Die Yank-monster word wakker | My Ryding

My Ryding | Chevrolet C30

Die 1985 Chevrolet C30 V8 Diesel het Reggie Mlambo van Botswana se hart gesteel. Dit het hom wel twee jaar gevat om hom op die pad te kry nadat hy hom gekoop het, maar nou wil hy die wêreld plattoer.

By ’n weermagveiling in Botswana het Reggie, ’n ouditeur van Gaborone, een van 50 van dié Chev’s opgeraap vir ’n appel en ’n ei. Dit was in 2007 en hy moes tot 2009 wag om sy groot veldry-drome te laat waar word met sy American Brute, soos hy hom noem. Die ryding was redelik verwaarloos – hy was immers reeds 22 jaar toe hy dit gekoop het. 

Reggie is ’n selferkende 4x4-fanatikus en het al as kind met die familie se Nissan Safari die wêreld platgery vandat hy by die pedale kon uitkom en oor die stuurwiel kon sien.  

Hoe het jy hom aan die loop gekry?

Die meeste onderdele wat ek nodig gehad het om die Chev weer in ’n werkende toestand te kry, kon ek kry van die ander ouens wat ook die Chevs op die veiling gekoop het. 

Ek het ’n vliegtuig-dryfas gekry en laat balanseer en dit ingesit. Ek het die aansitter laat opknap en moes ook spesiaal gloeiproppe van Amerika af bestel. 

Ek het al die olies vervang en ’n nuwe battery ingesit en met die eerste probeerslag het die enjin geloop soos ’n droom. 

Daarna het ek ’n paneelklopper ingespan om al die duike uit te timmer. Die kamoefleer-verf is van die bakwerk afgeskuur en ek het hom weer wit laat verf. Die instrumentepaneel is ook oorgedoen, want die son het dit flenters gebrand. 

Ek het die vellings in ’n koerant opgespoor en van Johannesburg af bestel en om by sy styl te pas het ek BF Goodrich-veelterreinbande opgesit. Toe lyk hy sommer werklik Amerikaans! 

My Ryding | Chevrolet C30

Hoe was die eerste uitstappie?

Sy eerste lang uitstappie was van my tuisdorp, Gaborone, af met die Kasane-pad tot in die omgewing van Nata in die ooste van Botswana. Die driespoed outomatiese ratkas werk seepglad en ek ry gemaklik teen 90km/h – en dan gebruik hy nie so baie diesel nie. 

Jy ry met hierdie voertuig as jy die natuur wil waardeer; nie as jy haastig is nie. 

Die pad was baie sanderig, maar die Chev het met gemak daardeur gery. Met die terugkomslag was die bakkie ligter gelaai en ek het hier en daar ’n bietjie moeilikheid met die sanderige pad gehad, maar dit was nie iets om oor huis toe te skryf nie. 

En waarheen gaan jy volgende?

Vandat ek die Chev in September 2009 aan die loop gekry het, het ek al meer as 25 000 km daarmee afgelê. Ek beplan om oral te toer – van Chobe, die Savuti en Maun tot die Okavangodelta. Ná sy restourasie staan my American Brute vir niks terug nie!


 

Kommentare

wow, goeie restoreer werk, onder moeilikke omstandighede!

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association