Hyundai ix35 2010

Hyundai se nuwe ix35 is die jongste salvo in hierdie Koreaanse vervaardiger se verbete poging om alle teenstand uit die pad te vee.
Maar voordat hulle dít kan regkry, sal hulle eers met die naburige Japan moet afreken. En dis iets waarvoor hy sy lippe aflek. Want onder dié nasie is daar steeds groot bitterheid oor wat Japan aan hulle gedoen het.
Dit het eintlik al in die laaste dekade van die negentiende eeu begin toe Japan vir Korea begin intimideer het voordat hy
hom in 1905 eensydig tot protektoraat en in 1910 tot kolonie verklaar het. En dié besetting is eers beëindig toe Japan in 1945 teenoor die Geallieerdes oorgegee het. Met ander woorde, die ix35 is meer as net nog ’n voertuig – dis eintlik ’n klein-skaalse artilleriebestoking-op-wiele.
Die eerste ding wat jou van die ix35 opval, is hoeveel meer dinamies en gesofistikeerd hy lyk as sy voorganger, die Tucson.
Om die waarheid te sê, dit lyk asof hulle uit totaal verskillende eras dateer. Wat inderdaad so is, aangesien die Tucson sy oorsprong kan terugspeur na ’n tydperk toe Hyundai nog gespook het om te groei sodat hy die vierde grootste vervaardiger ter wêreld kon word.
Die ix35, aan die ander kant, getuig van ’n vervaardiger wat wéét hy hoort tussen die groot honde.
Trouens, Hyundai is tans besig om só momentum op te bou dat hy binne die volgende vier jaar sy hele produkreeks met ander modelle gaan vervang.
Hier is ’n paar van die belangrikste eienskappe van die ix35-reeks:
- Die ix35 is langer, breër en laer as die Tucson, wat verklap dat dit ontwerp is om meer tuis te wees op teer en goeie grondpaaie as sy voorganger.
- Daar is ses modelle met drie nuwe enjins in die reeks. Die petrolmodelle bestaan uit ’n 2-liter- (122 kW en 197 Nm) en ’n 2.4 petrol (130 kW en 227 Nm), terwyl die nuwe R2.0 CRDi turbodiesel 130 kW en 392 Nm lewer.
- Daar is ’n 4x2 en handrat- of outomatiese modelle vir sowel die 2-liter-petrol en R2.0 CRDi turbodiesel, maar die 2.4 petrol is net te kry met vierwielaandrywing en ’n outomatiese ratkas.
- Die outomatiese ratkaste het ses ratte vorentoe.
- Daar is twee afwerkings- en spesifikasievlakke – die intreevlak-GS en die meer luukse GLS-afwerking.
- Die 4x4-modelle se middelste ewenaar kan gesluit word om krag 50:50 tussen die voor- en agterwiele te verdeel.
- Die GLS-modelle het ’n kamera in die voertuig se agterkant met ’n klein monitor wat in die oorhoofste truspieël ingebou is en outomaties aanskakel wanneer jy trurat kies.
Braaivleisfeit: Die vyfpuntige sierrooster van die ix35 is die nuwe gesig van alle Hyundai’s wat binnekort onthul gaan word.
Hyundai sê …
Enjin: 2.0 petrol; 2.4 petrol; 2.0 turbodiesel
Ratkas: 5-spoed handrat of 6-spoed outomaties
Krag: 122 kW; 130 kW; 130 kW
Wringkrag: 197 Nm; 227 Nm; 392 Nm
Vering:
Voor: McPherson-stutte met kronkelvere
Agter: veelskakel met kronkelvere
Remme:
Voor: geventileerde skywe
Agter: soliede skywe
Grondvryhoogte: 17 cm
Naderingshoek: 28,1 º
Vertrekhoek: 26,9 º
Brandstoftenk: 55 liter
Brandstofverbruik:
8,7 liter/100 km;
9,2 liter/100 km;
7,5 liter/100 km (4x4)
Waarborg: 5 jaar/150 000 km
Diensplan: 5 jaar/150 000 km
Diensinterval: 15 000 km
Modelle:
2.0 GL 4x2 handrat;
2.0 GLS 4x2 handrat;
2.0 GLS 4x2 outo;
2.4 GLS 4x4 outo;
R2.0 CRDi 4x2 handrat;
R2.0 CRDi 4x4 outo
Prys: R239 000–R369 000
Wat kry ek alles?
Afhangende van die model, enigiets van vierwielaandrywing, leerbekleedsel, ’n trukamera, kragpunte vir ’n iPod, elektroniese stabiliteitsbeheer, elektroniese remkragverspreiding, lugversorging voor en agter, 12 V-kragpunte, sonbrilhouer en elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek.





Kommentare
Pos nuwe kommentaar