BMW R1200 GS Adventure | 30 Year Anniversary Edition

Die BMW R1200 GS Adventure 30 Year Anniversary Edition is groot, het ’n bloedrooi saal en vier dié maatskappy se 30 jaar van dubbeldoelmotorfietse. Jaco Kirsten wonder egter of vooruitgang altyd so ’n wonderlike ding is.
As jy en ’n teenstander met ’n gewig van meer as ’n kwartton aan die stoei gaan raak, wie dink jy gaan wen? Dis presies waaroor ek gewonder het agter die stuur van die BMW R1200 GS Adventure 30 Year Anniversary Edition (die naam is net so ’n bielie soos sy gewig).
Interessant genoeg was die toetsmodel toegerus met hoëverrigting-straatfietsbande – wat uiteindelik veelseggend was, want hy begin nou al meer ontuis raak in régtig rowwe dele.
Dit was verlede jaar 30 jaar gelede dat BMW sy eerste veeldoelmotorfiets, die R80 G/S bekend gestel het. Deesdae noem BMW dié modelle almal “GS’e” – afgelei van Gelände/Strasse, oftewel Duits vir veld/pad. En hier is ons nou met die 1200 Adventure-30-jaar-gedenkmodel wat 256 kg weeg.
Verskoon tog die geskiedenisles, maar dis nogal relevant, aangesien die R80 G/S ’n skamele 186 kg geweeg het met ’n vol tenk petrol. Iewers in die 30 jaar het ’n eenvoudige, ratse konsep 70kg swaarder geword. En tog het BMW al meer as 100 000 GS’e verkoop.
Soos die portier gevra het toe hy die sokkerlegende George Best betrap het saam met ’n naakte eks-mej. Wêreld in ’n hotelbed besaai met pondnote: “George, waar het dit alles verkeerd geloop?”
Nou ja, die oningeligte waarnemer sal homself afvra: “Wat is die slegte nuus?” Wel, die slegte nuus is dat George sy loopbaan weggedrink en -gefuif het. Nes die Adventure baie ingeboet het van dít waarvoor die eerste R80 G/S gestaan het.

Die wêreld se beste toerfiets, enigiemand?
Maar die punt is dat die 1200 GS Adventure, met volgepakte aluminiumtasse, nou só swaar is dat hy nie meer werklik ’n dubbeldoelfiets is nie. Wat is hy dus? Loshande die wêreld se beste toerfiets, dís wat.
Jy kan hom nou vol laai in Pretoria en as jy vroeg roer, kan jy laat daai selfde dag die Kaap inry. Sonder om moeg of uitgeput te wees. As jy ’n dag langer vat, kan jy dit via die interessante grondpadroetes doen. Daar is géén ander motorfiets ter wêreld wat sulke groot afstande in sulke groot gemak kan aflê nie, of dit nou of teer- of grondpad is.
Dis ’n kombinasie van dinge wat dit moontlik maak. Dis die kragtige enjin wat heeldag lui-lui teen 180 km/h kan brom. Dis die goed deurdagte verhouding tussen saal (baie sag en gemaklik, dankie), stuur en voetruste. Alles is waar dit moet wees.
En dan is daar die groot windskerm wat sorg dat jy teen bogenoemde snelheid geen drukking van die wind ervaar nie. Selfs reën piets jou eintlik net op die knieë en bo-op jou valhelm.
Dan is daar die opsionele aluminiumtasse wat water- en stofdig is en binne sekondes kan afknip om saam met jou gastehuis toe te gaan. Of as sitplekke langs jou tentjie te gebruik. Of… om vol ys te pak en as koelboks te gebruik. Régtig.

Die tegniese kant van die saak
Die enjin is steeds die oeroue, kenmerkende BMW-ontwerp: Horisontale tweesilinder, oftewel ’n “Bokser-enjin” – so genoem omdat die twee silinders se suiers in teenoorgestelde rigtings “boks”. Maar dié een is die jongste inkarnasie van ’n baie ou resep. Want hy’t dubbele nok-aste. En hy ontwikkel nou 82 kW krag. Om te dink, dis meer as ’n Ford Ranger 2.5 TD…
Dan is daar die elektronika. Sommmige kla daaroor en sê dis sy achilleshiel. Wat deels waar is. Maar jy moet erken dat vastrapbeheer, elektronies verstelbare vering (sommer met die druk van ’n knoppie) en ’n banddrukmeter dinge is wat jy nie sommer op ’n motorfiets verwag het nie.
Die sesgangratkas is deur ’n proses van evolusie nou al so glad dat jy vergeet hoe grof BMW’s se oorskakelings slegs vyf jaar terug was. Die asaandrywing beteken dat jy saans kan wors braai en ’n drankie skink as die ander manne kettings moet stel en met olie bespuit.
Gewigte besluite
Elke 30-jaar-gedenkmodel is al verkoop. Maar, afgesien van die rooi saal en plakkers kan jy steeds identiese motorfietse koop (die 30-jaar-pakket kos sowat R4000). Dis ’n tegnologiese tour de force. ’n Indrukwekkende ingenieursprestasie en ’n formidabele toerfiets. En die gemiddelde ou kan amper orals met hom ry. Let wel, amper. Want ’n kwartton bly ’n kwartton. Dus, tensy jy ’n baie goeie en ervare ryer is, gaan óf jy óf die motorfiets – of julle altwee – kort voor lank seerkry as jy met hom die boendoes inneuk.
Maar nou ja, dertig jaar is ’n lang tyd waarin baie dinge verander het.
WegRy sê: Gebruik hom as ’n grondpadtoerfiets en jy’t waarskynlik die beste fiets in die wêreld. Probeer jou Dakar-drome met hom uitleef en jy gaan ’n nagmerrie ervaar.

Sleutelsyfers:
Enjin: 1170cc; tweesilinder-bokserenjin; lug/olieverkoel; 82 kW @ 7 750 r.p.m.; 120 Nm @ 6 000 r/min.
Transmissie: sesgangratkas; droë koppelaar; asaandrywing
Verrigting: 200+ km/h, 0 tot 100 km/h – 3.2 sek. 6.1 l/100km (120 km/h)
Veldsyfers: 256 kg, 33 liter-brandstoftenk
Waarborg: 2 jaar; 3 jaar BMW On Call-padbystand
Diensinterval: 10 000 km/jaarliks
Prys: R197 050 (soos getoets – sluit in ABS, vastrapbeheer, elektronies verstelbare vering, 30-Jaar Gedenkpakket).




Kommentare
Pos nuwe kommentaar