Pin It

1989 Range Rover 3.5 V8 Efi


 

Michael van der Westhuizen is baie soos daai ouens in die advertensie wat van Gauteng af agteruit ry tot in die Kaap. Hy verken graag afgeleë plekke, en sal selfs agteruit ry om iewers te kom. Maar toe sy Citi Golf hom nie oral kon bring nie – ook nie in trurat nie – was dit tyd vir ’n 4×4.

Sy 1989 Range Rover 3.5 V8 Efi is ’n legende in Gordonsbaai, want almal in die dorp ken hom glo. Dis sy tweede ryding, en word hoofsaaklik as naweek- en vakansiekar gebruik.

In April 2009 het die Range Rover sy belangrikste rit afgelê toe Michael en sy vrou, Linda, getrou het. Dit was ook die wittebroodskar.
Hulle is kamp-kamp van Gordonsbaai tot by Mvubu in die boonste deel van Addo-olifant Nasionale Park. “Die pad was rof en die kampplek baie wild. Daar was geen krag nie, en die stort het gewerk met ’n paraffienblikkie wat aan die brand gesteek word en onder ’n koperpyp inskuif.”

Hoe het jy op ’n Range Rover besluit?
Ek het die Citi Golf nou en dan as ’n 4×4-voertuig gebruik, maar die 4×4-gogga het gebyt en ek moes een aanskaf.

Eers het ek ’n Toyota Hilux-4×4 gesoek, want volgens almal is dit dié voertuig. Ek het seker 30 van hulle gaan toets – en dit was óf te duur óf daar was net ’n onderstel oor nadat al die roes verwyder moes word. (Jammer, Toyota-eienaars, maar hulle ry ook soos ’n ossewa en jy het ’n kidney belt nodig op ’n sinkplaatpad.) Maar ek moet toegee, hulle is taai en betroubaar.

Toe sien ek die advertensie vir die Range Rover. Aanvanklik was ek geskok: die agterkant was vol onderdele en dit was ’n lelike maroen met Marie Biscuit-wiele. Maar toe ek die voertuig aanskakel, het ek die V8 gehoor wat brul soos ’n leeu, en besluit net daar dis my 4×4. Toe ek daarin huis toe ry, het ek geweet dit was die regte besluit.

Wat is sy beste eienskap?
Dis een van die beste 4×4’s wat daardie tyd op die mark was, en hou sy kop vandag nog hoog tussen voertuie wat R500 000 en meer kos. Die 4×4-vermoë veral in laestrek met ’n middel-ewenaarslot is fenomenaal. Die voertuig verander in ’n onkeerbare trekker!

Pumbaa (genoem na die vlakvark in die strokiesprent Timon and Pumbaa), het my nog nooit laat vasval nie, en altyd huis toe gebring. Op die meeste trips sleep hy ander uit. Pumbaa is nou deel van die familie en sal seker baie jare so bly.

Hoveel het jy daarvoor betaal?
Ek het die voertuig in 2005 gekoop vir R31 000. Ek is die derde eienaar en dit het 191 500 km op die klok gehad.

Wat het jy verander?
Die ratkas was gelukkig net oorgedoen, maar ek moes byna al die bedrading vervang.

Een deur was erg gestamp, en moes vervang word. Verder het ek die elektriese vensters en sentrale sluitstelsel weer laat werk, nuwe skokbrekers en buste opgesit, die voertuig met 2 duim gelig en die dryfas verleng en gebalanseer.

Later het ek ’n noodwielrak gemaak en agterop ’n selfgemaakte buffer gesit. Ek het ook rotsglystawe (rock sliders) en ’n dakrak gemaak en opgesit. Ek was toe gelukkig om ’n stel allooiwiele in die hande te kry met 275/75/16-bande.

Nog veranderings is kolligte, ’n goeie klankstelsel, ’n super-sterk alarmstelsel, dubbelbatterystelsel en kompressor in die enjinkajuit.
Gelukkig is ek as passer-en-draaier gekwalifiseer en weet ek baie van petrol- en dieselvoertuie. Ek maak maar alles self en installeer dit om geld te spaar, en dit maak die voertuig net meer spesiaal.

Dis toe Geneva-goud gespuitverf – dit trek baie aandag en wys nie eintlik stof en modder nie.

Tot dusver het ek omtrent R30 000 aan ekstras gespandeer. Ek sal Pumbaa nooit kan verkoop nie; daar’s net te veel sweet en herinneringe wat daaraan vasklou.

Wat is ’n gemaklike toersnelheid?
Die ou ry op sy gemaklikste teen 110 km/h – dan is die toere maar min en die V8 spin soos ’n luiperd. Ek het dit nog net een keer op ’n gelyke stuk pad gedruk, en dit het gemaklik tot by 172 km/h gekom.

Die voertuig begin egter onstabiel raak as jy vinniger as 150 km/h ry as gevolg van die groot tekkies en die 2 duim wat hy gelig is, maar wie wil nou jaag as dit so lekker is om die natuur te besigtig?

Teen ’n lang opdraande verloor die V8 perde, maar jy kan dit verstaan omdat hy ’n 3,5  liter-enjin het wat meer as 2  ton trek. Die brandstofverbruik is sowat 6-7 km/liter in die dorp, en 7-7,5 km/liter op die oop pad teen 110 km/h, wat nie te sleg is nie. Ek het eenkeer in ’n winterstorm my broer se karavaan gesleep, en dit het tot by 4 km/liter geval.

Ongelukke?
Een keer moes ek ’n Discovery uit ’n gat sleep – die bestuurder het die grootte van die gat onderskat nadat hy te diep in die bottel gekyk en neus eerste daarin vasgesit het. Ek het die Discovery agter gehaak en hom aan my bosbreker vasgemaak.

Ek sleep hom toe uit – en vra hom om te stop sodra hy uit is, want daar was ’n berg agter my. Hy het egter aanhou vet gee, en in my vasgery. My skade was ’n blik swart verf (R32) om my bosbreker te verf. Sy skade was ’n bietjie meer om sy noodwiel uit sy agterdeur te kry.

Waar was julle al daarmee?
Vandat ek die voertuig besit, het ek al sowat 50 000 km opgesit, en byna die helfte daarvan was op slegte paaie en na afgeleë plekke. Die beste en lekkerste trip was die Bedrogfontein-4×4 naby Addo toe ons gewaarsku is die pad is onbegaanbaar as gevolg van reën en rotsstortings. Pumbaa het die hele roete fluit-fluit gedoen en nie eens daaraan gedink om vas te sit of te breek nie.

Waarvan hou ek nie?
Die elektronika is ’n kopseer, maar ek sal moet leer om daarmee saam te leef. Nie almal kan daarmee werk nie. As iets elektronies breek, kos dit gewoonlik ’n fortuin om te herstel. Spesiale toerusting is nodig om die verskillende komponente te toets, en nie alle werktuigkundiges het dit nie. Dit kan ’n probleem wees as jou voertuig ver van die beskawing begin probleme gee.  

Watter probleme gee dit tipies?
Wel Pumbaa is seker ’n wyfie, want daar gaan nie ’n maand verby dat daar nie ’n druppel olie van die ratkas of die oordragratkas lek nie. ’n Mens leer om daarmee saam te leef, en dis seker een manier om gedurig skoon, vars olie te hê. Ek hou altyd ’n ekstra petrolpomp byderhand.
Ek en die elektronika is glad nie vriende nie. Die Engelse het dit seker laat insit sodat hulle darem die voertuie nou en dan in ’n garage kan sien.

Voorbereidings voor ’n lang reis?
Ons beplan deeglik en vind soveel moontlik uit oor die roete. Ons kyk na die weerpatroon van die omgewing, en hoe dit kan verander ná reën. Pak alles in wat jy dink jy kan nodig kry, en dan pak jy weer alles uit wat jy as ’n nice to have ingesit het. Die voertuig moet darem van sy maag kan opstaan.
Die belangrikste is gereedskap en genoeg brandstof, ingeval jy ’n ompad moet ry. Dieper op in Afrika is petrol nie so volop soos diesel nie, en as jy dit op die swartmark koop, moet jy ’n verband op jou huis uitneem om daarvoor te betaal.

’n Omvattende noodhulptas is ’n moet, en ons s’n het genoeg muskietafweermiddels vir ’n weermag. Hoe verder noord jy ry, hoe groter word hulle.

Waarheen volgende?
Ons beplan ’n trip vir volgende jaar deur Namibië tot in die Caprivistrook, en van daar af sal ons deur Botswana terugry Suid-Afrika toe.

tle="Ysig. Michael en sy Range Rover, op ’n gladde bergpad op pad na die Matroosberg-natuurreservaat naby Ceres. " width="172" height="166">