TDI Quattro S tronic - R 549 000; Subaru Forester 2.5 XT - R452 000; Volvo XC60 D5 - R527 700

WegRy sê:

As jy vrede maak met die feit dat hy gemaak is vir glibberige teer en goeie grondpaaie, sal jy baie van dié wa hou.

 


Kommentare

Ek het vir 22 jaar BMW gery waarvan die laastes van die x reekse was. Jy betaal vir baie fieterjasies waarvan jy nie die helfte regtig nodig het nie en na vier jaar is dit niks werd nie en sodra jou motorplan verval, draai BMW  hulle rug op jou en die motor. BMW is hoegenaamd nie 'n belegging nie.

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association