1984 Nissan Patrol 2.8

Louis Liebenberg het nie gedink hy gaan ooit in Botswana uitkom nie, veral omdat hy nie eens ’n veldwa gehad het nie. Maar een aand by ’n braai maak hy ’n deal. En toe is daar geen keer nie.
Dit was eers ’n droom, toe word dit een aand om die braaivleisvuur
in Centurion ’n uitdaging, en ’n jaar later was dit ’n werklikheid.
Louis Liebenberg van Boksburg en sy swaer Ebie Ebersohn het daardie aand aan die gesels geraak oor ’n droom van ’n oorlandreis na Botswana. En ná ’n paar biere was die sperdatum vasgemaak: in April 2009 moes almal gepak en gereed wees.
Nie een van die twee het in daardie stadium ’n veldvoertuig gehad het nie, en hulle het omtrent net ’n jaar gehad om alles gereed te kry. Daai aand kon Louis nie slaap nie, en het hy heeltyd gelê en kopkrap oor watter 4x4 hy sou koop.
Hoe het jy op die Patrol besluit?
Ek wou nie ’n klomp geld op ’n 4x4 uitgee nie, en die enigste betroubare voertuig waaraan ek kon dink, was ’n Nissan Patrol 2.8.
In die tagtigs was ek ’n groot Nissan-aanhanger, veral die tyd toe Hennie van der Linde en Hannes Grobler alle motorsportbyeenkomste met die Skyline en Safari oorheers het.
Ek het dadelik begin geld spaar en ná ’n groot soektog – van die noorde tot die suide – het ek uiteindelik die regte Patrol gekry. Ek en my seun, Tiaan, het in Junie 2008 Kaap toe gevlieg om die 1984-model te koop en ons het sommer dadelik in die pad geval met dié wit Patrol.
Só het Ou Ratel se nuwe lewe begin. Van sy geskiedenis kon ek nie veel agterkom nie, maar volgens die vorige eienaar is ek die derde eienaar.
Wat is die Patrol se beste eienskap?
Beslis sy betroubaarheid, en daardie 2,8-liter-enjin ken geen einde nie. Die Patrol het reeds 277 000 km afgelê, waarvan 12 000 hárde kilometers onder my “toesig” was – sonder enige meganiese probleme.
Waarvan hou jy nie?
Al wat pla, is sy swaar petrolverbruik.
Hoeveel het jy vir hom betaal?
Ek het R40 000 vir hom, ’n motorboot en sleepwa betaal. Ek het die boot en sleepwa daarna vir R15 000 verkoop, en dié geld gebruik om hom aan te pas vir ons overland-trippie.
Eerste op my lys was ’n stel nuwe 32-duim BF Goodridge MT-bande. Met van die geld het ek staal gekoop, want daar moes ’n agterbuffer gebou word om die groot noodwiel op te monteer. Ek het ook ’n dakrak met vier kopligte en nuwe voorbuffer vir Ou Ratel gebou.
Met die laaste paar rand het ek ’n snorkel uit 75 mm-geutpyp gebou en dit werk soos ’n bom.
Waar was julle al daarmee?
Ons was al bo in Zimbabwe tot by die Victoriawaterval en toe weer terug deur Botswana tot by die Okavangodelta in die tyd toe alles onder water was. Gedurende die Botswana-toer het ons nie besef wat vir ons wag tussen die Mababe-hek en die Khwairivier-brug nie.
Dit was die een wateroorgang na die ander, en die een was dieper as die ander. Sleepwaens agter albei voertuie het dit ook nie makliker gemaak nie. Die beperkte grondvryhoogte van my swaer se Fortuner was ’n probleem en dit het veroorsaak dat hy gereeld vasgesit het. Maar Ou Ratel was altyd by om te help … tot dit sý beurt was om ’n modderbad te vat.
Ons moes toe maar grawe en ’n domkrag gebruik om stompe onder die wiele in te pak, en ná ’n groot gesukkel was ons weer op droë grond, reg vir die volgende oorgang.
Teen laatskemer het ons by die Khwairivier-kampterrein aangekom, en daar het my vrou gesê dat sy nog nooit in haar lewe so baie gebid het soos daardie dag nie. Die res van die toer het sonder probleme verloop, want albei voertuie was mans genoeg.
In Mei vanjaar was ek en ’n paar kollegas Mosambiek toe om vis te vang, en weer eens kon die ouens nie glo waartoe die Patrol in staat was nie. Party dae moes Ou Ratel tot agt mense op ’n slag oor die duine tot by die viswaters kry.
Dan het ek ook al heelwat 4x4-roetes in en om Gauteng gery, want dit is altyd lekker om Ou Ratel tot die uiterste te beproef. In September gaan ons terug na Botswana, na die plekke waarby ons nie op ons vorige toer kon uitkom nie.
Voorbereidings voor ’n lang reis?
Ek het al heelwat veranderings aangebring om hom gerieflik te maak vir lang toere – eintlik te veel om op te noem. Ek wil nie weer ’n sleepwa saamsleep met ons volgende Botswana-trippie nie en daarom het ek ’n volledige pakstelsel gebou, met plek vir goed soos die yskas, tafels en stoof.
Ek het ook die agterste kantvensters met gull-wing-deure vervang, waarin daar aan die een kant plek is vir die breekgoed en potte, en aan die ander kant vir noodhulp- en noodtoerusting.
Verder maak ek seker my jerrykanne is op die dakrak, want Ou Ratel is maar swaar om te stoot. En natuurlik word die GPS ingepak, omdat ek agter in die ry gestaan het toe koershou uitgedeel is.
Voor ons vertrek, maak ek ook seker alle kampplekke is vooruit bespreek om teleurstelling te vermy.
Wie ry altyd saam?
As die wiele draai, is my vrou, Sonja, en kinders, Rolandi en Tiaan, in – of dit nou ’n lang reis of sommer net ’n 4x4-dagroete is. Hierdie liefde vir Ou Ratel het begin nadat hulle gesien het wat hy kon doen gedurende die vorige Botswana-toer.
Wat is ’n gemaklike toersnelheid?
Hy ry lekker tussen 100 km/h en 110 km/h. Hy kan heelwat vinniger ry, maar dan raak hy sommer baie swaar op my beursie.


Gebruiker stories
Gewilde artikels




Kommentare
Ai man, so 'n liefde vir die natuur word altyd deur die Skepper beloon!! Ek koop sommer vir jou iets wat ek kan bekostig. Geniet dit elke oomblik; lewe terwyl ons nog lewe; en sê altyd dankie aan Hom wie dit in ons geplant het!
Louis,
Kan jy vir my se waar het jy die gull-wing vensters laat insit het.Ek wil my Cruiser S/W se agterste ruite ook met gull-wing vensters vervang. Stuur die inligting na sakkie.nel@transnet.net asb
Pos nuwe kommentaar