Hermie se crazy cruiser


Hermie Koen het vier Land Cruisers, en sy hoof-Cruiser, ’n 80-series, het amper meer toerusting op sy voorste bosbreker as wat die meeste ander veldvoertuie in die geheel het. En daar’s nog meer binne-in…
Hermie het nie ’n grap gemaak toe hy sy Cruiser Mkhulu gedoop het nie.
Dit beteken “groot man”, en met ’n lys ombouings wat byna so lank is soos Victor Matfield en Bakkies Botha saam, verdien hy dit.
Hy het die 1996 1HZ 80-series Land Cruiser GX-diesel in 2002 van sy swaer in Mpumalanga gekoop. Toe het dit 65000km op die klok gehad. Vandag, meer as 255890 harde kilometers later, was hy, sy vrou en twee tienerdogters al byna oral in Suider-Afrika.
Die Cruiser is gekoop met die doel om dit in ’n volledig toegeruste toervoertuig vir lang reise te omskep.
Hermie het die meeste ombouings self gedoen – as iets dus in die veld verkeerd loop, kan hy dit self regmaak. Die gesin is dikwels drie weke lank op pad, en hy wil so selfversorgend as moontlik wees.
Toe hy hom gekoop het, was daar ’n turbo-aanjaer en tussenverkoeler op die sessilinderdieselenjin gewees, maar nadat ’n gaatjie in een suier gebrand is, is die enjin oorgedoen en dié keer is dit standaard gehou.
Dis omtrent waar die standaard-funksies ophou…
Van buite af lyk die Cruiser soos ’n Kersboom. Wat is alles gemodifiseer?
Ek het ’n pasgemaakte bosbreker laat bou en ’n Ramsey-wenas, CO2-brandblusser en luidsprekerstelsel daarop vasgesit. Die luidsprekerstelsel is aan die 29Mhz-radio gekoppel en word gebruik as ons in ’n groep is. As die ander mense nie naby hul motors is nie, kan ek steeds met hulle kommunikeer. Op die bosbreker is ook ’n bankskroef, wat nuttig is vir herstelwerk, en twee KC-kolligte.
Daar was ’n stel blouwildebeeshorings op, maar die vriendelike mense by die veeartsenystasie buite Palmwag het dit afgevat, en my boonop met R300 beboet! Daar is ook ’n ou Rondalia-wapen op wat op my pa se 1970 Valiant was.
Die Rondaliawapen was op Hermie se pa se 1970-Valiant.
Verder het die Cruiser Old Man Emu-vering, 33” BF Goodrich-bande en ’n safarisnorkel. Van die elektriese goed is ’n kompressor (onder die enjinkap) en twee ekstra batterye. Tien elektriese drade loop van die batterye tot in die motor na verskeie elektriese toestelle, wat elkeen met sy eie sekering werk. Daar is elektrisiteitsvoorsiening vir ses kolligte op die dak (dié ligte kan afgehaal word).
Die Cruiser het ook ’n Burnco-agterbuffer met twee noodwiele en ’n sleephaak. Die een noodwiel het ’n Camp Cover-sak met roosters, vullissakke en braaitoerusting, en ’n ou wasmasjiendrom is op die ander noodwiel vasgebout. Hierin braai ek.
Die dakrak ry nie altyd saam nie. Hierop sit ek my 80 literwatertenk.
Wat jy het binne gedoen?
In die dak het ek ’n T-vormige dakkonsole gebou met ’n klomp kompartemente. Dit het plek vir alles en nog wat, onder meer die 29MHz-radio, VHF-radio, satelliettelefoon, noodhulpkissie, naaldwerkstelletjie, herlaaibare batterye vir flitse en kameras, selfoonlaaiers, die kinders se iPods, DVD-speler, leesliggies – en ’n groot pak Rennies. In die dakruim het ek LED-liggies gesit sodat ons binne die kompartemente kan sien.
Ek kan al dié bybehore in die dakkonsole afskakel met die druk van ’n knoppie.
Reg deur die Cruiser is tien sigaretaanstekerproppe en twee Hella-proppe, waarin ons die GPS’e, iPod-laaier, selfoonlaaiers en die DVD-speler kan prop.
Is jy reg vir die vlug? Hermie het die dakkonsole self gemaak, en hier’s plek vir van selfoonlaaiers tot ’n noodhulpkissie.
Aan die kant van die voorste instrumentepaneel het ek ’n plekkie ingerig vir die nodigste gereedskap. En by elke deur is ’n houer pepersproei.
Agterin is ’n Outback-laaistelsel met al ons kampgoed, soos die stort, kos, ketel en potte, opwasgeriewe, glase en eetgerei vir vier mense. Dit het ook plek vir die lugdomkrag – een van die beste geskenke wat ek nog gekry het.
Bo-op die laaie is die getroue National Luna-yskas (40 liter), en die res van die plek agter gebruik die vroue soos hulle lus het. Daar is ook ’n rak aan die binnekant van die dak waarin ons ligte baadjies en toiletpapier bêre.
Onder die dak is ’n rakkie met pakplek vir ligte baadjies en toiletpapier.
Ek het die binnekant van die agterdeur in ’n gereedskapskas omskep met ’n volledige stel moersleutels, tange en skroewedraaiers. Daar is ook oorgenoeg ligte sodat ons kan sien wat ons doen.
Ek dra 180 liter diesel en 40 liter water aan boord en dit maak dat die voertuig meer as drie ton weeg.
Herstelwerk en probleme?
Soos reeds genoem, is die turbo afgehaal. Op ons laaste toer in Julie 2010 na Kaokoland het die agterste ewenaar ’n paar tande gebreek tussen die Kunene River Lodge en die Epupa-waterval.
Ek is met voorwieldrywing verder nadat my vriend Francois aangebied het om my boswaentjie verder te sleep.
Almal moes maar help by die moeilike plekke, maar ons het by ons bestemming uitgekom. Die volgende dag het ons onderdele uit Windhoek bestel en deurgery Oshakati toe vir die herstelwerk. N$6100 later en ons was weer op pad.
Onderdele vir dié 80-series Land Cruiser is regdeur Afrika beskikbaar, en jy kan hom maklik met ’n tang en draad regmaak. Verder vra hy net filters, nuwe olie, diesel en die langpad.
Buiten al die versierings en tierlantyntjies bly die Cruiser ’n monster in die veld.
Watter soort reaksie lok hy uit?
Daar is plakkers van die meeste van die plekke wat ons al besoek het en mense vergaap hulle daaraan. Ek hoor gereeld: “Was jy by al die plekke?” Die mans lewer eerder komentaar oor die rowwe voorkoms van die voertuig en wil altyd weet wat is onder die enjinkap. Mense wil ook graag weet waar ek die ombouings laat aanbring het.
Waarvan hou jy?
Alles – ek is mal oor Mkhulu. Dit gee my goeie diens en ek kan enige roete daarmee aanpak – van pretdae tot toere saam met my gesin. Die dieselenjin is betroubaar en eenvoudig.
En waarvan nie?
Dit het te min krag teen ’n bergpas uit met die boswaentjie agteraan. Maar dit pla nie te veel nie – ons is mos op vakansie.
As jy iets kon verander?
Dalk ’n ewenaarslot op die agterste as, maar ek het dit nog nie nodig gehad nie.
En die ander Cruisers wat jy het?
Daar is ’n 1999 Land Cruiser 100 VX-diesel Limited – my werk-en-kerk-motor, ’n 1974 FJ40 SWB met ’n V8-petrolenjin en dan my vrou se skoolkar, ’n 1997 80-series VX-diesel.
le=”My ryding: Hermie se crazy cruiser 6″ width=”470″ height=”306″>Kaalvoetklonkies. As daar ’n kompetisie of byeenkoms is, is Hermie Koen (regs) en sy Cruiser Mkhulu daar.
Oorspronlik gepubliseer in WegRy #24 Jan-Feb 2011






