1973 Chevrolet C20 4x4

Dit dateer miskien uit die dae toe bell-bottoms hoogmode was, maar Pierre Strauss van Sasolburg is nie van plan om binnekort sy hupse Chev C20 in te ruil vir iets jonger nie.

Watter soort voertuig is dit?
1973 of ’74 Chevrolet C20 4x4

Wat is die lesing op die afstandmeter?
Die afstandmeter gaan net tot by 99 999. Maar omdat dit ’n staatsvoertuig was, het dit seker ’n paar keer oorgeslaan.  

Hoe het jy aan die Chev gekom?
Ek en my vrou het reeds in 1963 begin kamp – met ’n ou weermagtent wat ons gehuur het. Al was dit primitief, het ons daarvan gehou, en ons kamp vandag nog. Ons het destyds in Namibië gebly en daar het ons ons eerste karavaan gekoop. Hoewel dit baie beter as die ou tent was, het ek nie baie van die sleep gehou nie, en die paaie was almal net grond.

In 1973 wou ek ’n ander sleepvoertuig koop en het toe besluit op ’n Land Cruiser (hulle was toe net ’n paar maande op die mark). Ons het daarna met die karavaan met vakansie gegaan en dit soms by ’n polisiekantoor gelos en net met die Cruiser verder gery. Op dié manier het ons die hele Namibië deurkruis en soms sommer net langs die pad geslaap.

Toe die kinders hoërskool toe moes gaan, het ons teruggekom Republiek toe en ek het die Cruiser en karavaan daar verkoop.

Ná ’n tyd hier het ek weer ’n karavaan gekoop, maar al was die paaie geteer, het ek nog steeds nie baie lus gehad vir die sleep nie. In 1990 het ek besluit om te soek vir ’n 4x4, maar hulle was duur en die bakke was klein.

Ek het toe besluit om ’n ou Ford F250 of ’n Chev C20 te soek (die binnemaat van die Chev se laaibak is 1,6 m breed en 2,6 m lank).

Op ’n dag sien ek ’n advertensie in die Landbouweekblad vir ’n Chev in Magaliesburg. Ek het gaan kyk na die bakkie: Dit het in ’n mielieland gestaan en was geroes, maar dit was volledig en het nie juis duike en stampe gehad nie.

Die eienaar het dit in 1986 op ’n veiling van ou staatsvoertuie gekoop.
Die prys was R 7 000 – wat ek dink ’n bietjie hoog was – maar hierdie voertuie was skaars en party het nie al hulle stukke gehad nie. Boonop het die bakkie twee 90 liter-petroltenks ingehad wat oorskakel van een na die ander deur middel van ’n solenoïed – dié werk nog steeds.

So was dit dan dat die Chev op 14 Oktober 1990 hier by my huis aangekom het. Ek het hom gesleep, al die pad van Magaliesburg af – dit was nie ’n grap nie.

En toe begin die werk seker eers?
Dit het twee jaar en twee maande geneem om hom te herbou, en op 14 Desember 1992 het hy sy padwaardigheidstoets met die eerste probeerslag geslaag.

Ek het hom uitmekaargehaal tot net die onderstel oor was, en daarna alles begin skoonmaak, regmaak en aanmekaarsit. Die agterste outomatiese sluitewenaar was stukkend, wat ek vervang het met ’n gewone ewenaar. Die voorste vryloopnawe moes ek ook met nuwes vervang.

Die enjin – wat ek heeltemal oorgedoen het – is ’n 4.8 liter straight six-enjin en is die oorspronklike een waarmee die Chev uitgekom het. Die stukkies ringe het soos konfetti uitgeval toe ek die suiers uitgehaal het. Vir die oliedruk het ek sowel ’n meganiese as ’n elektriese drukmeter ingesit.

Ná so 20 000 km het ek ’n Weber 38-vergasser en ’n Donaldson-lugfilter opgesit. Die oorspronklike vergasser was te veel geslyt en kon nie reggemaak word nie. Die ratkas en oordragkas het net nuwe laers en seëls nodig gehad. 

Agterop het ek ’n glasveselkappie gesit met ’n dakrak met bene wat binne vasgebout is op die staalbak. Binne-in die kap was ’n dubbelbed (wat baie lekker geslaap het), en pakplek daaronder, asook ’n 120 liter-watertenk.

By die deur was ’n vrieskassie wat nie baie goed gewerk het nie (die bier was darem altyd koud).

Hoeveel het dit alles gekos?
R51 000, ingesluit die koopprys, herstelkoste en alle toerusting. Dit was dieselfde prys as ’n Japanse bakkie wat destyds net so op die vloer gestaan het.

En die toerhuis agterop?
Die op- en afpak het my vrou later te veel gepla en sy het begin soek vir iets beters. Sy het ’n advertensie van Peet Botha se Bakkie Toertuig gesien en ons het daarna gaan kyk. Dit het haar aangestaan en in 2004 het Peet een vir die Chev gebou. 

Nou is alles in kaste binne en maklik bereikbaar en daar is baie pakplek onder die slaapbanke. Al wat ons nou uithaal wanneer ons iewers heen reis, is twee tafels, twee stoele en ’n wasgoeddroogstaander, en dan is alles reg.

Daar is ’n tweeplaatgasstofie binne en dié is nog elke keer gebruik weens slegte weer.

Daar is twee 75 watt-sonpanele op die dak vir ’n 85 liter-vrieskas wat van ’n 105 A-battery af werk.

Die battery kan ook vanaf die voertuig se alternator gelaai word. Dan het ek ’n 1000 watt-omsetter ingebou vir as ek 220 V nodig sou kry.

Hoeveel eienaars?
Net twee, die staat en die persoon van wie ek dit gekoop het.

Het dit ’n bynaam?
Die Tjev.

Waar was jy al daarmee?
Die Makgadigkadi-panne, Moremi, Chobe, Mabuhasehube (alles in Botswana); twee keer na Mana Pools, rondom die Kariba-meer, die Victoria-waterval, en Matasudona-park op die oewer van die Kariba-meer (alles in Zimbabwe); en die Krugerpark en vier keer in die Kgalagadi.

Jou droombestemming?
Suid-Luangwa-park in Zambië

Ongelukke of onklaar?
Geen, en ek hoop regtig dat dit so sal aanhou!

Herstelwerk tot nou toe?
Net gereelde dienste en ’n uitlaatpyp van vleklose staal.

Enige modifikasies?
Ek het plek gemaak vir ’n tweede battery vir die enjin en ’n Donaldson-lugfilter.
Anders is dit steeds soos wat dit oorspronklik uit die fabriek gekom het.

Waarvan hou jy?
Die spasie in die kajuit en jy kan in die enjinruim klim en aan die enjin werk.

En waarvan nie?
Sy lus vir petrol. Die brandstofverbruik is seker nie baie goed nie.
Die beste wat ek gekry het, was 5,5 km/liter. Maar vir ’n ou en groot gemaklike voertuig is dit seker nie te sleg nie.

As jy iets kon verander?
Sal ek ’n kragstuur insit.

Jou beste herinnering aan die voertuig?
Op pad na Mabuhasehube het ons ’n Franse gesin gehelp wat vasgesit het in baie dik sand voor ’n duin. Ons kon hulle voertuig net in vier-laag of neutraal kry, en dan het ook net die linkeragterwiel gedraai terwyl die ander wiele almal stilgestaan het.

Ek het hulle teruggeneem na Nossob en by een van die duine het ek net voor die kruin van die duin feitlik gaan stilstaan, maar het toe baie stadig opgekruip en oor die duin gekom.

Waarop die Fransman toe vir my in gebroke Engels sê: “What type of rally driver are you?” Ek het maar net geglimlag.

Sal jy deur Afrika daarmee reis?
Ja, want dit het geen elektroniese komponente nie.

Pak jy enigiets spesiaal vir ’n lang tog?
Gereedskap wat ek moes maak om die wiellaers uit te haal of verstel, ’n alternator, waterpomp en waaierbande.

Indien dit ’n persoon of bekende was, wie sou dit wees?
My vrou, wat geduldig was die twee jaar wat dit gevat het om “die Tjev” te herbou.

As ons jou R10 000 sou gee om daaraan te bestee …

Ek sal kyk of ek ’n kragstuur kan laat aansit. 

Kommentare

Pos nuwe kommentaar

Die inhoud van die veld word privaat gehou en sal nie aan die publiek verskyn nie.
Alle regte voorbehou. © WegRy 2009. Gepubliseer in Suid-Afrika deur Media24 
Digital Media and Marketing Association