1972 Steyr-Puch Pinzgauer 710M

Jy sal sukkel om ’n skewe woord oor sy onverganklike Steyr-Puch Pinzgauer uit Willem se mond te hoor. (Dis nou buiten ’n klagte of twee oor sy dorstige enjin.)
Hy het die eerstegenerasie-Pinz gekoop omdat dit die voorganger van heelparty legendariese voertuie was. Willem sê vroeëre weergawes van die Mercedes-Benz Geländewagen het nie om dowe neute as die Mercedes-Benz Puch bekend gestaan nie ...
Willem sê jy kan regtig op enige plek ry omdat dit so laag gerat is (“as jy ’n ton op sy bak laai om hom vastrap te gee, sal ’n mens met hom kan ploeg”). In dieselfde asem ry dit maklik 80-90 km/h, wat heeltemal vinnig genoeg is as jy op vakansie is. Die voertuig weeg 2 ton, maar is gerat om tot 5 ton te trek. “Merkwaardig!”
As mense die eerste keer die voertuig sien, is die reaksie altyd dieselfde:
Eerste vraag: “Watse trokkie is dit die?”
Tweede vraag: “ ’n Watse ding?”
Derde vraag: “Het jý hom gebou?”
Vierde vraag: “Watse enjin het hy?”
Vyfde vraag: “Kan hy dryf?”
Mense verwag altyd ’n vreeslike lawaai as dit aangeskakel word, en lyk dan effens teleurgesteld as hulle mooi moet luister om die enjin te hoor luier.
Die Pinz klink amper soos ’n Beetle wat idle, maar sonder die kenmerkende fluitgeluid.
Wat is die geskiedenis van die voertuig?
Dis deur die Oostenrykse firma Steyr-Daimler-Puch in Graz, Oostenryk, vervaardig (die Mercedes-Benz Geländewagen word vandag in dieselfde fabriek gebou).
Die Pinzgauer is die “ouboet” van die bekende Steyr-Puch Haflinger.
Die Switserse weermag was die Pinz se eerste eienaar, en ek weet van minstens twee ander voor my.
Ek het dit by ’n afgetrede skeepsingenieur van Malgas gekoop. Hy het ’n paar Haflingers gerestoureer voor hy die Pinz aangeskaf het.Die voertuig is 100% oorspronklik.
Hoe lyk hy onder die enjinkap?
Dit het ’n 2,5 liter-viersilinder- lugverkoelde Steyr-Puch-petrolenjin en ’n soliede buistipe onderstel en verseëlde aandrywing – dit beteken die sentrale dryfas en ewenaars loop binne in ’n soliede metaalbuis, wat ook as die voertuig se onderstel dien waarop die bak eenvoudig vasgebout word.
Die voertuig is ontwerp om in die veld te ry: 35 cm grondvryhoogte; swaardiens onafhanklike kronkelvering voor en agter; perkstroppe (limiting straps) op al die wiele; poortasse (portal axles); ’n naderings- en vertrekhoek van 45 grade; hidrouliese ewenaarsluiting (middel, agter en voor) wat op enige spoed onder 45 km/h geaktiveer kan word; ’n 9,5 m-draaisirkel en 90 cm-dompeldiepte.
Ek praat onder korreksie, maar ek dink die enjin is in samewerking met Porsche ontwerp.
Op die afstandmeter?
Tans is daar 53 000 km op die klok, maar die meter gaan net tot 99 999 km, en wie weet hoeveel keer dit al oorgeslaan het?
Hoeveel het hy gekos? R130 000
Waar was julle al daarmee? Oral waar die ouens met die Cruisers en die Patrols nie kan gaan nie!
Jul droombestemming? Ons is besig om ’n trip Tanzanië toe te beplan.
Herstelwerk tot nou toe? Absoluut niks nie – net die gewone onderhoud.
Modifikasies?
Weer eens, absoluut niks nie. Al wat ons bygesit het, is jerrykanne.
Die Pinz is in ’n klas van sy eie wat geen modifikasies nodig het om sy veldryvermoë te verbeter nie.
Onklaar?
Nog nooit. Maar bygesê, daar is nie eintlik iets wat kan verkeerd gaan nie. Alles werk meganies met so min as moontlik elektronika.
Waar laat jy dit diens?
Die meganika is uiters eenvoudig omdat dit aanvanklik ontwerp is as ’n militêre voertuig wat maklik in die veld gediens moet kan word. Ek diens dit op die oomblik self omdat dit eintlik ’n speelding is.
Uit die aard van die saak kan ek nie alles self doen nie, en gaan ek soms na die ouens wat aan lugverkoelde enjins (soos Beetles, ouer Porsche 911’s en VW Kombi’s) werk vir hulp. Die enjin gebruik heelparty Porsche- en Volkswagen-komponente wat natuurlik goedkoper is as die oorspronklike Steyr-Puch-onderdele.
Dis egter nie ’n probleem om oorspronklike onderdele in die hande te kry nie.
Ek het byvoorbeeld onlangs die koppelaar met oorspronklike Sachs-onderdele vervang – die Switserse weermag het die Pinzgauer uitgefaseer en het groot hoeveelhede surplus onderdele wat hulle aan die publiek via ’n tussenganger verkoop.
Latere Pinzgauers het met ’n 2,5 liter waterverkoelde VW-dieselenjin uitgekom; Volkswagen behoort dus aan die diesels te kan werk.
Waarvan hou jy?
Sy eenvoud en eiesoortigheid (ek weet van slegs vyf in Suid Afrika).
En waarvan nie?
Sy padgeraas is aansienlik en hy kan nie sluit nie.
Sal jy deur Afrika daarmee ry?
Natuurlik; die probleem is net om tyd te maak vir ’n twee maande lange wegbreek.
As julle iets kon verander?
Niemand raak aan die Pinz nie! Hy het reeds veteraanstatus en ek wil dit graag so hou.
Indien dit ’n bekende was?
Koos de la Rey – betroubaar, altyd gewillig en hy doen sy ding op sy eie besonderse, stil manier.
Met R10 000 …
Sal ek petrol koop. Die twee Zennith-vergassers is lief vir die voggies (5-7 km/liter as ek mooi ry).







Kommentare
Pos nuwe kommentaar