1995 Land Rover Defender C130

Langafstandklub

Martin Hitge se 1995 Land Rover Defender C130

Op die afstandmeter? Meer as 320 000 km

Hoeveel eienaars? Ek en my pa.

Hoeveel het dit gekos? Ek het dit vyf jaar gelede van my pa opgeëis. Onder my pa se sorg was dit meestal ’n plaasvoertuig; hy het nie genoeg geduld gehad vir sy gebrek aan spoed nie. Op ’n plat teerpad haal die Land Rover hoogstens 100 km/h! 

Hoekom ’n Land Rover? Dit lyk oral goed – in die stad, op die plaas of in die boendoes.

Waar was jy al daarmee? Die Wildekus, Lesotho, Botswana en Mosambiek.

Jou droombestemming? Angola

Herstelwerk? Net die enjin is vervang (’n Nissan straight-6 2,8 liter-diesel); die ratkas en ewenaars is nog dieselfde. Die oorspronklike enjin het heelwat meer as 100 000 km geloop.

Modifikasies? Kronkelvere reg rondom, kolligte, monterings vir jerrykane op die tralies en twee monterings vir noodwiele. Ek is heel tevrede met almal, ook die enjin wat vervang is deur ’n meer betroubare dieselenjin. Selfs al kort dit ’n bietjie krag.

Waarvan hou jy? Dis ’n uitstekende voertuig, as jy genoeg geduld het.

En waarvan nie? Dis baie stadig op die langpad, baie. En dis swaar op brandstof.

As jy iets kan verander? Sal ek ’n dieselenjin met meer krag insit. 

Beste herinnering? In 2007 het ek dit van Addo in die Oos-Kaap gery, al langs die Wildekus, deur Lesotho en Botswana oor die Makgadikgadipanne, langs die Limpoporivier langs die grens van Zimbabwe, deur die Krugerwildtuin tot in Mosambiek, waar ons ’n week langs die kus getoer het. 

Wat pak jy vir ’n lang tog? Biltong (baie), ’n koelboks vol verversings ná ’n lang dag op pad of in die bos. Goeie geselskap is ’n moet omdat die Land Rover nie ’n radio het nie. En dan gewone goed soos ’n kinetiese tou, graaf, bandherstelstel, hoogligdomkrag en hengelstokke.

Indien dit ’n bekende was? Sylvester Stallone, omdat hy altyd dwarsdeur die moeilikheid veg.

Langafstandklub

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association