Jeep Grand Cherokee 3.6 V6 Overland


Die nuwe Jeep Cherokee is ’n reusestap vorentoe vir hierdie ikoniese Amerikaanse maatskappy. Maar dis nie asof hy veel van ’n keuse gehad het nie, sê Jaco Kirsten.
Die storie van Jeep is die storie van die moderne Amerikaanse motorbedryf: Vir té lank het hulle hulself oortuig dat hulle rygoed “eintlik nogal oukei is”. In ’n geslote mark het dit vir dekades gewerk. Totdat die Japannese en Duitsers ’n groter en groter deel van die mark in Amerika begin vat het met beter produkte.
Die ding is, mense is nie dom nie. Jy kan net só lank op jou landgenote se patriotiese sentimente staatmaak voor hulle lont ruik. En die Yanks het hul bes probeer met rygoed met name soos die Patriot, Compass en Liberty. Dit herinner sterk aan name soos ’n Chev Impala, Chev Kommando en Springbok-sigarette. En almal weet wat van húlle geword het.
Chrysler, Jeep se moedermaatskappy, het die afgelope paar jaar amper finansieel in die hek geduik. Nes General Motors wat op sy dag die wêreld se grootste motorvervaardiger was. Maar gelukkig lyk dit of Fiat se finansiële inspuiting Chrysler se sake geswaai het.
Fiat se grootbaas, Sergio Marchionne, ’n Kanadees van Italiaanse afkoms, het Fiat ’n paar jaar gelede reggeruk het. Voor dit het hy Boeing ook sommer onder die jis geskop.
Enigiets is dus moontlik vir Marchionne en sy span. Fiat het ook net betyds in die prentjie gekom, want sonder geld kan jy nie goeie nuwe produkte ontwikkel nie. En sonder goeie produkte… wel, dis soos om by ’n skietgeveg in ’n Wilde Weste-kroeg op te daag met ’n leë whiskeybottel in jou hand.
Wat maak die nuwe Grand Cherokee anders as sy voorganger?
Dis soos om Barack Obama met George Bush te vergelyk. Radikaal anders. En tog, net soos wat Amerika steeds Amerika is, is die Grand Cherokee steeds ’n Jeep. Dis die eerste Grand Cherokee met onafhanklike vering vir al vier wiele – anders as sy voorganger wat nog ’n vaste as agter gehad het.
Dit kan jou dalk laat dink hy’s sagter in die veld. Maar dis beslis nie die geval nie, want Jeep het hom toegerus met twee stelsels genaamd Selec-Terrain en Quadra Lift. Dis eintlik ’n ingewikkelde manier om min of meer dieselfde te doen as Land Rover se Terrain Response.
Nes laasgenoemde kan jy met behulp van ’n beheerknop die ryhoogte en stabiliteitsbeheer aanpas by verskillende rytoestande soos klippe, sand, modder en sneeu. ’n Interessante eienskap is dat die Grand Cherokee vanself nóg laer sak teen 120 km/h vir beter brandstofverbruik.
En die enjin?
Die toetsmodel se 3,6 liter-V6-Pentastar-petrolenjin (210 kW en 347 Nm) vervang die vorige Grand Cherokee se 3,7 liter-Powertech-V6 (151 kW en 319 Nm). Dit vergelyk ook goed met die Prado se 4 liter-V6 (202 kW en 381 Nm) en die Nissan Pathfinder 4 liter-V6 (198 kW en 385 Nm).
Hoewel die Pentastar heelwat kragtiger is as sy 3,7 liter-voorganger, sê Jeep dat hy meer ekonomies is. Tydens ons toetstydperk het die ritrekenaar gewys dat hy net meer as 13 liter/100km gebruik het en op die oop pad reken Jeep hy sal nader aan 9 liter/100km kan kry. Ja, maar dan sal jy baie suutjies moet ry – met die wind van agter.
Dis ’n gladde enjin wat meer as genoeg woema het vir die meeste mense. Dis net die effens stadige outomatiese ratkas wat dinge soms bederf, veral as jy vinnig ’n laer rat soek om verby te steek. In so geval moet jy maar die tikratfunksie gebruik en self die ratte oorskakel.
Die ander opsie is die groter 5,7 liter-Hemi V8-petrol, maar hy’s dorser as ’n Russiese matroos en as jy ’n diesel soek, sal jy nog ’n paar maande moet wag tot tyd en wyl Jeep die Grand Cherokee 3.0 V6 turbodiesel hier bekendstel.
Hoe lyk dit binnelangs?

As jy aan die vorige Grand Cherokee se binneruim gewoond is, gaan dié een jou aangenaam verras. Die Amerikaners sukkel al lank om rygoed te bou met plastiek wat jou nie aan kampeerborde laat dink nie, maar dit lyk asof hulle ook tot insig gekom het.
Die platiek is sag, die voorste konsole is met leer oorgetrek en die instrumentasie lyk regtig luuks en smaakvol. Dis ’n ryding wat regstreeks meeding met die Toyota Prado en ’n mens kan met sekerheid sê dat die Jeep hom binnelangs ernstig opdreun. Die een hoek van die toetsmodel se middelste instrumentkonsole was los – ons weet nie of dit bloot swak bougehalte is en of die ou wat die voertuig voor ons gehad het meer krag as gesonde verstand gehad het nie.
Die Overland-spesifikasievlak is redelik luuks en die toerusting is omvattend – van satellietnavigasie, ’n trukamera en DVD-vertoonskerms in die voorsitplekke se kopstutte, tot ’n iPod-koppelpunt en sleutellose toegang. Die Grand Cherokee se onderstel is min of meer dieselfde stuk yster as die Mercedes-Benz ML s’n en daarom het jy die Merc se tipiese voet-parkeerrem.
Die leersitplekke se afwerking is werklik goed en jy kan die agterste laaideur óf heeltemal oopmaak met die druk van ’n knoppie óf net die glasruit oopklap – nogal nuttig as daar byvoorbeeld nie genoeg plek is om die hele laaideur oop te maak nie.
Kan hy darem in die veld ry?
Ja, gelukkig is dit nog ’n ware Jeep. Hy klim sonder veel moeite oor hindernisse. Die enigste probleem is dat die luukser Overland-model standaard met 20 duim-bande uitkom.
By die toetsbaan – met ’n kombinasie van harde grondhindernisse en diep sand – moes ons die bande afblaas tot 1,2 bar. Oor die kwaaier hindernisse het die bande se sywalle erg begin deurdruk en daarom is dit goed om te weet dat jy die Overlander kan koop met dieselfde kleiner 18 duim-bande wat op die goedkoper Limited-modelle te kry is.
Die elektroniese vastrapbeheer kwyt homself goed van sy taak en as die Jeep se vering op sy hoogste gestel (272 mm-grondvryhoogte) is, is daar min plekke waar hy nie kan klouter nie.
’n Mens bly egter bewus daarvan dat ’n klip enige oomblik die dag se pret kan bederf, danksy die 20 duim-wiele.
Gevolgtrekking:
Die nuwe Jeep Cherokee is werklik ’n luukse ryding wat kan saampraat met ’n Prado en selfs hap-hap aan ’n Discovery 4 se vlakke van afwerking. Met sy mededingende prys kan jy maklik hier en daar ’n tekortkoming oor die hoof sien. Die enigste moontlike probleem as jy een koop, is sy herverkoopwaarde, wat moontlik by dié mededingers gaan afsteek.
Sleutelsyfers
Enjin: 3 604 cc; V6
Krag: 210 kW @ 6 400 r/min
Wringkrag: 347 Nm @ 4 800 r/min
Topsnelheid: 206 km/h
0-100 km/h: 9,1 sek
Transmissie: 5-spoed outo, hoë- en laestrek, heeltydse vierwielaandrywing, elektroniese vastrapbeheer
Suspensie: Onafhanklike vering, pneumaties verstelbare ryhoogte
Remme: Skywe
Bande: 265/50 R20
Grondvryhoogte: 272 mm (maksimum ryhoogte)
Naderingshoek: 34,3º
Vertrekhoek: 29,3º
Dompeldiepte: 508 mm
Gewig: 2201 kg
Brandstoftenk: 93,5 liter
Brandstofverbruik: 11,4 liter/100 km (gekombineerde siklus)
Waarborg/diensplan: 3 jaar/100 000km
Diensinterval: Soos bepaal deur ritrekenaar
Prys: R581 990
WegRy sê:
Dis ’n Jeep wat só luuks is dat jy amper bang is om met vuil skoene in te klim. Maar dis oukei, hy kan dit vat.

<
hr>





