1984 Isuzu KB 4x4 1800

Johan Brits se 1984 Isuzu KB 4x4 1800
Wat is die lesing op die afstandmeter? 335 690 km
Eienaars? Vier
Bynaam? Blou Bul
Hoeveel het dit gekos? R20 000
Hoekom ’n Isuzu?
Toe ek die eerste keer besluit het op ’n 4x4, het dié voertuig my geweldig getrek. Ek het gehou van sy vorm en veldryvermoë. Dis betroubaar, die onderhoudskoste is laag en die bakkie hanteer maklik.
Waar was jy al daarmee?
Ek het al by verskeie plekke gekamp, maar ek kan Algeria in die Sederberge en Leeuwenboschfontein uitsonder. Die Isuzu het ook al ’n hele paar keer lang afstande gery, en ek het nog geen probleme ondervind nie.
Waarvan hou jy?
As ek die voertuig aanskakel, kry ek ’n gevoel van veiligheid en avontuurlustigheid. Dan is ’n mens lus om die bakkie te pak vir kamp en grondpad ry. Sy brandstofverbruik is 10 km/liter.
En waarvan nie?
Om terug te ry ná ’n genotvolle naweek. Verder net mooi niks nie.
Wanneer ry die Isuzu op sy beste?
Dis wonderlik as hy ’n vrag ophet, en ook as hy op grondpaaie en tweespoorbospaaie ry. En hy’s baie gemaklik op nat paaie.
As jy iets sou verander, wat sou dit wees?
Ek sal die voertuig effens wil lig met sterker skokbrekers en breër bande laat opsit. Ook ’n free flow-uitlaatstelsel. Miskien ook ’n langafstandpetroltenk. Ek het reeds ’n kappie opgesit wat ek self ontwerp en gebou het, en spotlights vir beter sig saans.
Jou droombestemming?
Namibië en die Richtersveld!
Herstelwerk tot nou toe?
Die ewenaar is herstel, en die koppelaar en water- en petrolpompe is vervang.
Pak jy enigiets spesiaal vir ’n lang tog?
’n Algemene gereedskapskis en ’n ekstra noodwiel. Sover was dit genoeg gewees, en ek het nog geen probleme of uitgawes op ’n reis gehad nie.
Sal jy deur Afrika ry daarmee? Ja, beslis.
As dit ’n persoon of bekende was?
Die skilpad in die verhaal van Hasie en die Skilpad wat resies hardloop – hy is stadig, maar kom by sy bestemming uit sonder stres.
Met R10 000 … Sal ek die voertuig lig en ’n langafstandpetroltenk insit.
Ek sal ook ’n hoogligdomkrag koop, en met die res van die geld die Isuzu ordentlik laat diens.
Oorspronklik gepubliseer in WR#21 | Oktober 2010
Gebruiker stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar