Pin It

Land Rover Defender 110 Puma SW 2.4 D 2010


Picture65



WegRy het ’n week lank ’n Land Rover Defender gehad
, en Albertus van Wyk het hom deur sy passies gevat op die Kroonland-4×4-roete naby Villiersdorp.

Voor jy verder lees, moet jy eers weet wát jy lees. Ek en ’n vriend het op universiteit besluit ons gaan nie die Engelse voorgeskrewe werke lees nie, sodat ons ’n onbelemmerde mening in die eksamen kon gee. Dieselfde met my mening hier.
Ek ken nie Land Rovers goed nie, en het nog nie baie in Defenders gery nie, maar hier is ’n paar oorsigtelike, onbelemmerde indrukke.

Waarvan ek gehou het:

•    Die enjin.
Die 2,4 liter-turbodiesel-Ford-enjin voel soos ’n ou kennis wat jy na jarre weer sien. Hy was nie in sy vorige lewe ’n resiesperd nie, maar op die langpad kan jy heel gemaklik vinniger draf as die spoedgrens. In die veld en teen redelik skrikwekkende opdraandes was die wringkrag meer as genoeg. En hy’s glo so betroubaar soos ’n koevoet.

•  
Die vering.
Goed, dis nou nie ’n Rolls-Royce nie, maar dis veel meer soepel en vergewensgesind as ’n ou vastevooras-Hilux s’n, alles te danke aan daai lang kronkelvere.

    Die elektroniese vastrapbeheer.
As jy op ’n plaas grootgeword het, is dit teen jou instink om vet te gee as die wiele tol, maar teen ’n 35 º-opdraande met los klippe het die blikbrein die wiele mooi laat saamwerk as jy die versneller trap.

• 
   Daai Landie-gevoel.
Dis die eerste keer dat soveel mense in Land Rovers vir my waai. Ek het maar teruggewaai …

Maar dít het gepla:

    Die reusagtige draaisirkel.
Dit sal goed werk in Schweizer-Reneke waar die hoofstraat ontwerp is vir ’n ossewa en ’n span osse om te draai. Die Defender is ’n baie ongemaklike kar om in die dorp rond te ry. Selfs in vergelyking met ander oustyl-4×4’s.

•    Die paneelkissie.
Watter paneelkissie? Hier is amper geen pakplek vir klein goedjies voor in die kajuit nie. Als moet maar in die groterige bêrekassie tussen die twee sitplekke pas.

•   Die handrem.
Meer is waarskynlik al oor die simpel plasing van die Land Rover se handremhefboom geskryf as oor die eerste maanlanding. En as die Yanks ’n man op die maan kan sit, hoekom kan Land Rover nie die handremhefboom skuif nie? Ek loop nou nog met ’n teer plekkie op my been ná die 4×4-roete.

•    Die ratkas.
Ek verstaan die koppelaar en ratkas van die Puma is ’n groot verbetering op vorige modelle. Wel, soms as jy oorskakel, voel (en klink) dit nog steeds of jy ’n wisselaar op ’n spoorlyn skuif: Ki-klônk!

•    Die kajuit-ergonomie.
’n Mens aanvaar jy koop ’n voertuig met ’n ontwerp en binne-uitleg wat dekades oud is, maar dis steeds steurend as ’n ma nie maklik by ’n kind op die agtersitplek kan uitkom nie. Dis moeilik om in die klein spasie om te draai en na agter te strek.

•    Die dakvenstertjie.
Sonder die lang dakvenstertjie bo die agtersitplekke is ’n Defender net nie ’n Defender nie, maar die probleem is dat die agtersitplekke in die Defender ook so hoog is dat ’n standaardgrootte grootmens net mooi in die dak vaskyk tussen die gewone venster en die lang dakvenstertjie. Hoekom?

Wat sê jy nou eintlik?
Ek dink ’n mens mis die punt heeltemal as jy die Defender afskiet as gevolg van sy talle tekortkominge, nes jy die punt heeltemal mis om in ’n resensie van Nicholis Louw se musiek te kla dat Louw zef is en Europese popliedjies ver-Afrikaans. ’n Mens hou juis van Nicholis oor hy zef is en lekker pop-tunes sing, waar dit ook al vandaan kom.
Want uiteindelik hou Defender-eienaars van hom omdat dit ’n ikoniese 4×4 is met ’n láng tradisie in Afrika. Gevolglik pla die meeste van sy tekortkominge hulle glad nie. Om die waarheid te sê, hulle het nogal ’n sagte plekkie vir party van die tekortkominge.

Sleutelsyfers:

Enjin:
2 402 cc, in-gelid viersilinder-turbodiesel;
90 kW @ 3 500 rpm,
360 Nm @ 2 000 rpm

Transmissie:
6-gang handrat, heeltydse vierwielaandrywing,
elektroniese vastrapbeheer

Verrigting:
140 km/h Topsnelheid (beperk),
13.2 liter/100 km

Veldsyfers:
314 mm grondvryhoogte,
49º-naderingshoek,
35º-vertrekhoek,

235/85R16-bande,
75 liter-brandstoftenk,
3 050 kg

Waarborg: 3 jaar /100 000 km
Diensplan: Geen
Diensintervalle: 10 000 km

Prys: R389 500
(die model op die foto is ’n spesiale Fire & Ice-weergawe, teen R418 000)


Oorspronklik gepubliseer in WR#22 | November 2010