1984 Land Cruiser FJ60

Wat is die lesing op die afstandmeter?
433 000 km. Ek het die voertuig op 208 000 km gekoop by ’n man en vrou wat al tot in Zambië en Malawi getoer het. Van die 225 000 km in my besit, was sowat 85% in die veld of op die teer op pad na die veld.
Hoeveel het jy daarvoor betaal?
R95 000 in 1996
Hoeveel eienaars?
Ek is die tweede eienaar.
Hoekom ’n Toyota?
Beslis oor sy betroubaarheid. Dis net makliker om te herstel as jy iets gedurende ’n Afrika-safari breek.
Het dit ’n bynaam?
Brutus. Dis selfverduidelikend.
Jou beste herinnering?
Elke keer dat ek in die veld sit en koffie maak in my swart keteltjie.
Waar was jy al daarmee?
Dikwels na Namibië, en een daarvan was reg rondom die land na Rundu, deur Kaokoland en terug kuslangs; verskeie kere na Sossusvlei; drie keer na Botswana; twee keer na Mosambiek; drie keer na die Richtersveld; ’n ernstige
boendoevakansie in Transkei tydens ’n reënerige Januarie; die Sentraal-Kalahari; die Kgalagadi via Mabuasehube; twee keer Baviaanskloof toe; in die Gamkaskloof en byna elke bergpas en veldroete in die Wes-Kaap.
Jou droombestemming?
Deur Afrika. My seun (nou 12) sê hy gaan my op ’n reis deur Afrika na Europa neem as hy klaar is met skool. Dieselfde seun was agt maande oud toe ons op ons eerste safari vertrek het: drie weke deur Botswana en Zimbabwe.
Sal jy deur Afrika toer met jou kar?
Beslis! Die 60- of 80-reeks Land Cruiser sal jou nie in die steek laat nie, en as dit wel onderdele en herstelwerk nodig het, sal dit nie ’n probleem wees nie. Op die oomblik is tyd die enigste ding wat my terughou.
Wat pak jy in vir ’n lang toer?
Genoeg water, alles wat jy nodig het om selfversorgend te wees, en Tracks4Africa-kaarte as jy die teer gaan verlaat.
Ongelukke of onklaar?
In die Sentraal-Kalahari het daar vuiligheid in die brandstof ge-kom, die petroltenk het gelek en ’n olieseël het by Tshabong in Botswana probleme gegee. ’n Werktuigkundige het dit daar binne ’n uur herstel.
Herstelwerk?
Die olieseëls is op 320 000 km vervang.
Modifikasies?
Ek het Detroit- outomatiese sluitewenaars voor en agter laat insit, asook ’n watertenk van vlekvrye staal wat 35 liter kan hou, ’n petroltenk (210 liter), ’n wenas wat 4,5 ton kan hanteer, ’n dubbelbatterystelsel, bosbreker, son-skerm aan die linkerkant van die voertuig en ’n laaistelselpakplek.
Waar is dit op sy gemak?
Op rowwe bergterrein.
Moeilikste situasie waarin jy al was?
Dit was ’n modderige pad en ek het met al vier wiele in die lug gehang ...
Waarvan hou jy?
Die geluid van die 4,5 liter-6 silinder-enjin.
En waarvan nie?
Die Cruiser kort ’n paar vinniger bene. Sy standaardenjin raak ’n bietjie uitasem teen ’n lang opdraand, en ek moet terugskakel na derde en soms tweede teen ’n steil bergpas uit.
As jy iets sou verander, wat sou dit wees?
’n V8-diesel-ombouing
As dit ’n persoon of bekende was, wie sou dit wees?
Jock van die Bosveld
As ons jou R10 000 sou gee om daaraan te bestee ...
Sal ek dit spaar om die V8-diesel-ombouing te laat doen.
Oorspronklik gepubliseer in WegRy #8 | Aug-Sept 2008
Gebruiker stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar