1975 Land Cruiser FJ43 | ’n Cruiser genaamd BRUISER

Toe ek Bruiser in 1998 gekoop het (met ’n Chev-350-V8-5,7 liter-enjin klaar in), was dit in ’n pragtige toestand, maar dit was ’n skoumodel. Van die werk wat die vorige eienaar gedoen het, moes ek oor doen, maar alle eer aan hom, want hy het die grondslag geskep vir ’n fantastiese voertuig.
Ek het ’n magdom modifikasies self gedoen omdat daar bitter min standaardtoerusting is wat op die voertuig pas.
Bruiser raas baie op die oop pad en hanteer nie soos ’n moderne kar nie, maar dis deel van die pret. ’n Gemaklike toersnelheid is 100 km/h, maar die bees kan tot 140 km/h haal, maar dan is dit nie meer lekker nie en die brandstofnaald sak vinnig.
Daai 100 km/h handhaaf Bruiser bult op en bult af – gelaai of leeg, met sleepgoed of sonder sleepgoed.
Toe ons nog op die strand kon ry, was Bruiser in sy element. Daar is iets aan die gewigsverspreiding wat die man ongelooflik op sand laat vaar. Waar die ander in 4x4 moet ry, het Bruiser op die sand lag-lag in 4x2 rondgekerjakker.
HOE HET JY OP HOM BESLUIT?
Dit was nie moeilik nie: Die prys was reg (R35 000) en almal wat die voertuig sien, wil hom besit.
WATTER MODIFIKASIES HET JY AL AANGEBRING?
Baie!
• 33 x 12,5 x 15 Yokohama Super Diggers;
• Die kronkelvere is met 2 duim gerearch;
• Firestone-lugveringstelsel;
• Ekstra 76 liter-brandstoftenk (self gedoen);
• Agterste buffer is geseël en is nou ’n 38 liter-watertenk. Die nodige
punte vir herwinning is ook hier aangebring (selfgedoen). Dit is ook die
monteerpunt vir die noodwiel se swaai-arm;
• Noodwiel-swaaiarm (selfgedoen) met ’n bankskroef daarop;
• 14 liter-lugtenk wat gevoer word deur ’n York-lugverkoelings-kompressor,
aangedryf deur ’n waaierband van die enjin (selfgedoen);
• ’n Warn-8000 lb-wen-as voor;
• ’n Bosbreker (bull bar) met ’n hegtingspunt vir ’n hoogligdomkrag; Vier bykomende kolligte;
• ’n Rolstaaf;
• Twee staalbokse vasgebout aan die binnekant bokant die wielnisse.
Noodonderdele en toerusting word hier gebêre (selfgedoen);
• Glylaai (sliding drawer). Die ouens lag altyd vir my oor al die gereedskap wat ek saamry,
maar hulle weet altyd waar om hulp te kom soek (self gedoen);
• Toyota Corolla-sitplekke met seiloortreksels;
• Rukstopgordels van ’n Toyota Tazz (self gedoen);
• ICOM IC-V8000-VHF-radio;
• 29 Mhz-tweerigtingradio;
• Edelbrock-inlaatspruitstuk (intake manifold), -nokas, -vergasser en -klepdeksels;
• Dubbele batterystelsel (selfgedoen).
WAT IS SY BESTE EIENSKAP?
Die aanpasbaarheid en kanniedood-eienskappe van ’n Land Cruiser. Jy het ook nie ’n ingenieursgraad nodig om aan hom te werk nie.
HOEKOM ’N OUER VOERTUIG EERDER AS ’N NUWE EEN?
Die moderne voertuie met ewenaarslotte kan in sommige gevalle die ou Cruiser uitstof, maar ook maar net.As die ou ballie van die bos ewenaarslotte sou aantrek, sal hy vir niks skrik nie.
WAARVAN HOU JY?
Die dak af, die voorruit platgeslaan, die wind in jou gesig en die klank van daai V8. So nou en dan raak ek simpel en trap ek die petrol tot heel onder net vir die gevoel van die versnelling in my rugmurg. Dis lekker…
WAARVAN HOU JY NIE?
Die geraas as die sagte dak op is en jy ry iewers ver. Hy het baie windweerstand, maar as jy aan die ander kant aangekom het, wil almal met jou saamry.
WATTER PROBLEME GEE DIT TIPIES?
Nie veel nie – in die algemeen is hulle uiters betroubaar en robuus.
Die Birfield-knuckles voor kan disintegreer as jy te hard (en ek bedoel hárd) ry. Omdat ek hom met respek hanteer, het ek nog niks gebreek nie. (Ek verniel nie die ou man nie, maar ry hom ook nie saggies nie.)
Die meeste ou Cruisers het gedooi as gevolg van roes – daar is Landies hulle een voor met hul aluminium-bakwerk.
ONDERHOUDKOSTE?
Ek moes al die V8 oordoen weens my eie nalatigheid, maar in die 40 000 km dat ek hom al gery het, was dit net olie, vonkproppe en punte.
WAAR WAS JY AL MET DIE VOERTUIG?
Die verste trippie was van Durban na die Gonarezhou Nasionale Park in Zimbabwe via Pafuri. Transkei het ons al plat gery, asook Lesotho, Noord-Zoeloeland en talle ander plekke in KwaZulu-Natal.
WAT IS ’N GEMAKLIKE TOERSNELHEID?
100 km/h
BRANDSTOFVERBRUIK?
4-5 km/liter
WAAR KAN ’N MENS ORAL DAARMEE KOM?
Tot daar waar hy gaan vassit, maar dan is dit pret om hom uit te kry. Die korter as-afstand, die breër bande en die ordentlike grondvryhoogte maak dat Bruiser maklik in die bos hanteer.
Sy hoogte en 360°-sig met die dak en voorruit af, maak dat dit maklik om te sien waar jy ry en jy kan die wiele mooi plaas.
ENIGE SPESIALE VOORSORGMAATREËLS VOOR ’N LANG TOG?
Versien dit goed vooraf, en omdat die man al oud is en ’n V8 het, moet jy maar sorg vir algemene dinge wat kan verkeerd loop.
Die V8 is ’n kanniedood. Weens sy ouderdom is onderdele nie altyd vrylik beskikbaar nie, maar alles is nog verkrygbaar. Ek dra maar altyd ’n noodwater-pomp, gasket-stel, alternator, koeëllaers, ens. saam vir die wis en die onwis.
HOEVEEL GAAN EEN MY KOS?
Baie geld, want Bruiser is sover ek weet die enigste FJ43 in die land. Ek weet nie van nog nie, maar sal graag hoor van ander mense wat ’n FJ43 besit.
Daar is so ’n paar FJ40’s, maar hulle is ook skaars. Jy kan verwag om R50 000 tot R80 000 daarvoor te betaal.
WAARVOOR MOET EK KYK AS EK EEN KOOP?
Jou vrou. As sy nie jou belangstelling deel nie, gaan sy dalk jaloers word, want jy gaan verlief raak op só ’n Cruiser.
VIR WIE SOU JY DIT AANBEVEEL?
Mense wat daarvan hou om self aan hul voertuig te werk en wat bereid is om tyd daaraan te bestee. Daar is seker nie ’n ding wat ek nie al losgehad het nie, hetsy vir modifikasie, versiening of hernuwing. Maar dis lekker. Jy moet handig wees, ge-reedskap kan gebruik en prakties wees. Dis nie wiele vir ’n beginner nie en jy moet ’n voorliefde hê vir peuter en karring.

Gebruiker stories
Gewilde artikels




Kommentare
Pos nuwe kommentaar