Wag vir Fortune(r)

Die Toyota Fortuner is ’n baie goeie produk. Altans, so sê baie mense. Die res moet maar geduldig wag voordat hulle kan saampraat. Want as jy een bestel, moet jy maande lank droëbek sit en wag.
Wat mense uit die aard van die saak redelik krapperig maak. Só krapperig dat hulle oor ’n koue bier begin kla en hulleself afvra of die kool dan regtig die sous werd is.
WAT IS DIE OPONTHOUD?
Daar is twee oorsake: ’n gróót aanvraag en die feit dat Toyota SA se nuwe verfaanleg eers einde 2006 behoorlik op dreef gekom het. Dus het dit nie saak gemaak hoe vinnig die fabriek die ander dinge kon doen nie – solank hulle nie kon verf nie, was daar ’n reusagtige produk-siebottelnek.
HOEKOM IS HY SO GEWILD?
Toyota het party maande al tot 700 Fortuners in Suid-Afrika van die hand gesit (in Januarie vanjaar was dit 461). Die Nissan Pathfinder, wat min of meer dieselfde bied (hoewel teen amper R100 000 meer vir ooreenstemmende modelle), het in dieselfde maand 43 modelle verkoop. En moenie sê dis omdat die Pathfinder te duur is nie, want 193 van die nóg duurder Land Rover Discovery III’s is in dieselfde maand verkoop.
i) Dis nou ’n bargain.
Die antwoord lê in die uitstekende waarde-vir-geld-pakket wat hy bied. Kom ons vergelyk appels met appels: As jy soek na ’n vierwielaangedrewe voertuig met redelike luukses, wat ook bekwaam in die veld is sonder om jou bankrot te maak, is daar tans twee goeie keuses: die uiters onderskatte Hyundai Terracan en die Toyota Fortuner.
Waar die Fortuner 3,0 D-4D nuut R331 900 kos, kos die gelykwaardige Hyundai Terracan (die 7-sitplek-2,9 CRDi-handrat) net R314 500.Dus praat ons hier van ’n verskil van meer as R17 000.
Afgesien daarvan dat die Toyota se enjin (120kW en 343Nm) ’n bietjie meer poeier het as die Hyundai (110kW en 333Nm), is die Fortuner se krag-tot-gewig-verhouding ook baie beter.
Maar die Hyundai het nie ’n ewenaarslot agter nie. Jy kan een laat aanbring, maar dit sal jou R8 000 uit die sak jaag. Om sy grondvryhoogte te verbeter, kan Terracan-eienaars ’n sogenaamde lifting kit aansit, maar dit sal nóg R8 000 kos.
Skielik is ’n vergelykbare Hyundai Terracan ook nie meer so goedkoop nie.
ii) Hulle is orals.
Daar is ook ander, meer subjektiewe redes vir die sukses van die Fortuner, byvoorbeeld dat Toyota se handelaarsnetwerk in Suid-Afrika (en Namibië, Botswana – eintlik die hele Afrika) sonder gelyke is.
iii) Alles loop reg?
Toyotas ís betroubaar, kom jy agter as jy na navorsing oor kliënte-tevredenheid kyk. Dit beteken nie jou Fortuner (of enige ander Toyota) sal nooit breek nie. Nes jy nooit met absolute sekerheid sal kan sê jou vrou sal nie saam met Brad Pitt of die posman wegloop nie.
EN WAT PLA?
i) Waar’s die sous?
Die brandstoftenk van 65 liter is effens klein vir dié soort voertuig, maar hou in gedagte dat die lae brandstofverbruik van die dieselmodel hom ’n teoretiese reikafstand van meer as 600 km gee.
Self ry ek altyd ’n 25 liter-jerrykan saam as ek die langpad vat. Jy kan egter maklik ’n langafstandtenk aanbring en jou noodwiel op die agterdeur laat monteer. (Dalk laat dit jou rowwer voel by winkelsentrums.)
Die 4 liter-petrol-V6 is ongeveer 50% swaarder op brandstof as sy dieselbroer, maar die dieselmodel het meer as genoeg krag vir enige terrein.
Ek kan eintlik nie verstaan hoekom mense die V6-petrol wil ry nie. Veral nie noudat die gat in die osoonlaag al amper so groot soos Ollie le Roux begin raak nie.
ii) En wie moet hier sit?
Die irriterende twee agtersitplekke wat net geskik is vir kinders en sirkusdwerge kan jy gelukkig in ’n japtrap verwyder met ’n sterpuntskroewedraaier en ’n nr. 11-soksleutel.
iii) Haal af jou voete!
Hou ook in gedagte dat die Fortuner slegs te kry is met een kleur leer in die binneruim – ’n baie ligte, amper karamelkleurige bruin wat gou vuiligheid wys.Belê sommer by voorbaat in sitplekoortreksels.
Is daar nog keuses?
PAJERO | Die Mitsubishi Pajero 3,2 DI-D-5-deur-GLX-outo (121kW en 373Nm) kos R393 000. En anders as die Fortuner se taai leerraamonderstel, wat ’n mens gewoonlik by bakkies kry, het hy ’n buisromponderstel – soortgelyk aan dié van motors. Onthou net, as jy praat van grondvryhoogtes, moet jy ook sê watter deel van die voertuig op daai hoogte geleë is. Met buisrompvoertuie sluit dit ook goed soos die oliebak en ratkas in...
PATHFINDER | Steeds lus vir ’n groot tjek uitskryf? Dan kan jy begin rondkyk in die rigting van die Nissan Pathfinder 2,5 DCi LE, wat R407 500 kos. Ja, hy’t ’n kragtige enjin (128kW en 403Nm), maar onthou dat hulle dít uit ’n 2,5 liter-enjin tap. Gaan hy so lank hou soos die Fortuner se groter 3 liter-enjin wat effens minder krag ontwikkel, veral as jy die swak gehalte diesel in ons buurlande in ag neem? Net die tyd sal leer.
DISCOVERY | Land Rover se nuwe intree-vlak-Discovery III, die TDV6, kos R415000. Dis ’n goeie pakket met ’n lieflike enjin (140kW en 445Nm), maar die Terrain Response-stelsel waarmee jy die ryhoogte, ratkas en versnellerreaksies outomaties laat aanpas by die soort terrein waar jy jou bevind, werk dalk goed as alles goed gaan – maar sê nou die “slim” elektronika lol in ’n plek soos die Khaudum? Want dit hét al gebeur...
PRADO | En dan kan jy kyk na die Toyota Prado 3,0D vir R419 800. Ja, hy is miskien luukser en effens groter, maar hou in gedagte dat hy nou al begin pensioen trek. Boonop kan sy enjin (96kW en 343Nm) nie met die veel goedkoper Fortuner s’n saampraat nie. Rand vir rand is die Fortuner tans ’n heelwat beter kopie as die Prado. Maar ek weet natuurlik nie wat die manne by die Toyota-handelaar vir jou sal vertel nie...
JEEP. Jy kan ook Jeep se nuwe intreevlak-model, die Grand Cherokee 3,0 CRD Laredo, oorweeg. Sy enjin (160 kW en 510Nm) is weliswaar ’n bielie en boonop is sy gevorderde vierwielaandrywingstelsel een van die bestes op die mark, maar regverdig sy pakket die prys van R419900 die bietjie wat hy meer as die Fortuner bied? Miskien meer bedoel vir manne wat hou van countrymusiek en militere intervensies.
IS DIT DUS DIE MOEITE WERD OM TE WAG?
Ek gaan nou soos Naas Botha op Boots & All klink en sê: “Ja én nee”.
Dis ’n werklik goeie voertuig op die pad en in die veld (hoewel ek redelik gou ’n bosbreker voor sal aanbring as ek gereeld in die veld ry). Sy meganika en binneruim is ook dieselfde as dié van die legendariese Hilux, met twee uitsonderings: Die Fortuner het leerbekleedsel en die Hilux se bladvere agterlangs (vir groter vragdravermoë) is in die Fortuner verruil vir veelvoudige skakelvering. Wat ’n baie geriefliker rit en veiliger hantering beteken.
As jy nie langer kan wag nie, behoort jy net soveel plesier uit ’n Terracan te kry. Of, as jy meer geld het, kan jy mik vir die Pajero. Die enigste nadeel van laasgenoemde twee keuses is natuurlik dat jy nie om die kampvuur aan die Toyota-Land Rover-kinderpartytjie sal kan deelneem nie. Jy weet, die een wat só klink: “Is!” “Is nie!” “Is! Is!” “Is nie! Is nie!” Wat nie noodwendig ’n slegte ding is nie.

’n Tweede mening | Ai, daai brandstoftenkie
Twee gelukkige lesers (hulle het al hul Fortuners gekry) vertel wat hulle daarvan dink.
Louis Claassen van Centurion sê hulle het altyd reggekom met dubbelkajuit-bakkies (drie Isuzu’s en ’n Toyota), maar sy vrou het hom oortuig hulle het nie altyd nut vir die bakgedeelte van ’n bakkie nie en dat sitplek in ’n “stasiewa”-voertuig meer prakties is. Só is sy Fortuner 3,0 D-4D-4x2 toe gekoop.
Hy hou van:
• Die gladde en kragtige dieselenjin;
• Die redelike dieselverbruik;
• Hy ry gemaklik stil en cruise lekker;
• Die lekker baie beenruimte vir die kroos en genoeg pakplek;
• Jy sit lekker hoog;
• Die herverkoopwaarde;
• Dis goeie waarde vir geld;
• Dis betroubaar – dis ’n Toyota…
Maar…
• Die brandstoftenk is te klein;
• Die sitplekkleur is te lig;
• ’n Outomatiese diesel-4x2 en -4x4 sal wonderlik wees;
• Dit kort spoedbeheer vir die langpad;
• Hy verkies Toyota se flexi seat-stelsel i.p.v. die opslaansitplekke.
Deon Lombard van Secunda het voorheen ’n Nissan Hardbody 3,0-diesel-dubbelkajuit gery, maar sê hy het dit nie werklik as bakkie benut nie. En omdat hy ’n kara-vaan sleep, was hy ook op soek na ’n bietjie meer krag. Hy het ook na die Nissan Navara en die Nissan Pathfinder gekyk, maar op die Fortuner 3,0 D-4D-4x4 besluit omdat dit bekostigbaar is met genoeg krag.
Hy hou van:
• Die hope ruimte;
• Die krag;
• Die goeie dieselverbruik;
• Hoe die Fortuner lyk.
Maar…
• Die brandstoftenk is te klein;
• Die sitplekkleur is te lig;
• Dit kort parkeerbystand (parking assistance) en ’n bosbreker (hy het parkeer-bystand laat aanbring).
Oorspronklik gepubliseer in WegRy #1 | Junie-Julie 2007
Gebruiker stories
Gewilde artikels




Kommentare
Die nuwer modelle het darem nou 'n 80 liter brandstoftenk.
Pos nuwe kommentaar