1984 Toyota Land Cruiser FJ60

Wat is op die afstandmeter?
Die voertuig het al 432 000 km afgelê. Omdat die vorige eienaars Namibiërs was, was baie daarvan waarskynlik in die veld. My bydrae is minstens 20 000 km.

Eienaars?
Vyf

Hoekom ’n Toyota?
Sy is ruim, sterk en betroubaar, en sjoe, dit bly ’n mooi voertuig.

Hoeveel het dit jou gekos?
R60 000 in 2004

Het dit ’n bynaam?
Sy het my seun se bynaam geërf, Boofas. Dít het hy gekry deur in die huis rond te hardloop met ’n volslae minagting vir enige voorwerp.

Waar was jy al daarmee?
Ons was al in Botswana, Zimbabwe, Namibië en ook in Mosambiek.

Ongelukke of teenspoed?
Hoewel niks my nog gestrand gelaat het nie, het ek al baie klein herstelwerk laat doen.

Modifikasies?
Ek het ’n Chev V8 6,2 liter-dieselenjin en twee Delco 100 Ah-diepsiklusbatterye laat insit, tuisgemaakte buffers gemonteer en die vering gelig.

Beste herinnering?
Om haar van ver af te sien nadat ons van ’n staptog in die Okavango-delta teruggekeer het. Ek hou van alles waarvoor sy staan. Sy
kry my en my gesin veilig by afgeleë bestemmings en kry ons weer veilig tuis.

Sal jy deur Afrika ry daarmee?
Laat ons gaan!

Indien dit ’n bekende was?
Geen bekende kan my gee wat sy my bied nie, of wakker dieselfde gevoelens aan soos sy nie.

As ons jou R10 000 sou gee …
Sal ek langafstandbrandstoftenks en ’n nuwe dakrak laat aansit.


Oorspronklik gepubliseer in WegRy #12 | April - Mei 2009

 

 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association