Pin It

1985 Mercedes-Benz Geländewagen 230 GE


Reuben Heydenrych van Pretoria sê ’n mens moet liewer nie die Mercedes-Benz Geländewagen vergelyk met “daai Engelse voertuig wat homself as die beste 4×4 adverteer” nie – die ouens van die G-Wagenklub gaan aan hul schnapps verstik.

Reuben se eerste “4×4”, ’n Toyota RAV, is só geadverteer: “Dink daaraan as Claudia Schiffer in stapstewels.”
Hy het vinnig agtergekom dis meer Claudia Schiffer as stapstewel en het besluit om
’n régte 4×4 aan te skaf.
En nie sommer ’n hierjy een nie; een van die mees legendariese 4×4’s nóg. Reuben sê op ’n skaal van “melkbaard” tot “hardebaard” bokspring die Geländewagen van die skaal af tot by “bloudraad stekelbaard”. 

Waar kom hulle vandaan?
Die Geländewagen was ’n gesamentlike poging van die Oostenrykse motorvervaar-diger Steyr-Daimler-Puch en Mercedes-Benz om ’n militêre voertuig te bou. Hulle het in 1972 daaraan begin ontwerp, en sewe jaar later is ’n nie-militêre weergawe ook bekend gestel. (Weermagte wêreldwyd gebruik steeds die G-Wagen.)

Hoewel die G-Wagen deur die jare baie verander en luuk-ser binne gemaak is, bly die onstuitbare veldryvermoë en kenmerkende vorm dieselfde.

Daar is heelwat modelle: kort asafstand, lang asafstand, drie deure, vyf deure, diesel, petrol, ens. Ek het ’n 230 GE, ’n kort-asafstandmodel met drie deure en ’n viersilinder-petrolenjin.

G-Wagens is skaars in Suid-Afrika: mense wat weet, sê daar is nie meer as sowat 500 in die land nie.

Die jongste en luuksste G-Wagen-modelle is die rowwer (en duurder) boeties van die Mercedes M-klas, soos die nuutste G55-model (5 liter-V8) waarvoor jy sowat R2 miljoen gaan hoes.

Wat is sy beste eienskappe?
Dis ’n onverskrokke voertuig en gebou vir die taaiste toestande, maar tog is dit gemaklik binne en ry heerlik. Die bougehalte is uitstekend (dieselfde streng spesifikasies geld vir militêre én siviele modelle) en ek weet van ’n hele paar in Suid-Afrika wat meer as ’n halfmiljoen kilometer afgelê het.

Vra gerus die vrou in die Golf wat teen 70 km/h van die kant af in my vasgejaag het oor die G-Wagen se bougehalte: Die Golf is afgeskryf, maar die G-Wagen het rustig voortgery.
 
Waarvan hou jy?
Dit het ’n stewige leerraamonderstel met kronkelvere reg rondom en ry soos ’n droom op die grondpaaie in Namibië. Met sy voorste en agterste ewenaarslotte sal jy nie sommer vasval nie, en boonop is sy grondvryhoogte en naderings- en vertrekhoek uitstekend.

Die kortas-model het ’n klein draaisirkel en kan nóg beter as sy lang-asafstand-boetie oor ’n bult kom. Met só ’n formidabele voertuig kan jy net jouself die skuld gee as jy êrens vassit. Boonop is dit ’n ou voertuig, dus voel ’n mens nie vir hom jammer as jy te naby ’n doringbos verby-skuur nie.

Die meganika is redelik een-voudig en sonder elektronika wat jou in die veld kan laat staan.

Dit gebruik ’n standaard-Mercedes-ratkas en -enjin, en baie onderdele van ’n standaard-passasiersmotor pas op hom.

Sy vorm het basies on-veranderd gebly – selfs al is jou G-Wagen twintig jaar of ouer, is die bakpanele steeds beskikbaar wanneer ’n Golf byvoorbeeld probeer om sy “vorm” te verander.

Die agterste sitplek is wyd genoeg vir drie volwassenes om gerieflik langs mekaar te sit.

Waarvan hou jy nie?
Bo-aan die lys is sy brandstofverbruik. Ongelukkig is sy aërodinamika soos dié van ’n baksteen, en met sy brandstoftenk van 80 liter kan ek net-net 500 km ry. 

Ek is omgewingsbewus en kan moeilik die “gas guzzler”-werklikheid van die voertuig met my gewete vereenselwig. Maar ek troos my daaraan dat my stadskarretjie slegs omtrent ’n derde soveel brandstof per kilometer gebruik.

Sy twee deure maak dit moeilik vir mense om agterin te klim, veral ouer mense. Die agterste sitplek is nogal swaar as ’n mens dit opslaan – kon die ontwerpers nie hier maar ’n bietjie gewig gespaar het nie?

Die enjin het effe min krag vir die voertuig se grootte en gewig (net meer as twee ton). As jy in minder as 15 uur van Pretoria na Kaapstad wil ry, sal dit saak maak, maar as jy hom gebruik waarvoor hy eintlik bedoel is (in die veld en op grondpaaie), is die G-Wagen so bekwaam dat dit glad nie saak maak nie.

Watter probleme gee dit tipies?
Vir ’n voertuig van sy ouderdom verbasend min: In die meer as 80 000 km wat ek al gery het (ek het hom ses jaar gelede met 230 000 km agter die blad gekoop), het hy nog net een keer gaan staan – in die stad toe die tydreëlketting (timing chain) losgekom het.

Modifikasies?
Ek het geen noemenswaardige meganiese veranderinge aangebring nie – ’n mens peuter nie met ’n wenresep nie. Ek het nog net onderdele soos vere wat lam was, laat vervang en ’n vyfspoedratkas laat insit. Ander byvoegings is ’n bekerhouer voor, houtlaaitjies agter om die pakplek beter te benut en ’n rakkie hoog agter vir klein goed soos slaapsakke.

As jy geld gehad het om rond te gooi?
’n Ekstra brandstoftenk sal lekker wees en dalk ’n meer ekonomiese dieselenjin.

Hoeveel kos dit om een te onderhou?
Dit hang af waar jy dit laat diens. As jy een by ’n Mercedes-Benz-handelaar wil laat versien, gaan jy hoes. Kry eerder ’n private werktuigkundige wat G-Wagens of Mercs ken.

Waar was jy al met jou G-Wagen?
Al twee keer in Namibië (o.m. die Naukluft 4×4-roete en Damaraland se agterpaaie), op teen die Drakensberg-plato-rand naby Hoedspruit, die Richtersveld, Namakwaland, Ithala, Lekgalameetse, Baviaans-kloof, die Marakele Nasionale Park, die Drakensbergpasse naby Memel en die Berakah-roete naby Parys.

My lorrie het 300 000 km oorgesteek op pad terug van ons laaste besoek aan Namibië en is nou net lekker ingeloop – daar’s nog baie plekke wat wag. (Hy staan nou op 320 000 km.)

Waar kan ’n mens met hom ry?

Omtrent enige plek waar die helling minder as 45 grade is. Ek vermoed hy is waarskynlik weens sy gewig nie so bekwaam op sand nie, maar ek het nog nooit self in die duine gery nie.

Wat is ’n gemaklike toersnelheid?
Jy kan 100-120 km/h op die snelweg handhaaf, maar nader aan 100 km/h gaan jy heelwat brandstof bespaar.

Brandstofverbruik?

Sowat 16,5 liter/100 km, maar met ’n dakrak en volgelaai klim dit na meer as 18 liter/100 km. Kry dus vir jou ’n paar goeie pêlle (of skoonfamilie soos myne wat hulle lieflik gedra én lekker kos maak) om saam te gaan vakansie hou en brandstof te help betaal.

Hoeveel gaan een my kos?
Ek het myne ses jaar gelede vir R60 000 gekoop. Deesdae gaan jy dubbel soveel betaal. Jy kan natuurlik die fênsie, splinternuwe G55-model teen meer as R2 miljoen aanskaf …

Vir wie sou jy een aanbeveel?
Koop hom as ’n tweede voertuig om ’n paar keer per jaar rustig vakansie te hou op afgeleë plekke met rowwe paaie. As jy ’n motor wil hê wat jou werklik oral kan neem, en nie bereid is om amper ’n halfmiljoen te hoes vir ’n nuwe model wat in elk geval nie ’n beter veldryvermoë het nie, is dit die voertuig vir jou.

Indien dit ’n persoon of bekende was …
Reinhold Messner, die eerste mens wat Everest sonder gebottelde suurstof kon klim (hy het ook al 14 van die wêreld se pieke bo 8 000 m geklim). Hy’s nie aantreklik of vandag se kind nie, maar magtig, hy is taai en hy kán bergklim!